• Tuisblad
  • Mense
  • NTV-persoonlikheid van die week: Iréne-Mari van der Walt

NTV-persoonlikheid van die week: Iréne-Mari van der Walt

Ontmoet vir Iréne-Mari van der Walt, ’n vurige jong joernalis en die aanbieder van Namibia Media Holdings (NMH) se nuwe tienerprogram Blitsfokus.

Blitsfokus is gemik op die Afrikaanssprekende jeug in Namibië. Sy vertel sy wou van die begin af hê dit moet ’n inklusiewe program wees vir alle jongmense in die land – ongeag van ras, agtergrond of geslag.

“Ek sê dikwels vir my mede-aanbieders van die program wat dalk nie soveel selfvertroue het om Afrikaans voor die kamera te praat nie: jy hoef nie te praat asof jy ’n woordeboek ingesluk het nie.

“Ek wil hê die program moet enigiemand se storie kan vertel – of hulle nou suiwer Afrikaans kan praat of nie. Ek wil mense se stories vertel – in Afrikaans.”

Vir Iréne-Mari was dit van die begin af belangrik dat Blitsfokus nie ’n tipiese jeugprogram is nie.

“Ek onthou as tiener het ek jeugprogramme gekyk en hulle almal het daardie tipiese kleurvolle voorkoms gehad en baie neerbuigende taal teenoor kykers gebruik en vir hulle probeer vertel dié is die coolste program op die lug. Dít het my grensloos geïrriteer.”

Sy wil hê die kykers moet hulle eie opinie oor die program kan vorm.

Benewens die voorkoms en konsep het sulke programme volgens haar dikwels ook nie kwessies bespreek wat die jeug werklik raak nie, soos tienerswangerskappe, menstruasie en die stigmas wat daarmee gepaard gaan.

“Selfs minder ernstige onderwerpe soos matriekafskeid is ook iets waaroor tieners wil gesels. Klere, mode – dit maak vir tieners saak. Soms het hulle raad of hulp met dié dinge nodig.

“Ek wou nie hê dit moet net nog ’n program wees waar ons op ’n grasperk gaan rondhardloop en sê ons doen iets vir die jeug nie. Uiteraard wou ek hê Blitsfokus moet volwasse lyk en voel en tieners as volwassenes behandel. Hulle is die toekomstige generasie.

“Dit moet ’n platform wees waar die saadjie geplant kan word sodat hulle hul eie menings kan vorm – oor ernstige én ligter onderwerpe.”

Sy vertel sy moes die program blitsvinnig – binne ’n dag – aanmekaar slaan. Vir vele klink dit dalk onmoontlik, maar sy het dit reggekry.

“Om ’n aanbieder te wees, is vir my iets nuuts. Ek het nog nooit ’n program ten volle in Afrikaans aangebied nie. Dit maak dit effe moeiliker in terme van wie jy as gas op die program kan hê, want nie almal praat Afrikaans nie, of is nie gemaklik genoeg om Afrikaans voor die kamera te praat nie.

“Maar dis ook lekker! Ek het hierdie boksie waarin ek my kreatiwiteit kan laat vloei.”

DAAR IS GEEN HANDBOEK

Volgens haar is daar verskeie organisasies wat die belange van die Afrikaanssprekende jeug op die hart dra, maar baie min word werklik deur jonger mense bestuur.

“Dis moeilik vir ouer mense om vir die jeug te sê hoe hul lewens behoort te wees, want hulle het in ’n ander tyd en wêreld grootgeword. Hulle verstaan nie noodwendig die probleme waarmee die jeug deesdae worstel nie, en daar is nie ’n handboek nie.

“Die wêreld waarin ons tans lewe, is absoluut chaoties. Ek hou daarvan dat ek hierdie ‘boksie’ het in hierdie waansinnige wêreld. Al gee Blitsfokus nie vir hierdie jongmense ’n handboek vir die lewe nie, wil ek vir hulle sê ek weet ook nie wat in die wêreld aangaan nie, en dis oukei. Kom ons probeer saam sin maak hiervan.”

BOEKWURM

Iréne-Mari vertel sy is nog altyd ’n ou siel, wat dit ’n uitdaging maak om ’n Afrikaanse jeugprogram aan te bied.

“Ek moes aanvaar dat ek as jongmens nog steeds ’n volwasse figuur in ander jongmense se lewens kan wees. Ek verstaan die druk van die wêreld, soos dié van sosiale media, en nuuskierigheid oor sekere onderwerpe. So dit is eintlik my voordeel ook. Dat ek ’n veilige hawe vir hierdie mense kan skep.”

Dit bly vir haar ’n uitdaging om haarself in hierdie jongmense se skoene te plaas, maar sy is vasberade om nie moed op te gee nie.

Sy vertel dit vat ook baie selfvertroue om op kamera te verskyn en jouself te aanvaar soos jy daar lyk en klink.

“Dit vat nie baie om op kamera te verskyn en selfversekerd voor te kom nie, maar dit vat baie om regtig selfversekerd te wees. Om weer daarna te kyk en jou stem te hoor en nie net al jou foute raak te sien nie.”

Iréne-Mari is ’n boekwurm wat baie lief is vir lees. Op 20-jarige ouderdom het sy niefiksieboeke ontdek en haar boekversameling groei teen ’n geweldige spoed.

Sy is ook lief vir kosmaak en geniet dit veral om Italiaanse en Chinese disse te maak. Sy het onlangs ’n belangstelling in mode ontwikkel en is al vir ’n geruime tyd geïnteresseerd in skoonheidsonderwerpe soos grimering en velsorg.

WAT IS VOLGENDE?

“Blitsfokus is nog jonk, so ons skaaf en skuur nog aan die konsep.”

Die program se nuwe stel sal binnekort onthul word. Blitsfokus wil baie graag jong leerlinge as aanbieders betrek. As daar dus skoolkinders is wat Afrikaanssprekend is en in Windhoek woon en graag saam met dié program wil werk, kan hulle haar by [email protected] kontak.

“Ek wil baie graag hê jongmense moet oor jongmenskwessies praat. Die wêreld het so baie verander sedert ek ’n tiener was!”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!