Olley-egpaar lei glanslewe in Johannesburg

Lykskouing in Windhoek om vergifting te bepaal
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Finansiële verknorsing wat deur die Covid-19-pandemie vererger is, was skynbaar ook ’n rede waarom mnr. Dean Olley (73) en sy vrou, Luella (63), lang tyd bestee het om Saterdag hul laaste lewende ure haarfyn te beplan. Hulle is Sondag dood op hul bed gevind nadat hulle vermoedelik ’n hoë dosis van ’n toksiese middel gedrink het. Dit was nadat hulle eers vroeër die dag hul geliefde hond na ’n veearts geneem het om dit te laat uitsit. Die hond was by hulle op die bed toe hulle gevind is. Die egpaar se kat, wat hulle vermoedelik self uitgesit het, was ook in die kamer. Die Olleys het in Vogelstrand op Swakopmund gewoon. Dié egpaar, wie se spoghuis in Johannesburg al deur die Suid-Afrikaanse leefstylprogram, Top Billing, op televisie vertoon is, was nie Namibiese burgers nie. Dean was ’n Suid-Afrikaner en Luella ’n Brit wat van Cornwall in Engeland kom. Hulle destydse huis in Johannesbrug is deur die argitek Christoff Wipplinger ontwerp om die gevoel te skep van ’n skuur op ‘n Vrystaatse plaas, het Top Billing in die program, A Star is Barn, verduidelik. Dit was gevul met unieke kunswerke en meubels wat die egpaar se energie weerspieël, verduidelik Top Billing in ’n artikel op sy webblad. Die Olleys was die eienaars van ’n konstruksiemaatskappy, Afrores & Trinidad (Pty) Ltd. Husab-myn was een van dié maatskappy se kliënte. Republikein het vertroulik verneem hulle het onder andere die Ontvanger van Inkomste geld geskuld, maar dat Dean se gesondheid nie goed was nie. Hulle finansiële situasie is na verneem word deur die pandemie vererger. Intussen het komm. Nelius Becker, hoof van die polisie se Namibiese polisie se Instituut vir Forensiese Wetenskap, gister by navraag gesê die egpaar se oorskot sal na dié instituut in Windhoek gebring word vir die nadoodse ondersoeke. Hy sê nota’s wat in die huis gevind is, asook die egpaar se rekenaars, sal ook as deel van die ondersoek ontleed word. “Ons vermoed nie gemenespel nie,” het hy gesê. Die Olleys laat ‘n seun agter wat op die Kaaiman-eilande woon. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer