Rus sag, Koos Cunene
‘Met sy oë na die heilige berg gerig’
Koos Verwey is een van slegs drie buitestanders wat volgens Himba-tradisie begrawe is.
Meer as 500 Himbas van oraloor die Kunenestreek het Donderdag by ’n nedersetting net voor Epupa bymekaargekom om afskeid van wyle Koos Cunene Verwey te neem.
Honderde mense het op Opuwo langs die hoofpad in ’n erewag gestaan terwyl sy liggaam na Epupa vervoer is.
Sy liggaam is op Epupa onder begeleiding van dansende mans na Koos se Epupa Lodge geneem waar die vroue hulle singend ingewag het.
Sy kis is daarna na die Himba-nedersetting ’n entjie verder geneem waar honderde Himbas ’n nagwaak gehou het.
Toesprake is die volgende oggend gehou voordat sy liggaam na die plek – wat hy self uitgekies het – geneem is om te ruste gelê te word.
Dan Mutambo, ’n Himba van die Epupa-omgewing, sê Koos het dié spesifieke plek gekies omdat dit is waar sy vriend, hoofman Karjirua Mbasekama, se nedersetting geleë is.
“Hulle was baie goeie vriende en Koos wou naby aan Mbasekama se nedersetting en sy familielede se grafte wees. Hy lê ook met sy oë na die heilige berg gerig, wat hy nou kan dophou.”
Dan vertel ook dat Koos die eerste wit man is wat in Epupa volgens die Himba-tradisie begrawe word.
Chris Eyre is in 2015 op Otjivero in die Marienfluss-bewaringsgebied en Garth Owen-Smith in 2020 op ’n koppie bo die Wêreldsend-kamp op dieselfde manier begrawe.
“Koos het al die Himba-begrafnisse bygewoon en hy was die eerste wit man wat die Himba as gelykes behandel het. Hy het ons gerespekteer en ons vir hom. Die mans het die ombibi-dans uitgevoer terwyl hulle agter of voor sy kis geloop het. Dié spesifieke dans word slegs vir die dapperste en geliefdes soos Koos uitgevoer.”
Die Epupa Lodge se werknemers het in hulle huldeblyk gesê hy was ’n streng maar liefdevolle werkgewer en ook ’n pa-figuur.
“Hy was ֹ’n mens wat vir almal omgegee het en wat bereid was om almal te help – al kon hy nie altyd nie. Ons almal weet hy het ’n baie kort humeur gehad, maar dat hy ook net so vinnig weer kon kalmeer. Hy was ons rolmodel, ons skouer om op te huil en ons pa wat ons vertroos het. Wanneer hy van ’n toer af terug huis toe gekom het, het hy ons almal met ’n stywe drukkie kom groet.”
Mutambo, een van hoofman Kapika se broers, het gesê Koos het nooit onderskeid getref tussen ’n Himba en enige ander mense nie, almal was gelyk.
“Ons wil die familie bedank dat hulle ons met sy liggaam vertrou. Dat hulle toelaat dat ons hom volgens ons tradisie hier by ons kan begrawe,” het hy gesê.
Die toergids, sakeman en politikus, Western Muharukua, sê Koos het hom gevorm en ’n beter mens gemaak. Hy is een van 15 toergidse wat tans – te danke aan Koos – toeriste in Epupa en omgewing kan rondwys.
“Ek is ’n opgeleide toergids en het baie van Koos self geleer en saam met hom die berge, rivier en die hele Kunenestreek verken. Hy het my oë vir die toerismebedryf oopgemaak en vandag is ek die eienaar van ’n lodge en kampeerplek op Opuwo. Ek is ook die streekraadslid vir die Opuwo landelike kiesafdeling.”
“Hy het my lewe verander en is sy produk en sy nalatenskap sal nooit vergeet word nie. Ek eet die vrugte wat hy geplant het, my kinders sal voordeel trek uit die sade wat hy geplant het en hulle kinders ook.”
Almal het hom beskryf as ’n man wat nooit hulp aan iemand geweier het nie, ’n filantroop en ’n oupa-figuur.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie