Nuusman Daan Steinmann as predikant georden

Redakteur in die week, Sondae op die preekstoel
Die Windhoek-gemeente van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het Sondag 'n nuwe predikant gekry – 'n man wat ewe tuis is in die nuusstoel as op die preekstoel.
Ronelle Rademeyer
Toe die bekende koerantman Daniel (Daan) Steinmann (61) in November 2020 as predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika gelegitimeer is, het hy nie voorsien ’n draaibal in die vorm van ’n kankerdiagnose sou meebring dat hy sy nuwe loopbaan eers vir ’n tyd op ys moet plaas nie.

Dié stigter en redakteur van Namibia Economist is die afgelope Sondag as predikant van die Hervormde Kerk se Windhoek-gemeente georden en het sy intreepreek gelewer.

Dit kon gebeur nadat hy en sy gesin in Julie die wonderlike nuus gekry het dat sy vrou, Retha (59), ná ’n moeisame kankerstryd van 18 maande genees is. Sy is direkteur van die Wetsgenootskap van Namibië (LSN).

“Ons lewe het dramaties verander toe my vrou met kanker gediagnoseer is. Haar gesondheid was die hoofprioriteit, want sy het baie hulp met haar versorging nodig gehad.

“Middel-Julie het ons die goeie tyding gekry dat sy ná twee operasies, chemobehandeling en bestraling genees is. Sy is weer terug op kantoor en ons lewe het genormaliseer.

“Ek het besef die Liewe Heer het sy kant gebring en nou is dit my beurt om vir Hom te werk,” vertel Steinmann.

Ds. Willem Dykema leidende predikant van die Windhoek-gemeente, het Sondag die bevestigingsformulier vir hom voorgelees en hy het voor die gemeente bevestig dat hy hom tot dié formulier verbind.

Daarna het die voorsitter van die kerk se algemene kommissie in Suis-Afrika, dr. André Ungerer, wat spesiaal Windhoek toe gekom het, sy aanstelling gedoen.

“Ek gaan steeds voort met die Namibia Economist, maar naweke preek ek,” sê hy.

Steinmann vertel mense sê dikwels vir hom hy is ’n rolmodel vir jongmense omdat hy so laat in sy lewe ’n nuwe loopbaan aanpak. “Dan sê ek: Nee, ek wil nie ’n rolmodel vir jongmense wees nie, maar vir oumense sodat hulle nie by die huis gaan sit en vrek van slegtigheid ná aftrede nie,” skerts hy.

TEOLOGIE STUDEER

Steinmann het teologie studeer en 36 jaar gelede sy graad daarin verwerf, maar sy kritieke vrae oor rakende bepaalde leerstellinge en aangeleenthede in die kerk het tot sy skorsing gelei.

“Ek is ’n baie kritiese denker en in die apartheidsjare het hulle nie gehou van mense wat die stelsel bevraagteken nie,” het hy in ’n vroeëre onderhoud aan Republikein gesê.

“Dit is so ’n genade dat die Here die 99 skape in die veld gelos het om hierdie een te kom haal,” sê hy en vertel hy het in Oktober 2007 sy pad terug gevind nadat hy vir lank ’n agnostikus was.

Dan vertel hy weer skertsend: “Omdat ek so ’n vuurvreter en ’n beeldestormer is, het André Ungerer vir my gevra of die kerkraad my toegelaat het, en of hulle my losgelaat het.”

Die pad terug na sy geloof was ook nie kort nie.

“Vyftien jaar gelede het ek die pad begin stap. Dit was ’n ommekeer in my lewe. Ek het weer Bybel begin lees. My stiltetyd is nou vanaf 06:00 tot 07:00 elke dag. Op die geloofspad het ek, met die groei van my toewyding om daagliks Bybel te lees, weer my geloof gevind. Met die ommekeer het ’n versagting van my kritiese ingesteldheid gekom.

“Ek is steeds ’n kritiese denker, maar ek laat nie meer toe dat dit tussen my en God kom nie. Om ’n dienaar van die kerk en vir Christus te wees, is belangriker. Ek hou nou ’n wag voor my mond,” sê hy. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer