‘Op ’n skip, dis waar ek wil wees’

Jong Namibiër reis die wêreld vol
Retha Knipe werk op een van Virgin Voyages se passasierskepe en is tans besig met haar tweede kontrak.
Kristien Kruger
“Dit voel vir my elke nuwe plek wat ek met die skip ontdek, sê ek vir myself dis ’n plek waarheen ek moet gaan en waar ek meer tyd moet deurbring.”

So vertel die avontuurlustige Namibiër Retha Knipe wat ná haar teaterstudies op Stellenbosch in Maart 2022 by Virgin Voyages aangesluit het en nou die geleentheid gebruik om die wêreld te verken.

“Ek geniet my werk. Die daaglikse lewe is eintlik baie gerieflik en lekker. ’n Groot deel van my werk is om klein ‘setups’ vir musiekgroepe en platejoggies te doen.

Sy meen om op ’n skip te lewe is nie altyd maklik nie, maar dis beslis die moeite werd.

“Ek sal dit vir niks in die wêreld verruil nie. Ek geniet dit vreeslik baie en terselfdertyd sien ek die wêreld. Ek is op die plek waar ek nou wil wees.”

BEGIN

Retha het Teater aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer, met die fokus op teaterbestuur. Ná die einde van haar studies het sy ’n groot liefde vir beligting ontwikkel.

Nadat sy haar studies voltooi het, het sy by al die bekende name in die passasierskip-bedryf begin aansoek doen.

“Ek het nooit van Virgin Voyages geweet nie. Ek het op ’n YouTube-kanaal afgekom waar die meisie oor Virgin Voyages begin praat het.”

Retha het toe aansoek gedoen en hulle het vinnig op haar aansoek gereageer.

“My proses was uniek deurdat ek baie vinnig van hulle gehoor het – binne die eerste 48 uur en ek het ’n video van myself ingestuur.”

In hierdie video het Retha meer oor haarself en haar ervaring vertel en ’n paar weke later het sy ’n telefoniese onderhoud met Virgin Voyages gehad.

In Maart 2022 het sy haar aanbod gekry om op ’n splinternuwe passasierskip, Resilient Lady, te werk.

Nadat Retha haar visums, mediese evaluering en opleidingskursus voltooi het, is sy sak en pak Italië toe.

“Vir die eerste twee weke het ons in ’n hotel gebly en toe ons in die skip intrek, was hulle nog besig om aan haar te werk.”

“Omdat die skip se hoofgang nog nie gebou was nie, was dit ’n lekker manier om al die kortpaaie te leer ken. Ons moes gedurig oor of onderdeur die gang beweeg en daardie klein gangetjies kan baie verwarrend wees,” sê Retha.

Sy vertel hulle was die eerste paar weke redelik bedrywig met goedere wat met ’n hyskraan op die skip gelaai is. Wanneer dit binne was het sy en haar kollegas die items na die verskillende dele van die skip versprei.

“Daarna het ons begin met die ‘show installs’ wat vir my baie lekker was, want dit was meer in lyn met wat ek gestudeer het en wat ek lief is om te doen.”

Dit was egter ’n teleurstelling vir Retha en die res van haar span toe daar aangekondig is dat die skip se amptelike opening met nege maande vertraag is.

Virgin Voyages se Resilient Lady sou in Augustus 2022 amptelik anker lig, maar die opening is tot Mei 2023 uitgestel.

Retha en haar span is toe tussen twee ander Virgin Voyage-skepe verdeel en sy is na die Valient Lady oorgeplaas. Dieselfde skip waarop sy tans werk, hoewel sy intussen baie rondbeweeg het en later wel die geleentheid gekry het om deel van die Resilient Lady se opening te wees.

VAN EUROPA NA DIE VSA

Sy was egter vir tyd en wyl op die Valient Lady waar sy die Mediterreense seisoen voltooi het.

In hierdie tyd het sy Italië, Frankryk en Spanje gesien. Daarna het hulle ’n “crossing” gedoen, soos Retha daarna verwys, en is hulle na Miami in die Verenigde State van Amerika.

“Virgin jaag die somer. Ons hou nie daarvan om in lande te bly waar dit winter is wanneer dit winter is nie, daarom het ons na die Bahamas gekom.

“Dit was weer baie anders. Die skedule het baie verander en die Amerikaanse mark is ’n bietjie anders as die Europese mark, maar dit was alles baie interessant en lekker,” sê Retha.

Sy vertel dat sy toe in Desember die geleentheid gekry het om vir Kersfees terug te kom huis toe.

“Ek was bevoorreg om Kersfees by die huis te kon deurbring ná my eerste kontrak. Ek ken baie mense wat nou al nege of tien jaar op die skepe werk en nog nooit weer Kersfees by die huis deurgebring het nie. Ek is baie dankbaar dat ek dit kon doen.”

Dit was ook die einde van Retha se eerste kontrak by Virgin Voyages.

“Dit was vir my baie interessant om alles in my eerste kontrak te ervaar, van ’n ‘new build’, tot ’n ‘transfer’ en ’crossing’.”

RONDTE TWEE

Retha vertel dat sy met haar tweede kontrak uiteindelik die geleentheid gekry het om na Resilient Lady terug te keer en was by die amptelike opening wat in Mei 2023 plaasgevind het.

“Dit het my beslis baie gehelp dat ek gesien het hoe ’n skip werk voordat ons die skip moes oopmaak. Dit het my insig gegee oor wat ’n mens nodig het en wat op ’n dag-tot-dag-basis moet gebeur.”

Resilient Lady het op haar nooiensvaart onder meer na Griekeland en Kroasië gevaar.

“Dit was weer ’n heel ander ervaring. Dit was baie mooi. Ek dink Kroasië is 10-uit-10 en beslis nog ’n plek waarheen ek weer sal wil gaan.”

“Dubrovnik is beslis ’n plek waar ek bietjie meer tyd wil deurbring. Dit was so mooi en die mense is ongelooflik vriendelik. Dit was lekker warm en nie net omdat dit fisies baie warm was nie, ’n mens het net goed gevoel daar.”

OM DIE WÊRELD

Retha vertel verder van haar besoek aan Dubai waar sy tydens haar tweede kontrak by ’n span daar moes aansluit.

“Ek het die kans gehad om die Burj Khalifa te sien. Dit was ongelooflik. Ons het ’n ‘show’ met die fonteine gekyk en dit was ongelooflik.”

Daarna het sy as deel van haar werk op die skepe na Indië gereis en volgens haar was dit baie mooi al was dit baie warm en by tye bietjie chaoties. Daarna vertel sy dat hulle Thailand en Sri Lanka besoek het.

“Ek het nooit gedink dat ek na hierdie plekke wou gaan nie en toe ons daar kom en ek die geleentheid kry om dit te ervaar, toe besef ek net hoe my kop eintlik gereed was vir daardie nuwe ervarings.”

Retha sê sy is trots op die feit dat sy ’n oopkop, nuuskierige mens is en dat sy nie kon glo dat sy nooit gedink het hoe ongelooflik dit eintlik kon wees om daardie plekke te beleef nie.

Sy vertel verder dat hulle ook Australië toe gereis het en dat sy verbaas was oor hoe koud dit daar was.

“Melbourne was ons tuishawe en dit het soos winter gevoel,” het Retha gesê en bygevoeg dat hulle ook baie reën daar ervaar het, wat veroorsaak het dat die skip se bekende formele geleentheid binnenshuis moes plaasgevind.

“Dit was steeds ’n ongelooflike ervaring. Ek het kangaroes en Tasmaniese duiwels gesien. Ek sal beslis weer teruggaan.”

Nog ’n plek wat vir Retha uitgestaan ​​het tydens haar reise op die skepe was Ibiza.

“Dit was ongelooflik lekker, beide vir uitgaan in die aand en die ongelooflike skoonheid van Ibiza gedurende die dag.

“Ek dink baie mense onderskat Ibiza en dink dis net ’n partytjieplek, maar dit is eintlik ongelooflik ryk aan kultuur as jy net ’n bietjie rondloop deur die dag.

“Ek sal beslis eendag teruggaan en nie net vir die sosiale kultuur nie, maar om dit weer in die dag te kan ervaar,” sê sy.

DIE VOORDEEL

Retha vertel dat sy verlang na die kos by die huis, veral koeksisters, malvapoeding en braaibroodjies. Sy is egter dankbaar vir die geleentheid om by ’n plek te werk wat haar ook die geleentheid bied om die wêreld te sien.

“Ek dink dis ’n groot voordeel – jy sien nie noodwendig soveel van een plek op ’n slag nie, maar jy sien wel waarvan jy meer wil sien.

“Dis die lekkerste manier om uit te vind wat jy op jou volgende vakansie wil doen.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!