Ouma Maria se hande staan vir niks verkeerd
‘Werk want die nag kom nader’
Ouma Maria Maasdorp van Duineveld het 104 babas en twee van haar eie kinders self gevang.
“Ek het op my eie geboorte aan twee van my seuns in die huis by die veepos gegee. Dit was net ek en my drie oudste kinders by die huis. My man het gaan werk. Ek het gevoel die pyn kom en omdat ek ’n vroedvrou is, het ek geweet die baba is op pad. So wat moes ek doen? Ek kan nie knyp nie!” het ouma Maria Maasdorp (89) van Duineveld gesê.
“Ek was egter baie oulik en het toe die pyn begin het my gare in die naald gesit, die spirits gaan haal, my skêr gesteriliseer en gereed gemaak.
“Ek het vir die oudste dogter gesê sy moet haar suster abba en die ander een vat en die boklammers in die kraal gaan injaag. Ek het geweet dit gaan baie lank vat omdat die boklammers vir hulle sal laat hardloop.
“So terwyl hulle besig was met die boklammers, was ek by die huis besig met my eie boklam. Nadat hy gebore is, het ek hom op my bene neergesit. Ek het die naelstring afgeknip, toegewerk en gewag dat die nageboorte afkom.
“Ek het seker gemaak alles is reg, opgestaan, hom op die bed gesit en ons beide gewas. Toe die ander drie van die veld afkom, het ek met boetie in my arms op hulle gewag. Twee seuns is so gebore en ons is almal tot vandag toe nog hier.”
Ouma Maria in op Stampriet gebore en op negejarige ouderdom het sy bokke en skaap begin oppas.
“My ouers het vir die boere gewerk en ek was nooit in ’n skool nie. Ek het nie eens ’n skool deur ’n venster bygewoon nie. Ek het bokke en skape opgepas en kaalvoet deur die rooi Kalahari-sand geloop. Dis daai ding wat ek sulke groot pote het. Daai tyd het ons nie skoene gehad nie en ons het van boom tot boom vir koelte gehardloop. Ek het al my maandstonde gehad toe ek my eerste paar velskoene van die boer af gekry het. My eerste paar skoene wat ek aangetrek het, was mansvelskoene.”
Ouma Maria het baie hard gewerk. In daardie jare het die boere nie houtpale vir die drade gekoop nie; dit is uit kameeldoringbome gesaag.
“My pa het ’n treksaag gehad en ek het gehelp om die saag te trek en die pale te saag. Ek het van my ma geleer om seep te kook, velle te looi en klere te maak. My ma was ook ’n vroedvrou en sy het mense en kinders gesmeer. Sy het ook alles van die kruie in die veld geweet en my geleer.”
FAMILIE
Ouma Maria is op 21 met haar eerste man op Gobabis getroud en saam het hulle Basterland toe getrek. Sy was twee keer getroud en het 14 kinders.
“My man was soos ’n stoute ram; as jy hom ’n paar mielies gegooi het dan wou die ram net speel. Ons het soos vetkoek gemaak, as die een uit is, is die ander een in. Ons het mos nie van voorbehoed in daai jare geweet nie. Maar ons was gesonde sterk vrouens. Ons het nie die twak of alkohol gebruik nie en net by een man gebly en nie rondgeloop nie. Ons was sterk vroue wat hard gewerk het en nie die woord ledig geken het nie.”
Sy het ook nog drie kinders van oorlede Sidney grootgemaak.
“Die arme bloedjies het niemand meer gehad nie – almal was oorlede. Ek het by die looiery die erf skoongemaak sodat ek geld kon kry en ek vir die kindertjies klere vir hulle aanneming by die kerk kon koop. Hulle was rou toe hulle by my aangekom het. Ek moes hulle doop en laat aanneem. Hulle is soos my kinders en almal het graad 12 klaargemaak.”
VISRIVIER
Ouma Maria het amper in die Visrivier verdrink toe sy agt maande swanger was.
“Een van my bokke het verdwyn en toe ek haar kry, het sy aan die ander kant van die rivier saam met haar lam gestaan. Ek kon haar daar los, sy sou nie verhonger of verkluim nie, maar nou kom die jakkalse.
“Ek wou deur die rivier loop. Die rivier het gate en ek het gegly en in die gat afgesak. Ek het gevoel hoe ek met die boepie verdrink toe die Here vir my ’n gedagte gee.
“Ek het omgedraai en op my maag daar uitgekruip. Toe ek uiteindelik kon asemhaal, het al die water wat ek gesluk het uit my mond gestroom.
“Ek het die bok gekry en op ’n ander plek deur die rivier geloop. Ek het deurgegaan waar ek kon sien dat die water dun is. Die eerste keer het ek mos in die blou water in geneuk en nie geweet dat dit diep is nie. Maar ons almal het veilig by die huis gekom.”
VROEDVROU
Ouma Maria het haar eerste baba in haar twintigerjare gevang.
Dit was ’n noodgeval en die mense het by haar huis aangeklop en om hulp gevra om die baba te vang.
Ouma Maria het nie teruggedeins nie en alles wat sy by haar ma Martha geleer en gesien het, gebruik om haar eerste baba te vang.
“Die volgende dag het ek vir my ’n klein koffer gekoop en hom met naalde, gare, spirits, ’n skêr en lappe uitgerus. Ek het oor die jare 104 babas gevang en dan praat ek nou nie van dies wat ek kliniek of hospitaal toe gestuur het nie.”
Sy het die ma gesmeer en wanneer sy agtergekom het dat die baba verkeerd lê of daar dalk fout is, het sy die ma na die kliniek verwys.
“Daar was baie kere wat ons hier by Duineveld uitgery het en dan kraam die vrou so twee kilometer uit die dorp uit. Dan kom ons maar net terug. Daar het ook een keer ’n vrou gekom en gesê sy gaan by die kliniek op Kalkveld kraam, maar ek moet saamry. Ek het die naald, gare en skêr in my voorskoot gesit en ons is weg. Die baba het gekom terwyl ons by die kliniek vir die suster gewag het.”
Sy onthou ook die baba wat sy langs die pad gevang het en toe die pa weggehardloop het.
“Dit was sy eerste kind en hy was bang. Hy het gehardloop en teen die draad gaan staan. Toe alles klaar was, het ek hom geroep en gesê hy kan sy meisiekind kom ontmoet.”
“My raad aan elke vrou nadat sy gekraam het, was om hulle nie soos jong meide te gedra nie, en om eers ’n bietjie te rus.”
KRUIE
Ouma Maria groei talle medisinale plante soos hoodia, aloe vera en kankerbos in haar tuin wat sy dan gebruik om uit te droog, fyn te maal en na mense se wense en vereistes met veldplante te meng. Sy gaan oes ook veldplante soos ghamagboe (duiwelsklou) in die veld.
“Ek is ’n bloeddruklyer en eet elke dag ’n stukkie gedroogte ghamagboe. Dit is wel bitter, maar dit hou my suiker in toom en dit is nie so bitter soos die blare van die driedoringbossie nie. Daai blare is so bitter soos die hel. As ons maagwerk gehad het as kind, het my ma bossie toe gestap en vir ons die blare gegee om te kou. Ná dit het jy geen maagwerk meer gehad nie.”
“My seun is deur ’n spinnekop gebyt en het antibiotika gekry, maar dit het ontsteek. Ek het ’n bossie uitgegrou en sy wortel in die vuur geskrooi. Dan het ek die wortel met ’n klip fyn gekap en op die wond gesit. Dit was ’n paar dae en vandag sit daar net ’n klein merkie. Ons het nog altyd die medisyne van die veld gebruik as ons iets makeer het.”
WYSE WOORDE
“In vandag se lewe is ledigheid mos die oorkussing van die duiwel; ons het net gedoen en gewerk. My ma se spreekwoord was altyd: Werk want die nag kom nader.
“Werk voor die son ondergaan want dan moet jy rus. Ek maak vandag nog klere en ander goed, al verskil is dat ek nou ’n naaldwerkmasjien het. Ek kook nog boerseep en kan nog babas smeer. Van al die jare se smeerwerk en velle brei, is my hande nou seer en my vingers krom – so ek kan nie meer grootmense smeer nie.”
“Ek het grootgeword in die jare wat die boere stout was en ons gemoker het, maar ek sê dankie want ek het daaruit geleer. Ek glo nog steeds dat kinders wat nie getug word nie iets kort. Vir ons was dit goed gewees en ons het daardeur geleer.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie