Plaaslike sanger gestrand in Mexiko

Woon tans by Delgado en Lühl
Iréne-Mari van der Walt
’n Kort besoek aan Mexikostad vir ’n optrede het in ’n maandlange besoek ontaard vir die operasanger, Galilei Njembo, wat nou geld insamel sodat hy na Namibië kan terugkeer.

Njembo is sedert 23 April in Mexikostad vasgekeer omdat sy paspoort gesteel is. Hy het weke lank gesukkel om ’n noodreisdokument by die Namibiese ambassade in Washington in Amerika te kry en is tans besig om geld in te samel om vir sy vlugte na Namibië en daarna Montreal te betaal.

Hy het reeds vandeesmaand sy gradeplegtigheid in Montreal gemis weens die omstandighede waarin hy hom bevind.

“[Die ambassade in Washington] het gesê dit is moontlik om deur hulle aansoek te doen vir ’n nuwe paspoort, maar hulle het gesê dit kan twee tot drie maande neem, so ek moes toe ’n noodreisdokument kry om terug te gaan Namibië toe,” verduidelik Galilei.

Hy sê hy moes sy uitgawes vir sy verblyf in Mexikostad dek en dat hy inkomste verloor het omdat hy nie na geskeduleerde optredes kon reis nie. Nou soek hy ander metodes om geld in te samel.

“Op die oomblik moet ek nog my huur in Montreal betaal en ek het ook nie genoeg klere nie. Ek dra dieselfde drie of vier uitrustings op ’n roterende basis en die geld wat ek hier bestee om my uitgawes te dek, is in hierdie stadium nie eintlik geld wat ek het nie,” sê hy.

“Ek maak sowat 50 tot 60 persent van my inkomste uit optredes en ek moes hulle almal vir die laaste maand kanselleer omdat ek nie daar kon wees nie,” het hy gesê.

Galilei het probeer om ’n geldinsamelingskonsert in Mexikostad te hou, maar toe hy ernstig siek was op die dag van die konsert, moes hy noodgedwonge die optrede kanselleer.

“Daarna kon ons nie weer ’n gratis venue kry nie,” sê hy.

PASPOORT GESTEEL

Galilei het op 23 April na Mexikostad gereis vir sy optrede en sou vir ’n week daar bly, maar terwyl hy ná sy optrede saam met ’n groep kennisse aandete gaan eet het, is sy rugsak met onder meer sy paspoort en iPad-tabletrekenaar uit die motor gesteel.

Galilei sê hy moet so gou as moontlik na Montreal terugkeer om aansoek te doen vir ’n verlenging van sy studievisum. Hy is in ’n meestersgraadprogram aanvaar, maar sal glad nie toegelaat word om enigsins hierdie studies te begin as sy visum nie uitgereik word nie.

‘EK IS BEVOORREG’

Hy woon tans by die Delgado-Lühl-egpaar in Mexikostad.

Die Namibiër Phillip Lühl en sy Mexikaanse man, Guillermo Delgado, het net minder as ’n jaar gelede na Mexiko verhuis nadat die hooggeregshof ’n historiese uitspraak gelewer het wat bevind het dat Guillermo wel geregtig was op verblyf in Namibië in terme van sy huwelik met Lühl, wat in die buiteland voltrek is.

“Hulle het nie onder maklike omstandighede in Mexikostad aangekom nie. Hulle bou steeds aan hul lewens hier.

“Hulle kan wel bekostig om vir my ’n dak oor my kop en drie maaltye per dag te voorsien, maar hulle kan nie bekostig om my vir ’n onbepaalde tyd te onderhou nie,” sê hy.

Galilei beskou homself as bevoorreg om iemand in Mexikostad te ken.

“Maar wat as dit iemand anders was? As dit iemand was wat niemand hier ken nie, hoe sou hulle dit maak?”

VRA SOWAT N$82 000

Galilei probeer tans CA$6 000 (sowat N$82 000) insamel, waarvan die helfte vir sy vlugte na Namibië en Montreal sal betaal.

Die res hoop hy sal hom help om die inhoud van sy gesteelde rugsak, soos die tabletrekenaar wat hy vir werk gebruik het, te vervang en die verlies aan sy inkomste aan te vul totdat hy weer op die been kan kom in Montreal.

“Dit gaan nie noodwendig daaroor dat een persoon die hele bedrag moet skenk nie, maar dat elke persoon CA$5 (sowat N$70) kan skenk,” sê Galilei.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!