Saluut, groot arend

Otjiwarongo se Theo Borstlap begrawe
Honderde mense het die afgelope naweek Theo Borslap se begrafnis bygewoon – 'n geliefde inwoner en weldoener, sterk sakeman en eienaar van Theo's Superspar op die dorp.
Elvira Hattingh
“Corlia en familie, ek kom vandag na julle met die liefde en meegevoel van meer as 40 000 inwoners van Otjiwarongo, wat sáám met julle rou in hierdie moeilike tyd.”

Dit was die woorde van Otjiwarongo se burgemeester, Gotlieb Shivute, waar honderde mense Vrydag vir Theo Borstlap op die dorp se Paresis-stadion gegroet het.

Theo, ’n geliefde inwoner en weldoener, sterk sakeman en eienaar van Theo’s Superspar, se roudiens is deur prominente persoonlikhede bygewoon, wat insluit Namibië se visepresident, Nangolo Mbumba, asook plaaslike en Suid-Afrikaanse landsbestuurders van die Spar-winkelgroep.

Tydens die diens is hy beskryf as iemand wat alle mense liefgehad het, diep gelowig was en besonders toegewyd aan sy gesin en in besonder sy geliefde vrou, Corlia, was.

Shivute het Theo se sterk ondersteuning aan die gemeenskap herroep, wat maandelikse finansiële ondersteuning aan kwesbare kinders en die veeldoelige sentrum op die dorp ingesluit het.

Ds. Fourie van den Berg het Theo vergelyk met ’n arend.

“Niks kon hom ooit onderkry nie en hy het baie mense weer op hul voete gehelp. Hy was legendaries.”

Die 68-jarige Borstlap laat sy vrou, sy seun Reheul, sy dogters Marné Burger en Bernice Celliers en 11 kleinkinders agter. Ook sy moeder Pat, sy susters Tricia van der Walt, Lientjie Roux en Kitty van Wyk en sy ouer broer Chris.

Tydens sy teraardebestelling is daar ook die credo vir soldate voorgelees en sy militêre medaljes is aan sy seun oorhandig.

AGTERGROND

Tydens sy roudiens het sy oudste suster Tricia gesê haar broer was ’n Namibiër in murg en been, wat op Otjiwarongo op die plaas Omatjenne grootgeword en skoolgegaan het. Op skool was hy ’n kranige atleet en uitstekende rugbyspeler.

Daarna het hy ’n kwalifikasie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en ’n suksesvolle weermagloopbaan in Suid-Afrika gelei, waar hy met die Suiderkruis-medalje vir buitengewone, voortreflike diens vereer is.

Hy en Corlia het in Saldanha vir die eerste keer huis opgesit en hul seun is daar gebore. Theo was egter ook ’n vernuftige sakeman en het aanvanklik Theo’s Minimark op Otjiwarongo geopen, wat later ontwikkel is tot ’n Superspar van wêreldgehalte.

“Hier kon hy sy passie vir die handel uitleef en mildelik terugploeg in die gemeenskap,” het sy gesê.

Sy het Theo ook as ’n “godsman” beskryf, wat konvensionele godsdienstige gebruike uitgedaag het en nie geskroom het om sy geloofsoortuigings te deel nie. Daarbenewens onthou hulle hom as ’n ondeunde broer wat baie liefde aan hulle bewys het.

“Theo, jy sal vir ons ’n legende bly en jou impak op ons lewens was besonders,” het Tricia gesê.

Sy dogter Marné het in ’n gebed die Here bedank vir ’n pa, wat ’n goeie lewe gelei het, elke dag liefgehad het, opreg, passievol en hardwerkend was, ander gedien en alle mense liefgehad het.

“Mamma het altyd gesê toe sy pappa se hande gesien het, het sy geweet dat hy eendag die pa van haar kinders gaan wees. Deur daardie hande het ons elke dag sy liefde ervaar, met daai hande het hy ons beskerm, ons geseën, vir ons voorsien, getroos, ons kinders vasgehou, gespeel en geleer.

“Dankie Here, dat U sy hande geseën het, hande wat nooit toe was vir enige iemand nie! Hoe lief het ons nie daai hande gehad nie!”

Theo het onlangs ernstige brandwonde opgedoen toe hy petrol op ’n miershoop op sy kleinhoewe uitgegooi het, wat tot by ’n geëlektrifiseerde heining gevloei het en op die een of ander manier vlamgevat het. Hy is voor sy dood in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel en het veloorplantings op sy arms ontvang, maar is op 6 Junie oorlede toe sy hart gaan staan het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!