'Renostervanger' Polla gegroet
Henriette Lamprecht - Die ses maande oue renosterkalfie wat hy aan die agterbeen gegryp en met sy kaal hande gevang het, sou aan hom die gepaste titel van “renostervanger” besorg en vir vele jare sou hy letterlik en figuurlik diep spore in die omgewing en bewaring van sy geliefde Namibië trap.
Polla Swart, buiten legendariese natuurbewaarder ook rugbykaptein van die destydse Suidwes-Afrika, is Saterdag in die ouderdom van 87 jaar oorlede. Sy loopbaan met vele eerstes vir die land en ook sy lewe was net so kleurvol en vol humor soos sy stories immers was.
As een van sewe kinders is Polla danksy sy pa se boerdery reeds van kindsbeen aan die natuur blootgestel. In 1957 begin hy in die myn op Tsumeb werk. Nadat vriende by hom kom kuier en vertel hoe lekker dit is om te studeer, besluit Polla hy wil ook ’n student wees en klim op ’n trein Stellenbosch toe sonder om te weet wat sy studierigting sou wees.
Hy besluit uiteindelik op BSc Sportwetenskap en verwerf ook ’n diploma in hoër onderwys. Vir sakgeld werk hy in die myn op Tsumeb waar hy ook sy vrou, Chrija, sou ontmoet.
Hy sou uiteindelik ook ’n honneursgraad en ’n meestersgraad verwerf. In Januarie 1965 val hy in as bioloog by die staatsmuseum in Windhoek en begin dadelik ’n studie oor die beskermde swartneus-rooibok van die Kunene. Sy indrukwekkende bevindinge lei tot sy aanstelling as adjunkdirekteur van natuurbewaring in 1966 en drie jaar later word hy hoof van die navorsingsafdeling.
Een van sy inisiatiewe is die eerste wetenskaplike joernaal vir natuurbewaring, Madoqua, ’n gesogte publikasie wat later in sowat 40 lande versprei is. In die jare wat volg is Polla instrumenteel in die stigting van drie navorsingstasies, naamlik die Etosha Ekologiese Instituut in Okaukaujo (1974), die Namib Navorsingsinstituut in Gobabeb (1975) en die Hardap Varswater-visnavorsingsinstituut (1978).
Daar is weinig dele en van wildsbok tot plato waar Polla nie op welke manier ook al betrokke was om dit uiteindelik vir geslagte ná hom te bewaar nie. In die 1970’s is verskeie natuurbeskermingsgebiede onder sy inisiatief geproklameer en waaronder die Waterberg Plato- en Skedelkuspark. Die plaas Hobas naby die Visrivier-spoelvallei is as uitkykpunt vir toeriste en die Duwasib-kasteel met sy besonderse historiese versamelings gekoop. Die Fort Namutoni is opgeknap en die Namib-Naukluft Nasionale Park is danksy die aankoop van nog plase vergroot. Die Diamant 2-gebied is met uitsluiting van ’n klein gedeelte in die Suide deelgemaak van die park om dit tot 5 000 000 hektaar, die vierde grootste park in die wêreld, te vergroot. Weer eens danksy Polla se aanbevelings sou van Namibië se gewildste toerismebestemmings en mooiste natuurskoon en waaronder die Popa Valle-natuurreservaat asook die Mahango-, Kaudom-, Mamili- en Muduma-parke gevestig word.
Getrou aan sy mantel as renostervanger, was hy onder meer tussen 1970 en 1972 betrokke by die vang en verskuiwing van swartrenosters na die Etosha Nasionale Park. In 1989 en nadat 16 swartrenosters in die park en ook Damaraland gestroop is, sou Polla ook betrokke wees by die onthoring van renosters.
Nadat hy op 1 Januarie 1983 direkteur van natuurbewaring geword het, tree hy uiteindelik op 30 April 1996 af.
Hy word deur sy drie dogters, skoonseuns en kleinseuns oorleef en word Donderdag om 10:00 uit die Gereformeerde Kerk-Suid (Deo Gloria) in Schlettweinstraat in Pionierspark gegroet.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie