Dani Booysen, Republikein se redakteur van die afgelope nege jaar. Foto Tanja Bause
Dani Booysen, Republikein se redakteur van die afgelope nege jaar. Foto Tanja Bause

Republikein groet sy redakteur

Ná 20 jaar as joernalis en meer as nege jaar in die redakteurstoel van Republikein, neem Namibia Media Holdings (NMH) vandag van Dani Booysen (51) in dié hoedanigheid afskeid.

Hy sal voortaan op ’n deeltydse grondslag betrokke wees as aanbieder van Kletskompas en moontlik ook ander NTV-programme en sal steeds naweke as sportkommentator tydens regstreekse sportuitsendings agter die mikrofoon inskuif.

Booysen sal ook betrokke wees by opleiding en stelselimplementering by NMH.

“Dani se rol as redakteur van Republikein was meer as net die persoon in beheer van een van drie Afrikaanse dagblae in die wêreld. Hy was ’n kampvegter vir diversiteit in Namibië en nie net taal-diversiteit nie.

“Hy het ook seker gemaak dat die diverse belangstelling in alles van skole, onderwys, sport, kultuur, toerisme en die stem van die platteland en veral sy mense, gehoor word,” sê mnr. Albe Botha, uitvoerende hoof van NMH.

“Dani het altyd seker gemaak almal word gehoor en dat Republikein die stem is vir almal in die land. Hy gaan steeds ’n rol speel binne media en NMH met Kletskompas, opleiding, sport en ’n nuwe weeklikse TV-program, Namibië en sy mense, wat in Februarie 2023 begin.

“Hy sal voortbou daaraan om die stem van die mense te wees op sosiale media en NTV,” sê Botha.

“Dankie Dani dat ek ’n deel van jou lewe by die Republikein kon deel. Mag ons NTV op dieselfde vlak kry met jou hulp.”

Booysen, wat vir bykans agt jaar ’n onderwyser was voordat hy die pen by Republikein opgeneem het, sê dit was ’n voorreg om deel te wees van twee dekades waarin gedrukte media dramatiese verandering ondergaan het.

“Dit het geskied met die ontginning van bykomende platforms om stories te vertel en kliënte te bedien. Ek het in die proses ongelooflik baie geleer,” sê Booysen.

“Ek sê baie dankie vir my span en die bestuur se ondersteuning. Dankie ook aan elkeen saam met wie ek oor die jare kon werk. Ook elke leser, bron en nuusmaker wat ek op my loopbaanpad ontmoet het.

“Ek is trots om te sê dat ek iets by almal geleer het – nie net die grotes soos die Des Erasmusse en die Jacobies van die mediabedryf nie.

“Republikein sal altyd voortbestaan as een van die belangrike stemme van Afrikaans in Namibië. En verander, sal ons aanhou verander, soos die wêreld en nuwe se geslagte se behoeftes ontwikkel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 18° | 31° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 16° | 24° Omaruru: 18° | 25° Windhoek: 18° | 24° Gobabis: 20° | 30° Henties Bay: 18° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 26° Mariental: 20° | 29° Keetmanshoop: 21° | 27° Aranos: 21° | 31° Lüderitz: 17° | 25° Ariamsvlei: 23° | 31° Oranjemund: 17° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 19° | 31° Maseru: 19° | 31° Antananarivo: 16° | 30° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 24° | 38° Windhoek: 18° | 24° Cape Town: 18° | 25° Durban: 24° | 35° Johannesburg: 19° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 20° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!