Hester Koch is die eerste en enigste vrou in Namibië wat borsprotese hekel, brei en uit materiaal vir vroue wat ’n mastektomie gehad het maak. Foto Tanja Bause
Hester Koch is die eerste en enigste vrou in Namibië wat borsprotese hekel, brei en uit materiaal vir vroue wat ’n mastektomie gehad het maak. Foto Tanja Bause

Sewe jaar en 500 Breast Buddies later

Mastektomie verander vrouens se lewens
Plaaslike vrou wil ander vroue leer hoe om borsprostese te maak.
Tanja Bause
“Ek het gaan sit en dink. Ek is geseënd want ek is gesond en toe het ek besluit dit het nou oor my pad gekom en dis nou my pad,” het me. Hester Koch, die eerste en enigste vrou in Namibië wat borsprosteses hekel, brei en uit T-hempmateriaal maak vir vroue wat mastektomieë gehad het, gesê.

Koch is self in 2014 met borskanker gediagnoseer.

“Gelukkig is my bors nie geamputeer nie. Die knop is net verwyder. Dit was na my operasie in die Kaap dat ek vir die eerste keer van Knitted Knockers gehoor het. Met my terugkoms in Namibië het ek begin uitvind en besef daar is nie so iets in Windhoek of Namibië beskikbaar nie. Ek het navorsing op die internet begin doen en ’n patroon gesoek, maar dit was ook tevergeefs.”

Sy het ’n tydelike bors uit materiaal gekoop, die patroon aangepas en self begin borste maak.

“Dit het vir groot pret by die huis gesorg wanneer my man se vriende kom kuier het. Hulle het gevra wat ek maak. Ek het altyd met trots gesê ek maak tieties; tieties van alle vorms en groottes.”

Voordat Koch begin het om die borste te maak, moes vroue daarsonder gaan of duur prosteses koop.

In 2015 het sy die eerste 100 gehekelde en gebreide borste by die Kankervereniging van Namibië (CAN) afgelewer en gedink dit sal ’n rukkie hou.

“Hulle het my skaars ’n maand later gebel en gesê: ‘Hester, ons moet nog tieties kry.’ Voor my tieties was daar nie en CAN het dit vir vroue gegee wat reeds ’n mastektomie gehad het. Nou word hulle slegs vir vroue in die hospitaal gegee wat nou geopereer word. Ek het tot vandag toe meer as 500 tieties gemaak.”

Elke vrou kry ná hul mastektomie nie net ’n Breast Buddie nie, maar ook ’n materiaalsakkie waarin hulle hul dreinering kan sit en ’n opgestopte materiaalsak vir onder hul arms.

“Marie Smit maak die materiaalsakke. Die opgestopte sakkie is noodsaaklik, want wanneer jou kliere uitgehaal is wil jy nie hê jou arm moet aan jou lyf raak nie. Jy kan die sak ook op jou borskas sit wanneer jy ’n veiligheidsgordel moet aansit. Marie is ouer as ek en sy raak moeg en wil nie meer die sakkies maak nie.”

Koch en Smit is op soek na vroue uit verskillende gemeenskappe wat Breast Buddies for CAN, asook die materiaalsakkies wil maak.

“Dit is baie eenvoudig en maklik en al kan jy nie naaldwerk doen nie kan jy ’n tietie maak. Ek gee vir jou die patroon en leer vir jou hoe om dit te maak. Dis baie vinnig om dit te maak en dis ’n wonderlike gevoel wanneer jy klaar is en jy weet so ’n klein item sal ’n vrou se lewe verander, dit ophelder en haar hart verskriklik bly maak. Dit gee vir haar vertroosting, waardigheid en beteken die wêreld vir hulle.”

T-HEMP

Koch het intussen begin om borste uit T-hempmateriaal te maak.

“Die gebreide en gehekelde tieties is vir baie vroue te warm of dit laat hulle jeuk. Dié uit T-hempmateriaal is sag op die vel en werk baie goed. Jy kan die vulsel uithaal en die materiaal was. Jy kan dit ook opvul en groter maak of van die vulsel uithaal en kleiner maak. Jy kan dit in enige kleur maak. Hulle is baie gewild en meer en meer vroue begin vir dit vra.”

Volgens Koch kan sy in 30 minute vier borste klaarmaak.

“Ek doen amper my hele lewe lank naaldwerk. Ek het trourokke en matriekafskeidrokke gemaak, maar die tieties kan enigiemand maak. Dis regtig maklik en ek is bereid om enigiemand te leer. Ek raak ook oud en iemand moet leer en oorvat, anders is ons weer terug voor 2015 toe ’n vrou se enigste opsie was om daarsonder klaar te kom, sokkies in hul bra’s te druk of peperduur prostese aan te skaf.”

Mense wat ongebruikte T-hemde het of wat ’n kol of gat in het, kan dit by CAN afgee sodat Koch borste daarvan kan maak. Mense wat belangstel om die borste te maak, kan vir Koch of CAN kontak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!