Sampioenkoekies is hier om te bly

Boer met vier verskillende variëteite
Van kindsbeen af het sampioene en die kweek daarvan vir Abner gefassineer.
Tanja Bause
“Ek maak sampioenkoekies. Die koekies is gebaseer op ’n gemmerkoekieresep, maar omdat ek met sampioene boer, het ek besluit om die resep aan te pas en die koekies met sampioene te maak.

“Ek het dit in my kombuis gemaak en tot my verrassing het dit perfek uitgekom en proe baie lekker. Ek kan amper nie voorbly om die koekies te maak nie,” het Abner Ndakalako Tomas (30) van Ndaka Mushrooms and Processing op Oniipa in die Oshikotostreek gesê.

Abner is in Onethindi op Oniipa gebore en het daar grootgeword en skoolgegaan voordat hy aan die Universiteit van Namibië (Unam) sy meestersgraad in voedselmikrobiologie verwerf het.

“Ná universiteit het ek vir die Nasionale Instituut vir Patologie (NIP) as ’n satellietlaboratoriumassistent by die Namibië Bevolkingsgebaseerde MIV-impakbepalingsopname (Namphia) in 2017 gewerk voordat ek Ndaka Mushrooms and Processing in Augustus 2020 begin het.”

SAMPIOENE

Gedurende die reënseisoen groei ’n verskeidenheid wilde sampioene landswyd.

“Ons het altyd sampioene soos omajova, !naba, kakalahambo en oshaamuya in die veld versamel of langs die pad of markte gekoop. Die sampioene word onder toesig van ouer en ervare mense soos ’n ma of antie gedoen, maar baie van hulle word gekoop.”

Volgens Abner het hy passievol geraak oor sampioene en om met sampioene te boer.

“Daar is min plaaslik geproduseerde vars sampioene of produkte landswyd beskikbaar en dit is hoekom ek my besigheid begin het. Ek kweek oester-, shiitake-, knopie (button)- en reishi-sampioene. Ek verkoop die sampioene vars, maar ek droog dit ook uit. Ek maak sampioenpoeier, -sop en natuurlik die koekies.”

“Sampioenkoekies word met sampioenpoeier as hoofbestanddeel gemaak. Die koekies is watertandlekker; dit bevat minder suiker en het beduidende hoër vlakke van proteïene, vesel, vitamiene en is ook laag in vet en cholesterol.”

Hy verkoop ook beginnerspakkette om sampioene te groei, soos sampioensade en gereed-om-te-groei-sampioenkweekstelle.

Abner verskaf ook praktiese opleiding vir die verbouing van sampioene en verwante dienste. Deur die gebruik van plaaslik beskikbare landbou-, bosbou- en byprodukte; en om bekostigbare, voedsame, organiese sowel as gehalte- sampioenprodukte en -dienste te vervaardig, word volhoubare boerderypraktyke bewerkstellig.

“Ek het as kind baie van die Kalahari-truffel of !naba gehou, maar nou hou ek van die oestersampioen. Dit is voedsaam en het medisinale voordele met ’n delikate tekstuur en ’n sweempie seekosgeur. Ek berei dit gewoonlik saam met hoender of as ’n sous op rys en pasta voor. Deesdae berei ek oestersampioenpoeier voor vir my oggendtee saam met beskuitjies.”

Volgens hom word die wilde sampioene gewoonlik met hoender, vleis of bone gaargemaak.

“Die ganoderma-sampioene word in warm water gesit, wat as tradisionele medisyne gedrink word om verskeie infeksies te behandel.”

HOOGTEPUNTE

“’n Hoogtepunt is om Ndaka Mushrooms and Processing met ses werknemers te kon begin. Ek is dankbaar om met sampioenverbouing voedselsekerheid, die generering van inkomste en werksgeleenthede vir my span te bevorder.

“Ek is ook dankbaar vir Sanlam Namibia, Old Mutual Namibia en die Nasionale Jeugraad se borgskappe wat ons werklik gehelp het om ons produksie van 2 kg vars sampioene per week tot meer as 15 kg per week te laat groei.

“En om my sampioenprodukte in kleinhandelwinkels soos OK Foods op Ongwediva te sien en aan plaaslike markgeleenthede soos Buy Local, Grow Namibia Fair deel te neem, motiveer my om voort te gaan om Ndaka Mushrooms and Processing uit te brei.”

RAAD

“Begin eers met die bietjie wat jy het, in die dorp of stad waar die gemeenskap jou goed ken voordat jy uitbrei. Verder vermy die versoeking om politieke invloed te gebruik om jou besigheid se groei te bevorder. Dit is nie volhoubaar of goeie entrepreneurskap nie, daarom moet jy 'n gesonde afstand van politiek hou.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!