Roomys tot by jou voorstoep
Walvisbaaiers wat in die Meersig-woonbuurt woon, het seker al vir Stefan Goosen (15) op sy rooi roomyskarretjie gesien en dalk ook al ’n roomys by hom gekoop.
Stefan het in 2021 met sy besigheid Flamingo Ice Creams begin.
“Wie hou nou nie van roomys nie? Ek het altyd ’n bietjie ekstra geld nodig gehad, dis nou bo en behalwe my sakgeld. Ek hou ook van mense en gesels en dié twee gaan hand aan hand. Terwyl hulle ’n roomys kies, gesels ons lekker,” het hy gesê.
Stefan het besluit om sy besigheid Flamingo Ice Cream te doop aangesien flaminke volop in die dorp voorkom en die voëls eg aan Walvisbaai is.
“Ek het my besigheid met ’n bietjie van my eie sakgeld begin en ’n bietjie by my ouers geleen. Heel aan die begin het familievriende ’n tweewiel-roomyskar vir my gegee wat ek moes stoot.
“Dit was egter redelik onprakties want ek kon nie vinnig genoeg by die plekke uitkom waar ek verkoop het nie en die roomys het gesmelt.”
Sy pa het toe die idee gekry om die dit aan sy fiets te haak sodat hy vinniger kan beweeg.
“Dit het goed gewerk, maar dit was nie ’n roomyskar nie. My ouers het my vertel van die roomyskarretjies toe hulle nog kinders was.
“Ek het besluit om my eie karretjie te bou. Ek en my pa het die idee gehad om my fiets en die roomyskar bymekaar te sit. Ek het die planne gehad en my pa was bereid om dit te bou.
“Ek het ’n tweedehandse fiets met my roomysgeld gekoop. My pa het dit in twee gesny en die fiets en roomysstootwa aanmekaar gesit.”
Stefan gebruik elke maand die geld wat hy verdien om nuwe voorraad aan te koop en om sy karretjie in stand en netjies te hou.
“As ek iets baie graag wil hê, sal ek dit soms vir myself koop. Wanneer ek by die huis aankom ná my verkope, sal ek my kleingeld uithaal en my wins vir die volgende voorraad en ’n klein bietjie vir myself bêre. ”
Hy verkoop net in Meersig omdat die roomys dan nie so vinnig smelt nie.
“Ek hou daarvan om mense te ontmoet en met hulle te gesels. Dit is lekker om te sien hoe mense roomys waardeer en ek bring dit na hulle voorstoep. My hoogtepunt met die besigheid sover was die dag toe tannie Carien my op Facebook geplaas het.”
Hy wil aanhou om mense te laat glimlag en hoop dat hy dalk in die toekoms nog een roomyskar of drie op die pad kan hê.
Sy raad aan ’n ieder en ’n elk is om elke oomblik van elke dag te geniet, omdat die lewe kort is.
“Laat mense glimlag, wees die beste weergawe van jouself. Wees altyd dankbaar vir God en vir wat Hy vir jou doen en glo dat jy enige iets kan doen.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie