Wyle Michael Meyer saam met sy dogter, Dalene. Foto verskaf
Wyle Michael Meyer saam met sy dogter, Dalene. Foto verskaf

Oudpolitikus sterf op 85

Michael Meyer ‘’n oopkop realis’
Een van die stigterslede van die Republikeinse Party is Sondag oorlede.
Iréne-Mari van der Walt
“Ek dink hy het dieselfde vuurdoop as my pa deurgemaak. . . Hy was nou betrokke by die Republikeinse Party. Hy was ’n oopkop realis en objektief. Hy was maar net ’n aangename mens,” sê Henk Mudge, die seun van wyle Dirk Mudge, oor die oudpolitikus Michael Meyer wat Sondag op die ouderdom van 85 oorlede is.

“Hy het my pa voluit ondersteun,” sê Henk.

Michael se dogter, Dalene, vertel haar pa was een van die stigterslede van die Republikeinse Party (RP) en het in die Nasionale Party (NP) as die hoofsekretaris gedien voor die skeuring in die party in die tagtigerjare.

Michael het in 1986 sy politieke loopbaan vaarwel geroep ná hy in 1980 sy seun, Gert, aan die dood afgestaan het. Gert het in sy tweede jaar van diensplig in ’n motorongeluk gesterf.

Hy het daarna die Total-diensstasie in Pionierspark in die hoofstad geopen en was aan die stuur van sake tot hy en sy vrou, Julie, die diensstasie verkoop en afgetree het.

“Hy was die persoon wat straataf sou loop en ’n geselsie aanknoop. Hy het altyd geglimlag – dit het altyd goed met hom gegaan,” sê Dalene.

Sy sê haar pa was streng en is geken vir die brokkies wysheid wat hy gereeld kwytgeraak het.

“Hy het nie baie reëls gehad nie, maar hy was streng op die reëls wat daar was,” sê sy.

Henk sê dat hy beginselvas was.

“Hy was seker waarvoor hy staan én sy beginsels. Hy sou die pak vat as hy moes.”

Dalene vertel dat haar pa in die Outjo-distrik geboer het en hy ’n oneindigende liefde vir ander gehad het.

“Die publiek was geweldig belangrik vir hom. Hy het daarvan gehou om met mense te praat,” sê sy.

Sy onthou Desember-avonture saam met haar pa ná haar gesin oor die feesseisoen besoek aan familie in Pretoria afgelê het.

“Hy het graag gereis. Ons was nooit oorsee nie, maar my pa het Suid-Afrika saam met ons platgetoer. Nadat ons Kersfees by sy familie was, sou hy maklik saam met ons Kaap-om teruggery het huis toe. My pa het nooit ’n plan gehad as dit by vakansies gekom het nie – hy het gedoen wat lekker is,” sê sy.

Meer as 30 jaar ná die verlies van sy seun, het Michael ook ’n dogter, Arina Wessels, in 2013 aan borskanker verloor.

Hy word oorleef deur sy vrou, Julie, drie kinders Dalene, Michael, en Liana Thirion, ’n skoondogter en skoonseun, agt kleinkinders en ses agterkleinkinders.

’n Troosdiens word vandag by die NG Kerk Pionierspark gehou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!