Skeppend as musikant en videoprodusent aangelê

Temalied vir die Seunskoor se fees het hy geskryf
Caleb Cindano se film is 'n Wêreld rekord vir Namibië
Tanja Bause
Sewe-en-twintig jaar gelede het hy ’n lied vir die Drakensberg Seunskoor geskryf wat vanjaar weer by die opening van hul Music in the Mountains Festival gesing is. Hy het ook agt jaar gelede ’n fliek geproduseer wat vir Namibië ’n inskrywing in die Guinness Book of Rekords besorg het.

Die man met al dié talent is Caleb Cindano van CamelEye Productions.

Caleb het op ’n plaas in die Oos-Kaap grootgeword.

“Ek was die jongste van vyf kinders en ons mag nie rugby gespeel of aan sport deelgeneem het tensy ons ook musiek gedoen het nie. Ek het in graad 1 met musiekonderrig begin en het vanaf graad 7 vir die volgende drie jaar by die Drakensberg Seunskoor skoolgegaan. Hierna het ek matriek in ’n gewone skool voltooi.”

Ná skool is hy vir een jaar weermag toe en in 1991 het hy as ’n studentdirigent by die Drakensberg Seunskoor begin.

DRAKENSBERG

“My suster, wat my musiekonderwyseresse in die laaste jare op skool was, het toe by die Drakensberg Seunskool begin werk en sy het my in 1995 genader om die temalied vir die fees te skryf. Ek was daai tyd ’n student by die tegnikon van Pretoria en besig met ’n kursus in ligte jazzmusiek.”

Caleb en ’n skoolvriend wat van Namibië was en met wie hy gestudeer het, het die lied geskryf.

“Die skool is in die natuur en dit voel asof jy op ’n plaas is. Wanneer jy nie in die klaskamer of met huiswerk besig is nie, is jy in die natuur. Jy ry perd, klim berg en speel buite en dis presies die gevoel wat ek met die lied wou oordra.”

Die lied begin in Latyns en Caleb het in die biblioteek deur Latynse boeke gedelf om die regte woorde te kry. Daar is ook talle Xhosa-woorde in die lied.

“Omdat ek op die plaas grootgeword het, het ek Xhosa gepraat voordat ek Afrikaans kon praat. So, in die lied is basiese woorde in Xhosa soos kinders, lag en speel. Die lied se naam is Sing tot eer van God; in Latyns is dit Te deum laudamus.”

Die eerste keer toe die lied by die opening van die fees opgevoer is, het Caleb en sy medeskrywer die twee solorolle gesing. ’n CD is ook uitgebring met Rina Hugo en die seunskoor wat die lied sing. Van toe af is die lied elke jaar gebruik om die fees mee te open. In 2021 is die repertorium verander en ander liedjies gebruik.

“Vroeg vanjaar is ek genader en gevra of hulle die lied weer kan opneem en gebruik. Ek het die lied vir die skool geskryf, so dis hulle s’n en hulle het ’n nuwe verwerking gedoen en dit bietjie meer modern gemaak. Die lied is nou onlangs weer by die opening van die fees gesing en ek het hoendervleis gekry toe ek dit hoor. Dis regtig baie goed verwerk.”

Caleb was nog altyd ’n musikant en hy het in die laat 1990’s Namibië toe getrek as musikant.

FILMWERK

“Van kleins af wou ek eintlik in Etosha gaan werk en olifante gaan oppas, maar op die einde het musiek my Namibië toe gebring. Ek was vir twee jaar in Namibië toe ek die geleentheid gekry het om filmvervaardiging in Los Angeles te gaan studeer.

“Ek het drie sertifikate daar gaan kry. Een het jou alles van film maak geleer – van die skryf, regisseer, kamerawerk, toneelspeel, klank ... absoluut alles. Die ander was in regisseurwerk en die laaste een vir rolprentmusiek.”

Terwyl hy in Los Angeles was, het hy CamelEye Productions geregistreer.

“Ek wou die gevoel en klank van die woestyn hê en vandaar die kameelperd. Die eye is vir die oog van die kamera.”

Tydens sy tyd in Los Angeles het hy al die bemarking van die Mel Gibson fliek The Passion of The Christ gedoen.

“Ek het niks van die produksie self gedoen nie en was glad nie op die filmstel nie, maar ek het vir die daaropvolgende sewe maande al die bemarking wêreldwyd gedoen. Elke plakkaat het deur my kantoor gegaan voordat dit uitgestuur is. Ek en Mel het mekaar elke dag gesien en ons het saam gewerk.”

Caleb se hart was egter die hele tyd in Namibië en het hy met sy terugkoms begin werk daarvan maak om die filmbedryf plaaslik te probeer versterk. Sy groot passie vandag nog is rolprentvervaardiging, Namibiërs in die bedryf en Namibiese films.

REKORD

In 2014 het Caleb ’n inskrywing in die Guinness Book of Records opgestel vir die vinnigste film wat vanaf die draaiboek tot die skerm vervaardig is – binne 10 dae 4 uur en 47 minute.

“Ons het ’n begroting van N$52 000 gehad en dit was baie uitdagend. Wanneer die stophorlosie begin, mag jy nie ’n draaiboek, akteurs, tegniese span, ’n plek vir verfilming, niks hê nie. Jy begin met niks en die stophorlosie stop by die premiére van die fliek.

“Jy moet tien gaste by die premiére hê. Ons het 100 genooi en 170 het opgedaag. Daar was baie uitdagings wat ons moes oorkom, maar op die ou einde het die span saamgewerk en die ongelooflike gees wat almal gehad het dit moontlik gemaak dat ons die rekord kon opstel. Ek is seker die rekord is intussen al weer gebreek, maar dit maak nie saak nie, Namibië staan op die sertifikaat en ons het dit.”

Dié fliek, Just Drive – A Namibian Story, kan op YouTube gesien word.

VIDEOPRODUKSIES

Twee van Caleb se gunsteling videoproduksies wat hy gemaak het, was die twee vir die bewaring van ons natuur en dierelewe vir Varta.

“Ek het reeds meer as 2 000 videoproduksies gedoen, maar dis my gunstelinge. Ek is in 2017 vir die eerste video genader. As klein seun wou ek olifante in Etosha gaan oppas; dit het nie gerealiseer nie, maar nou help ek hulle en ander diere beskerm deur my werk.”

Die 2017 Varta-video was The Journey Beyond en Caleb het die lied geskryf. Vir die 2018-produksie getiteld Cry Mother Africa het Caleb en twee ander musikante die lied geskryf en elk het een vers gesing.

Caleb se agtergrond en sy kennis – nie net in musiek nie, maar ook in filmmaak – is wat sy video’s en produksies besonder maak. Hy het ook deur sy jare in die bedryf ’n skatkis vol materiaal wat vir enige produksie gebruik kan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!