Die vier souse word tans deur Roots in Stampriet gemaak en verkoop. Dies wat soos dinamiet lyk is dieselfde souse net verpak en gemaak vir die Franse mark. Foto verskaf
Die vier souse word tans deur Roots in Stampriet gemaak en verkoop. Dies wat soos dinamiet lyk is dieselfde souse net verpak en gemaak vir die Franse mark. Foto verskaf

Roots se brandsouse beïndruk Franse

Tanja Bause
Aan die begin van Desember verlede jaar is 30 000 bottels brandsouse Frankryk toe gestuur.

Dit is die eerste besending van ’n bestelling van 200 000 bottels.

In verlede jaar se besending was daar 10 000 elk van die cayenne-, jalapeno- en habanerosouse.

Die brandrissies word by Roots op Stampriet gegroei, geoes en verwerk.

Roots het agt jaar gelede met ’n droom van Johan Rieckert begin.

“Sy droom was dat Namibië onafhanklik sal word wat voedselsekuriteit betref. Ons voer meeste van ons kos in en so gaan die geld uit die land uit. Dit is hier waar Roots Namibia ’n verskil wil maak en besig is om te maak. Deur die Roots-projek is daar al soveel werksgeleenthede in die Stampriet-omgewing geskep,” het Theresa Greeff, die hoof van bemarking en verkope by Roots, gesê.

Gedurende Covid-19 is verskillende soorte brandrissies op Roots geoes en Johan het hulle na Anneke Jacobs gevat en gevra of sy iets daarmee kan maak.

“Anneke het baie tyd op haar hande gehad en haarself met die brandrissies en die maak van souse besig gehou. Saam met Johan het hulle die souse dan verfyn en aangepas tot dit wat ons vandag Frankryk toe uitvoer.”

Theresa vertel dat ’n besoeker aan Roots die souse geproe het en baie daarmee beïndruk was.

“Hy het gesê dat daar ’n reusemark in Frankryk is en 200 000 bottels bestel waarvan die eerste besending in Desember weg is en hulle verkoop soos soetkoek.”

Die volgende 30 000 bottels is amper gereed en hulle sal aan die einde van Maart gestuur word. Dan volg die volgende besending in Junie, totdat die hele bestelling afgelewer is.

“By die besending wat volgende keer gestuur word, voeg ons die Creamy Chilli-sous by. So dan stuur ons vier verskillende souse en dit gaan ons elke keer doen – soos ’n nuwe sous gemaak, beproef en verfyn is – word dit by die besending gevoeg.”

Roots kyk tans ook na die Suid-Afrikaanse en Kanadese mark vir uitvoer.

“Ons appels en druiwe word ook versap en hulle sal binnekort op die Namibiese winkelrakke wees. Ons souse en tamatiesous sal ook binnekort beskikbaar wees. Hulle is tans by Roots op Stampriet beskikbaar.”

Vir verdere inligting of navrae kan Theresa by 081 277 4732 gekontak word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer