QSB se droom leef voort
“Dié tyd van die jaar, as die kamp begin, kom herinneringe van ’n legende terug. ’n Korter lewe gegun, maar soveel vermag en geïnspireer. Hy laat ’n weergalose nalatenskap.”
So sê die jarelange vriend van die wyle Quinton-Steele Botes, Malan Kruger, oor Botes en die atletiek-oefenkamp wat Botes in 1993 begin het en môre weer afskop.
Botes is in 2014 op die ouderdom van 54 oorlede ná ’n lang stryd teen kanker. Ná sy afsterwe is die jaarlikse atletiekkamp na hom vernoem en staan dit nou bekend as die Quinton-Steele Botes Atletiek-oefenkamp.
Iemand wat ook ’n lang pad saam Botes geloop het, is Leoni van Rensburg. Dié twee het in die 80’s saam onder Kruger se afrigting geoefen en sy het later jare by die atletiekklub aangesluit wat Botes en Hawie Engels gestig het – die Windhoek Hochland Sportklub. Sy en Botes het vanaf 1993 begin saamwerk aan verskeie projekte.
“Ek het baie by hom geleer en hy het vir my baie deure oopgemaak en geleenthede gegee. Ons het baie ure saamgewerk by skole, ATKV-funksies, danse, strand-aktiwiteite en vele meer.”
Van Rensburg vertel Botes was ’n lopende ensiklopedie met ’n breë kennis van sport, beserings en organisering.
“Hy was ’n inspirasie en uitstekende motiveerder. Dit was vir my ’n voorreg om saam met hom te kon werk.”
Volgens Kruger het hy en Botes ’n vriendskap van 30 jaar gehad en het hulle saam studeer, rugby gespeel, aan atletiek deelgeneem en saam getoer.
“Vir my was hy net Steele en vir hom was ek Mags. Hy was so talentvol, flambojant en joviaal. Tot ons weer ontmoet – as Steele en Mags.”
BOTES SE DROOM
Botes het die oefenkamp begin met die oog daarop om onderwysers voor te berei vir die atletiekseisoen wat voorlê.
Kruger en Van Rensburg was van die afrigters wat by die eerste kamp betrokke was saam met Botes, Bennie Schlechter, Aletta Hess en Hannes von Holtz.
Sowat 25 onderwysers het die eerste kamp by WHS se Vegkopstadion bygewoon.
Daarna is die besluit geneem om onderwysers en kinders na die volgende kamp uit te nooi en afrigters vanuit die buiteland in te bring. Dit was vir die eerste keer by die Onafhanklikheidstadion aangebied en sowat 180 atlete, onderwysers en ouers het dit bygewoon.
Die kamp het sedertdien geweldig gegroei en lok oor die afgelope jare meer as 20 afrigters en 300 deelnemers.
Van Rensburg het ná Botes se afsterwe by hom oorgeneem en hou aan om die oefenkamp elke jaar te organiseer.
“Ná Quinton oorlede is, het die gesin tong-in-die-kies gesê ek kan maar die atletiek erf,” vertel sy.
Volgens van Rensburg reël sy die kamp elke jaar met passie omdat sy en Botes dieselfde droom gehad het – om atletiek in Namibië lewendig te hou.
“Om met die oefenkamp te kan voortgaan is vir my ’n plesier en ’n voorreg en ek weet dit was een van die hoogtepunte in sy lewe en dit is ook my passie. Ek is trots om te sien hoe die kamp steeds groei en voortleef en dat daar nog borge in ons span is om die goeie werk voort te sit,” sê Van Rensburg.
SUKSESSTORIES
Vele talentvolle atlete het oor die jare die kamp bygewoon insluitend Roger Haitengi, Vincent van Rooyen, Veranis Kamati en natuurlik die steratleet Beatrice Masilingi.
Masilingi, wat in ’n landelike gebied in Rundu grootgeword het, is in 2018 as ’n belowende atleet geïdentifiseer en na die 2019 QSB-kamp genooi. Ná talle suksesse as jong atleet was Masilingi in 2020 die derde vinnigste vrou ter wêreld in die 400 m-wedloop en die vinnigste vrou in Afrika in dié item.
Wêreldklasafrigters was ook al betrokke by die kamp wat name soos Hugo Badenhorst, Steve Rautenbach, Jonathan Greyvenstein en Magda Botha insluit.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie