San woon nou in Khorixas

Tanja Bause
Sowat 23 kilometer buite Khorixas op die C39 na Torrabaai woon 22 San-mense op die plaas Bella Vista Pos Twee.

Die plaas en die Petrified Forest Coffee Shop langs die hoofpad behoort aan die Tsibes-egpaar.

Me. Leopoldine Tsibes, bekend as Lettie, en haar man, Edmudt Tsibes, bekend as Eddy, het in April 2018 die koffiekroeg begin.

“Die toeriste het nadat hulle by Twyfelfontein was hier kom koffie drink en hulle het ons altyd oor die mense uitgevra wat die rotsgraverings daar gemaak het. Hulle wou weet waar hulle bly en hoe hulle lyk.

“Dit is hoekom ek in 2021 besluit het om Tsumkwe toe te gaan en met die San te gaan praat. Ek het vir hulle ’n sakevoorstel gemaak. Hulle kan op my plaas kom bly en dan bou ek vir hulle ’n lewendige museum waar hulle hul lewenswyse ten toon kan stel. Hierdeur sal hulle opgehef word en hulle lewenstandaard kan verbeter,” het Eddy gesê.

Twee-en-twintig San het Khorixas toe getrek en die museum begin. Hulle wys toeriste onder meer hoe om vuur te maak, hoe om met ’n pyl en boog te jag, spoor te sny, die gebruik van tradisionele medisyne en plante en verskillende danse.

In November het die Duitse toeriste Andreas en Lenka Hauzel by die koffiekroeg gestop.

“Die San het op daardie oomblik kom water skep en Andreas wou weet wie die mense is. Hy was baie geïnteresseerd en ek het hom na die lewendige museum geneem.

“Hulle het besluit om die museum en die San te ondersteun. Hulle het 150 euro vir ons gegee en twee maande later nog 150 euro vir die ontwikkeling van die museum en ter ondersteuning van die San. Hulle het ook die museum en koffiekroeg onder hul vriende en kennisse in Duitsland bemark en nou verwag ons die eerste toeriste in Augustus. Die San is tot die einde van Augustus goed vooruit bespreek.”

Volgens Eddy keer die toeriste stadig terug en lok die San en die lewendige museum beslis nog meer toeriste.

“Dis vir ons uiters belangrik want hoe meer mense vir die San kom kyk, hoe meer geld maak hulle en hoe meer verander hul lewens ten goede.”

Op die plaas is ook sowat 50 rotsgraverings wat deur Eddy se pa, Salmon, in 1970 ontdek is.

“Hulle is in die berge sowat vier kilometer vanaf die koffiekroeg geleë. Die pad het ongelukkig met die onlangse reën verspoel en ek is tans besig om ’n nuwe pad te bou.

“My plan is om toeriste soontoe te vat saam met een of twee San. Hulle kan dan die kunswerke en die mense wie se voorvaders dit gemaak het, saam sien en beleef. Net my pa, broers en ek weet waar die tekeninge is. Hulle is onbekend en dit maak hulle uniek en besonders.”

Mense wat die lewendige museum wil besoek, kan ’n bespreking by Eddy op 081 692 3018 maak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!