Tannie Rina Majiedt en tannie Marylyn van Zyl van die Senior Park Ouetehuis se Sonneblom-breiklub saam met van die items wat die klub gebrei het. Foto Hester Koch
Tannie Rina Majiedt en tannie Marylyn van Zyl van die Senior Park Ouetehuis se Sonneblom-breiklub saam met van die items wat die klub gebrei het. Foto Hester Koch

Sonneblom-breiklub versprei vreugde

Tanja Bause
Van vroeggebore babas tot hawelose mense en bejaardes van die Katutura-ouetehuis het vanjaar by die Senior Park Ouetehuis se Sonneblom-breiklub gebaat.

Die klub het in Februarie begin nadat tannie Rina Majiedt se man oorlede is en sy skielik alleen was.

“Ná 60 jaar was ek alleen en die krane was oop. Die kinders het my dokter toe gevat en ek is op depressiepille gesit. Ek het besluit dit is my besluit en ek wil nie pille hê nie. Ek wou nog iets vir die mense daar buite beteken. Ek het vir Marylyn van Zyl gekontak en die bal is aan die rol gesit.”

“Ek is nog my hele lewe lank lief vir hekel en brei. Ek het vir Rina gesê ek wil dit graag vir ander mense ook leer. Ons het besluit om die klub te stig vir almal wat belang stel om te leer of om net bymekaar te kom en te hekel en te brei,” het Van Zyl gesê.

Ander vroue van die ouetehuis het betrokke geraak en vandag is die breiklub sowat 12 lede sterk.

Hul eerste projek was om kniekomberse vir die Katutura-ouetehuis te brei.

“Ons was nog besig daarmee toe kry ons ’n oproep van iemand wat sê die hawelose mense kry baie koud en kan ons asseblief 85 mussies vir hulle maak. Ons het baie meer gemaak en ook kniekomberse vir hulle gegee,” het Majiedt gesê.

Die volgende oproep het gekom van ’n vrou wat met kinders werk wat verkrag is.

“Hulle klere word deur die polisie vir ondersoeke weggevat en dan gee ons vir hulle ’n teddiebeer om vas te hou. Iets wat vir hulle bietjie vertroosting kan gee. Ons het 32 teddiebere gehekel en ons het 50 vanuit Australië van hul teddiebeer-projek gekry,” het Van Zyl gesê.

Daarna het hulle begin om saam met Hester Koch Breast Buddies te hekel.

“Ek hekel nou al vir sewe jaar borste vir vroue wat ’n mastektomie gehad het. Ek het gedink die Sonneblom-breiklub kan by die projek betrokke raak en hulle het. Dit is nie al nie, ons het 4 000 pienk harte vir die bewusmaking van borskanker gehekel. Die harte kan gedra word in plaas van die pienk strikke,” het Koch gesê.

Dit was egter nog steeds nie die einde van die breiklubtannies se energie nie en hulle het begin om klein seekatte vir vroeggebore babas te hekel.

“Die seekatte word op die babas se lyfies gesit om hulle te kalmeer en te stimuleer.”

Volgende jaar wil die vroue items vir die kinders van die Side-by-Side Early Intervention Center hekel.

“Ons gaan handskoene sonder vingerpunte hekel, asook mussies. Ons gaan sorg dat elke kind ’n mussie kry wat hom of haar pas en dan kry elke kind ook ’n serp,” het Van Zyl gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 23° | 34° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 18° | 24° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 24° | 36° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 17° | 26° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 18° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 34° Lubumbashi: 16° | 21° Mbabane: 15° | 25° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 18° | 25° Lilongwe: 18° | 23° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 19° | 30° Durban: 20° | 27° Johannesburg: 16° | 30° Dar es Salaam: 25° | 33° Lusaka: 18° | 22° Harare: 16° | 23° #REF! #REF!