• Tuisblad
  • Mense
  • Sarah de Jager – veel meer as die visserslegende

Sarah de Jager – veel meer as die visserslegende

Uitmuntende boervrou, uitstekende brugspeler ...
Op 80 kon sy nog eiehandig 'n 15 kg kabeljou uittrek.
Tanja Bause
Die bekende Sarah de Jager (1928–2011) na wie die vissersbestemming Sarah se Gat by Hentiesbaai vernoem is en oor wie Carike Keuzenkamp ’n bekende Afrikaanse liedjie gesing het, sou op 17 Januarie 95 jaar oud gewees het.

Sy was nie net ’n legende langs die viswaters nie, maar ook ’n uitstekende bokboer en ’n kompeterende brugspeler.

Sarah is in Suid-Afrika gebore en het daar met haar man Norman in die huwelik getree.

Hul dogter Sarah Roos vertel dat die egpaar weens Norman se werk in 1955 Windhoek toe getrek het.

“Pa het vakansietye op Hentiesbaai saam met die manne gaan visvang. My ma en haar vriendin tannie Ellen van der Walt het besluit die storie van by die huis rondsit en niks doen terwyl die manne visvang, werk nie vir hulle nie. Die vroue het begin saamgaan en ná ’n tyd het hulle begin om beter vis te vang as die mans.”

Toe die egpaar Namibië toe getrek het, het hulle eers in Windhoek gewoon waar Norman die besturende direkteur van ’n maatskappy was en later in die boubedryf gewerk het, totdat hy by Tsumeb begin boer het.

BOER

“Toe my pa begin boer, het my ma nie teruggestaan nie en haar eie bokboerdery begin. My ma het daarvan gehou om haar eie ding te doen. Sy was nie ’n mens wat gesit en gehoop en bid het die geld moet van ’n man af kom nie.

“Sy het self gewerskaf, gedoen en aangepak. Sy was ’n baie sterk bokboer en ’n boervrou in murg en been wat mal was oor die plaaslewe. My ouers het ’n plaas naby Tsumeb amper teenaan die Etosha en by Nina gehad.”

VISVANG

Toe die egpaar nog in Windhoek en Tsumeb gewoon het, het hulle elke vakansie, langnaweek en wanneer die tyd toegelaat het Hentiesbaai toe gegaan om vis te gaan vang.

“Visvang is deel van ons; dis wat ons almal as familie nou nog saam doen. My ma het op 80-jarige ouderdom nog ’n 15 kilogram kabeljou uit die water gehaal. Dit was die grootste een tussen ek dink ses wat sy die dag gevang het.

“My dogter Tertia Klopper het ouma se geluk langs die water geërf en sy was selfs vir die Namibiese vrouehengelspan gekies. Sy is tans swanger en het nog voorverlede Sondag ’n kabeljou uitgehaal. Sy het gesê dis die laaste een totdat die baba gebore is.”

Ouma Sarah self het in 2008 gesê: “Eers die dag as die Oubaas my kom haal, dán vang ek nie meer nie, maar ophou sal ek nie maklik nie. Nee, as ek op Henties is, vang ek elke dag.”

BRUG

Sarah was ook ’n baie ernstige brugspeler.

“My ma het tussen brug speel en visvang gelewe. Sy het toe hulle in die Kaap gebly het aan ’n klub behoort en aan kompetisies deelgeneem. Sy was ’n baie bekwame brugspeler en op haar 80ste verjaardagpartytjie was daar twintig van haar brugspelervriende teenwoordig.”

Tydens haar tyd in Windhoek het sy ook graag gholf gespeel.

KAAP

In 1976 het die egpaar Kaap toe getrek en ’n voerbank begin.

“Hulle het Namibiese beeste daar vet gevoer en dan geslag. Toe dinge met die permitte so moeilik begin raak dat dit onmoontlik was om hiermee voort te gaan, het hulle die twee plase in Namibië verkoop. My pa het toe ’n aftreehuis op Hentiesbaai vir hulle twee gebou. Hy is egter aan kanker oorlede en my ma wou nie alleen soontoe trek nie.”

Sarah en Norman het terwyl hulle in die Kaap gebly het elke jaar vir so drie maande Hentiesbaai toe gegaan om vis te gaan vang. Ná sy dood het Sarah aangehou gaan.

Sarah is op 23 Januarie 2011 aan breinkanker oorlede.

“Ma het elke soort kanker wat ’n mens kan kry gekry, maar breinkanker het op die einde haar dood veroorsaak. Ek en my suster Nauline het in daardie stadium op ’n plaas in die Kaap gewoon en ons het haar tot haar dood toe versorg.”

Sy beskryf haar ma as ’n ongelooflike mens.

“Daar was nie vir haar ’n storie soos klas of kleur nie. Niemand was ooit vir haar te hoog of te laag om mee te kommunikeer nie. Sy het met almal gesels en sy was baie lief vir mense, en mense vir haar. Sy was ook baie stout en het altyd die mans se kant gevat en hulle in hul kwaad gesterk.”

FAMILIE

Die egpaar het vyf kinders gehad. Drie is in Kaapstad gebore en die twee laatlammetjies op Tsumeb. Haar twee oudste seuns is weens Covid-19 oorlede.

Die kinders het in Suid-Afrika gewoon en ná ouma Sarah se dood het hulle een na die ander Namibië toe getrek.

“Nauline en haar man het Henties toe getrek en hy het daar gebou. Kobus het ook al die jare in Henties gebou en Pieter het hom gehelp. Kobus was ook die eienaar van die Brandberg White Lady Lodge naby Uis. Ek het in 2007 getrek toe hulle ’n nuwe lodge bestuurder gesoek het. Norman woon nog in die Kaap,” vertel Sarah Roos.

SARAH SE GAT

Geluk was altyd aan ouma Sarah se kant wanneer sy en Norman langs die see gery het, het sy altyd ’n goeie plek raakgesien en voorgestel dat hulle hier moet probeer vang.

“Toe sy op die spesifieke plek kom, het sy gevang en gevang en almal het haar dan gevra waar die plek is. Daai tyd was daar nog nie name vir die plekke nie en mense het haar agtervolg om te kyk waar sy vang. Ons het later die bord opgesit, wat keer op keer in die nag weggeraak het.”

DAAI LIEDJIE

“Die skrywer van die lied, Jan de Wet, se skoonouers het in dieselfde straat gebly waar my ma se huis was. Hulle het toe by Sarah se Gat gaan visvang en terwyl Jan so staan, het die woorde by hom opgekom. Hy het nie eens geweet dis ’n lewendige persoon nie. My ma het toe in Gordonsbaai gewoon en hy in Somerset-Wes, hulle was basies bure.”

Jan het vir Sarah gekontak en gesê hy wil die liedjie skryf.

“Dit was in die tyd wat die mense so grappe op die radio uitgesaai het waar hulle mense bel en vir hulle poetse bak. My ma het net besluit sy sal nie gevang word nie en het vir Jan gesê: man, doen jy net wat jy wil.

“Die volgende dag het Carike haar gebel en gesê sy wil die liedjie sing, maar het haar toestemming nodig en weer het ma net gesê: maak soos julle wil.

“Natuurlik was sy later baie trots toe die liedjie oor haar op die radio speel. My pa egter was nie so ingenome nie. Hy was die sakeman Norman de Jager, maar van toe af is hulle voorgestel as Sarah de Jager en haar man.”

WENRESEP

Henk Lamprecht het in die 1980’s saam met die egpaar visgevang en hy het vele herinneringe oor hoe Sarah te werk gegaan het.

“Die De Jagers het in die Strand gewoon en was boesemvriende van oorlede Lukie Niemand. Hulle het ’n huis op Hentiesbaai gehad.

“Ek en Lukie het van 1984 tot 1988 by hulle gaan bly as ons vis gaan vang het op Henties en is baie gereeld saam met hul see toe.

“Jy kan sê Sarah was getroud met haar Penn49-katrol. Ons het daar aangekom met ons nuwerwetse Polekanski-katrolle en haar kommentaar was: Ek sukkel nie met speelgoed nie.

“Sy het altyd met twee hoeke gehengel – een met visaas en een (altyd op die onderste hoek) met mossel of rooiaas. Die rooiaas moes vrot wees en dan het sy bruinsuiker daaroor gegooi om dit taai te maak. Ons het self mossels gegrawe noord van Kaap Kruis. Sy het die mossels dan dadelik uitgesny, met bruinsuiker gestrooi en in ’n lemoensakkie laat droog.

“Daardie tyd was die amptelike Sarah se Gat nog nie daar nie. Sy en Norman het elke dag na 13.5 of 16 km noord van Kaap Kruis gegaan. Sy het altyd gesê sy glo die vis is waar mens mossels kry.... veral galjoen en steenbras. Ons het dit ook so ervaar daardie jare.

Sy het by uitstek altyd die meeste galjoene of steenbrasse gevang en het altyd vir ons gesê: “Julle sal niks vang nie, want julle gooi oor die vis”. Ons het normaalweg dieper gegooi op soek na kabeljoue en gewoonlik net met een hoek met visaas aan. Derhalwe het ons nie galjoene gekry nie.

“Norman het dan kommentaar gelewer: Jy sê so omdat jy nie ver kan ingooi nie.

“En dit was ’n feit, sy kon nie ver ingooi nie. Vandag weet ons die galjoene en steenbras byt mos gewoonlik agter die eerste brander.

“Voorts onthou ek sy kon die heerlikste kos maak. Haar gebakte vis was die beste. Toebroodjies, koue vis en gekookte eiers om see toe te neem ... my mond water sommer.

“Sy het ons ook altyd aangepraat om sonbrandolie aan te smeer en ons hoedens op te sit. Ek onthou haar opmerking: Die son gaan jou dood steek as hy jou vang sonder ’n hoed op jou kop.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!