Sopkombuis bied hoop

Aurelia Afrikaner
Ten spyte van hul eie hulpbronne wat by tye skaars mag wees, help Bertha Uiras en haar man, Bethuel, wat by ’n motorverhuringsmaatskappy werk, om ’n wesenlike verskil met hul Sondag-sopkombuis te maak.

Dié inisiatief het ten doel om kwesbare lede van die gemeenskap, veral jong kinders en jeugdiges, in Katutura se Damara- informele nedersetting in Windhoek te help.

Elke Sondag verskaf hierdie egpaar etes aan kinders en senior burgers in nood. Wat as ’n klein inisiatief begin het, het in iets veel groter ontaard: ’n Bietjie hoop vir diegene wat in verslawing en armoede vasgevang is.

“Ons wyle president Hage Geingob het gesê niemand moet agtergelaat word nie en dit is hoekom ek probeer om te doen wat ek kan, al het ek self nie baie nie,” verduidelik Bertha.



NUWE PROGRAMME

Buiten die sopkombuis, het Bertha ook verskeie inisiatiewe van stapel gestuur met die hoop om haar gemeenskap te verbeter.

“Ons nooi meisies en seuns uit wat skool verlaat het, haweloos of werkloos is, veral diegene wat in dwelm- en alkoholmisbruik verval het,” sê sy.

“Ons is spesifiek daarop ingestel om meisies te help wat saans op Shanghaistraat staan om vir hulle te wys dat daar ’n beter toekoms is deur sokker en ondersteuning.”

Die sokkerprogram, wat volgens Uiras reeds die eerste tekens van sukses getoon het, gee jongmense ’n alternatiewe struktuur in hul lewens.

Diegene wat aan die sokkeroefenprogram deelneem, begin dikwels hul oggende deur die sopkombuis te besoek vir ’n ete en tee.

Die uitdagings bly egter groot. As ’n werklose ma, sukkel Bertha om die sopkombuis en sokkerprogram aan die gang te hou.

“Daar is tye wanneer ons kos opraak en ons nie vir die bejaardes en kwesbares in ons gemeenskap kan sorg nie," het sy gesê.



ONDERSTEUNING

Bertha het die gemeenskap gevra vir ondersteuning met skenkings van kos, klere, toiletware en borge vir die kwesbare mense waarvoor sy sorg.

“’n Honger mens is ’n kwaai mens,” het sy gewaarsku en gesê daar moet op misdaadvoorkoming gefokus word deur die kernkwessies soos hongersnood en armoede te takel.

“Julle skenkings, maak nie saak hoe klein nie, sal baie waardeer word.”

Ten spyte van haar eie finansiële uitdagings, bly Bertha verbind daartoe om ’n verskil te maak. Sy droom daarvan om die program te laat groei en meer kinders in nood te help.

“Ons as gemeenskap kan saam ’n verskil maak in hierdie meisies se lewens,” het sy gesê.

“Mag die Here elkeen seën wat ’n helpende hand verleen.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!