• Tuisblad
  • Mense
  • Skorsing uit koshuis, skool lei glo tot selfdood

Skorsing uit koshuis, skool lei glo tot selfdood

Henriette Lamprecht
“Ons harte is rou en stukkend.”

Só het ’n emosionele pa sy gesin se pyn probeer verwoord, nadat sy 16-jarige dogter haar eie lewe geneem het.

Shakira de Koe, ’n graad 10-leerling verbonde aan die Hoërskool Dr. Lemmer op Rehoboth, het selfdood gepleeg nadat sy uit die skool en koshuis op die dorp geskors is.

Volgens haar pa, mnr. Clemen de Koe, het Shakira “wie se hartsbegeerte dit was om ’n dokter te word,” vanjaar as graad 10-leerling by Dr. Lemmer begin, nadat sy aanvanklik op Schlip in die skool was.

“Sy kon vakke hier neem wat nie daar aangebied word nie. Volgens haar was die standaard op die plaas ook te laag en sy wou so graag met die ondersteuning van haar ouers ’n dokter word,” het hy in ’n onderhoud met Republikein gesê.

De Koe sê Shakira is uit die koshuis geskors omdat daar glo seuns by haar kamermaats was. “Hulle is vyf in ’n kamer en drie van die ander meisies het glo seuns gehad wat oor die naweek in die kamer gekuier het. Shakira en ’n vriendin het toe besluit om in ’n ander kamer te gaan slaap.”

Volgens De Koe is die seuns se stemme gehoor en is die koshuis se veiligheidswag gebel. Dié was glo nie op die terrein nie, maar by sy huis.

“Hy het twee van die seuns geboei en die ander een het weggehardloop. Hy het vir die polisie gewag wat glo nie opgedaag het nie en het die seuns huis toe laat gaan.”

Volgens De Koe is Shakira se ma die volgende dag laat weet haar dogter is weens die voorval vir twee weke uit die koshuis geskors.

“Die rede was omdat hulle glo medepligtig was en moes gepraat het.”

Volgens hom het Shakira tydelike verblyf by ’n familielid op die dorp gekry totdat sy weer na die koshuis kon terugkeer. Dinsdag het Shakira egter gehoor sy is ook uit die skool geskors en die skool het ’n brief in dié verband vir haar gegee om aan haar ouers te oorhandig. Omstreeks 17:30 het sy egter besluit om haar lewe te beëindig.

Sy stil dogter het baie vriende in die drie weke in die skool gemaak, sê De Koe wat by die skool in gesprek met die skoolhoof en die raad was.

“Hulle sê hulle is so jammer en het prosedure gevolg, maar hulle kon mos net daardie dag gebel het. Ek voel baie seer, dit was nie die regte manier nie. Hulle gee nie antwoorde nie en huil net, maar dit help nie.”

De Koe sê die ander leerlinge wat aanvanklik geskors is, is terug by die skool.

“Ek voel dis eers nadat daar ’n lyk gelê het. Ek is baie diep teleurgesteld.” - [email protected]

Die skool wou nie gister kommentaar lewer nie en het navrae na mnr. George Dax, ’n inspekteur van onderwys op Rehoboth verwys.

Volgens Dax sal ’n formele ondersoek van stapel gestuur word om “agter die kap van die byl” te kom. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!