Selena Dash kyk nie terug
Gee 100% en meer vir elke optrede
Sy wil die hele dag dans, optree, mooi klere dra en mense vermaak.
“My man Llewellen is my grootste ondersteuner. Wanneer ek vir ’n optrede vir Drag Night voorberei, dan vra ek altyd vir hom wat hy van die uitrusting of liedjie dink.
“Ons praat daaroor en ruil idees uit. Hy weet watter liedjie ek sal gebruik, maar ek wys hom nooit die optrede voor die tyd nie. Ek wil hê dat hy soos elke ander persoon in die gehoor die ‘wow’-ervaring moet hê wanneer hy die opvoering vir die eerste keer sien. Hy moet ook verras wees.
“Hy kan idees gee, maar hy mag dit nie sien nie. Hy het nog elke vertoning bygewoon wat ek op Drag Night gelewer het. Toe die vertoning op ’n Vrydag en Saterdag was het hy beide aande kom kyk,” het Jean-Paul Scheepers-Pretorius, ook bekend as Selena Dash (22), gesê.
Jean-Paul is in Windhoek gebore en het ook hier grootgeword.
“Ek het nie van laerskool gehou nie omdat ek geboelie is. Ek het myself ook nog nie regtig verstaan nie, dus het die woorde my baie seergemaak. Ek het talle kere huis toe gegaan en gehuil en gekla. “Hoewel ek baie ongelukkig was, was daar tog ook goeie dae, veral ná graad 5 toe ek onderhoofseun geword het. Al die slegsê het verdwyn en daar was ’n wedersydse respek. Ek dink ook dit het my gehelp om my voete te vind en ek het nie meer toegelaat dat kinders my boelie nie.
“In die hoërskool het dinge verbeter. Ek dink die kinders was net meer volwasse. Ek het ook my heel eerste optrede tydens my sottekonsert gehad. Ek het Beyoncè se “Run the World” opgevoer.
“Ek het nog altyd van dans gehou, maar ek het alleen in my kamer gedans en nie voor mense nie. Ek het die groep gelei omdat ek die liedjie en die danspassies die beste geken het. Dit was ook die eerste keer dat ek ietwat gedrag het. Ons het besluit om rolle te ruil omdat ons meer seuns in die klas was. Die seuns het soos meisies aangetrek. Ek het by daai selfde konsert Mnr. Sot gewen.”
Die res van sy hoërskooljare het seepglad verloop en hy dink dit is ook omdat “ek met myself vrede gemaak het, my voete gevind en met my ma gepraat het”.
MA
“Ek was so 14 jaar oud toe ek vir my ma ’n brief geskryf en in haar handsak gesit het. Ek het gesê sy moet dit by die werk lees, want ek kon nie aangesig tot aangesig met haar praat nie.
“Gewoonlik het ek en my ma gedurende die dag baie gesels of boodskappe vir mekaar gestuur, maar dié dag was sy tjoepstil. Ek het gedink sy is kwaad en het dit net daar gelos.
“Die aand het sy na my kamer gekom en vir my gesê dat ek haar kind is en sy niks sal verander nie. Sy sal altyd daar wees vir my en my ondersteun.
“Sy sal nie toelaat dat mense my afbreek nie en van daar af het sy my ondersteun in alles wat ek doen. Ek was baie verlig want nou kon ek myself wees. Ek hoef nie meer weg te kruip of goed in die geheim te doen nie. Aangesien my huis my veilige hawe was, kon ek myself by die huis en daar buite wees.”
‘DRAG’
“Die eerste keer wat ek in drag was, was ek nog op hoërskool. Ek en my kêrel, Llewellen, was in Kaapstad en ons wou die aand na ’n nagklub gaan.
“Ek het egter nie ’n identiteitsdokument gehad nie en sou dus nie toegelaat word nie. ’n Vriend het gesê slegs drag queens word nooit by die deur gestop nie. My grimering en pruik is gereël en ons het ’n uitrusting gaan koop.
“Dit was op my verjaardag wat ek die eerste keer in volle drag was. Ons het klub toe gegaan en die deur is sonder vrae oopgehou. Binne wou al die ander queens weet: “Wie is sy? Waar kom sy vandaan en wat doen sy hier?”
Verlede jaar in September het Miss Mavis die stigter van Drag Night Namibia kontak gemaak en gevra wanneer haar eerste optrede sal wees.
“Ek wou dit nog altyd doen, maar was altyd bietjie skaam. Ná die oproep het ek besluit ek kan dit nie langer uitstel nie. Dit was ’n geval van die geleentheid het aan my deur geklop en ek het geantwoord.”
Binne ’n week is die uitrusting, pruik en grimering gereël.
“Ek het in daardie stadium baie na Selena Quintanilla Pérez se musiekvideo’s gekyk. Die tema vir die aand was ‘Disko’. Pérez het ’n agt minute lange disko-medley gedoen en ek het besluit dit is wat ek wil doen. Sy het my uitrusting geïnspireer, met die glinster-gordel en al. Sy het in die laat 90’s ’n bob-haarstyl gehad en dit was my eerste pruik. Sy het ook altyd iets rooi gehad en my lippe was rooi. Ná die vertoning het Miss Mavis gesê ek dink jou naam behoort Selena te wees. So is Selena Dash gebore en ek het nog nooit teruggekyk nie.”
Selena berei ’n hele maand vir die optrede voor, want alles moet 100% wees. Sy het nooit formele dansklasse bygewoon nie en alles wat sy die aand op die verhoog lewer, het sy self van musiekvideo’s vir die spesifieke aand geleer.
“As ek nie gemaklik en 100 % voorberei is nie, sal my gehoor dit agterkom en dit is nie regverdig teenoor hulle nie. Almal in die gehoor moet dit geniet net soos ek dit op die verhoog geniet. My grootste droom is om in Kaapstad op te tree.”
Haar ander wens is ook om eendag ’n huishoudelike naam te wees en haar eie televisiereeks te hê.
“Ek wil die hele dag dans, optree, mooi klere dra en mense vermaak.”
LLEWELLEN
“Ons is al ses jaar saam en het in April besluit om in Kaapstad te trou. Ons het ’n klein troue gehou met ons gesinne en ’n paar vriende. Dit was die mooiste dag in my lewe. As iemand my vra watter dag wil jy oor en oor hê, sal dit my troudag wees. My man is ouer as ek en hy het my altyd aangemoedig om ná skool iets te doen wat ék wil doen. Werk hard want niks is vir niemand in die lewe gegee nie en almal moet hard werk om iewers te kan kom. Dalk voel dit asof dit baie lank vat, maar met harde werk sal dit kom.”
RAAD
“Wil jy jou hele lewe lank iets doen waarvan jy nie hou nie of wil jy graag iets doen waaroor jy mal is? Doen waarvoor jy lief is en doen dit na die beste van jou vermoë. Wees net jouself en gemaklik in jou eie vel. Doen wat reg is vir jou.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie