Skenkings stroom in ná onderwyser se pleidooi

Ontvang skryfbehoeftes, skooldrag en vele meer
Hoewel hulp aan die Oukwandongo Gekombineerde Skool buite Outapi verleen is, is die behoefte by die skool nog groot.
Jana-Mari Smith
Skenkings het van oraloor in Namibië ingestroom in reaksie op ’n onderwyser se pleidooi om minderbevoorregte leerlinge van ’n skool buite Outapi te help.

Nadat haar Facebook-plasing onverwags wyd versprei het, sê die lewensvaardigheidsonderwyser, me. Maria Namtenya Endjala-Shambwila, die behoeftigste leerlinge by die skool het skooldrag, skryfbehoeftes en sanitêre produkte ontvang.

Skenkings stroom steeds in, het sy gesê. “Ek is seker al my leerlinge sal binnekort goed lyk. Ek is ongelooflik bly oor die ondersteuning. Die skenkings het my verstom.”

Tot op hede het 21 individue, maatskappye en liefdadigheidsorganisasies onder meer 37 broeke, 34 rompe, 15 pare skoene, 67 hemde, 15 truie, 12 pare sokkies, 104 sanitêre doekies, 123 sepies en ’n sak waspoeier geskenk.

Op 19 Maart, twee dae voor Namibië 32 jaar van onafhanklikwording gevier het, het Endjala-Shambwila foto’s van haar leerlinge op Facebook geplaas. Die foto het hul geskeurde en verslete skooldrag gewys. Terwyl hul gesigte op die foto verskuil is, vertel die foto’s steeds ’n verhaal van erge armoede.

“Hierdie is van my leerlinge, en al wat ek nodig het, is skooldragskenkings, sanitêre doekies, seep, waspoeier asook lyfroom of Vaseline. Dis by die Oukwandongo Gekombineerde Skool naby Outapi,” het sy geskryf.

Haar sosialemediaplasing het honderde kommentare ontlok wat wissel van kritiek, twyfel, lof en aanbiedings van hulp, en is meer as 6 600 keer gedeel.

VERRASSEND

Dié reaksie het die onderwyser verras, want sy was van plan om die boodskap net aan ’n paar Facebook-vriende te stuur.

“Ek het besluit om ’n paar foto’s te neem om met my vriende op Facebook te deel. Ek het nie baie vriende op Facebook nie, maar ek het hulle vir skenkings gevra. Ek het nie verwag die boodskap sou só versprei nie, en ek het nie bedoel om enige skade aan te rig nie. Dit het net gebeur.”

Sy sê die boodskap spruit uit twee vergaderings vroeër vanjaar met ouers, waarin die skool hul kommer oor sommige kinders, hul sanitêre toestand en hul verslete drag bespreek het.

Sy het gesê kinders wat in lappe skool toe kom en nie toegang tot basiese items soos seep en kos het nie, kan nie leer nie.

“Jy kan sien dit beïnvloed hul vermoë om te leer. Ek is mal oor gelukkige leerlinge. Wanneer jy met gelukkige kinders werk, doen hulle die aktiwiteite sonder enige probleme. Maar as ’n kind honger is, kan hulle nie fokus nie. Hulle kan nie leer nie. Wanneer ’n leerling gelukkig is, gaan alles goed en vordering word gemaak.”

’n Liefdadigheidsklub is by die skool van stapel gestuur, maar net een koekie seep is ontvang.

Endjala-Shambwila kon nie vir nuwe uniforms betaal en ander noodsaaklikhede soos seep, sanitêre doekies en lyfroom koop, soos die onderwysers die afgelope paar jaar gedoen het nie. Dus het sy haar tot die internet gewend.

ERGE GEBREK

’n Brief wat in die nasleep van die sosialemediaplasing aan die onderwysministerie verskaf is, dui aan dat Oukwandongo Gekombineerde Skool, wat sowat 25 km buite Outapi en 1,5 km van die Angolese grens geleë is, 1 163 leerlinge huisves. Die skool akkommodeer leerlinge van preprimêr tot graad 10.

Die skool het die ministerie ingelig dat pensioenarisse wat op staatstoelaes leef die meeste van die leerlinge versorg.

Die skool het 354 leerlinge, tussen die ouderdomme van 6 en 19 jaar, as kwesbaar geïdentifiseer. Hulle beskik oor bykans geen benodigdhede nie, insluitend sanitêre doekies, uniforms en seep.

Endjala-Shambwila sê sy het in 2017 by die skool begin werk en dadelik opgemerk dat talle meisies elke maand vir ’n paar dae nie skool bywoon nie.

Toe sy hulle daaroor genader het, het hulle erken dat hulle tuis bly wanneer hulle menstrueer, aangesien hulle ou klere en nie sanitêre doekies gebruik.

“Ek het besluit ek sou uit my eie sak ’n boks sanitêre doekies koop en vir die meisies wys hoe om dit te gebruik.”

Toe sy een meisie nader om haar te wys, het die meisie haar ingelig dat sy nie onderklere het nie.

“Verbeel jou dat ’n meisiekind nie eens onderklere het nie.”

Sy sê onderwysers moes al dikwels ingryp wanneer hulle besef kinders slaap in die klas. Op die vraag of hulle siek is, sê die kinders hulle is honger. Onderwysers koop dan brood by ’n nabygeleë cuca-winkel.

Me. Sanet Steenkamp, uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur, sê die ministerie is oor die leerlinge se situasie ingelig en rolspelers is betrek om te bepaal hoe kinders in die toekoms beter ondersteun kan word.

Sy het bygevoeg “dit is inderdaad met groot hartseer en ’n sekere vlak van ontevredenheid om te verneem dat daar nog soveel van die 830 000 leerlinge in hierdie land is – ’n derde van die land se bevolking – wat steeds nie ontvang wat hulle toekom nie. Om met waardigheid en respek deur die ouers en gemeenskapslede behandel te word, om na omgesien te word en dat daar in hul basiese behoeftes voorsien word, sodat hulle kan leer en gelukkige jong kinders kan wees.”

Sy het onderwysers versoek om te verseker wanneer hulle video’s of foto’s neem, die kinders en hul ouers daartoe instem, en om te verseker die waardigheid van alle betrokkenes word gehandhaaf. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!