Sopkombuis bou brug van hoop

Eugenia se storie inspireer
In Oktober 2010 het Eugenia Gcilishe haar potte op die stoof gesit en vir 60 kinders begin kook; vandag eet 142 kinders vyf keer per week by haar.
Tanja Bause
“Een dag het ek in die personeelkamer gehoor hoe die onderwysers oor ’n seun praat. Niemand wou hom in hulle klas hê nie. Ek het gesê hulle moet hom bring dan kan ons gesels.

“Ons het saam gehuil toe hy wou weet wat die doel was om elke dag skool toe te gaan en wanneer hy huis toe gaan, was daar niks om te eet nie? Hy het gesê hy moes by die inkoopsentrum in die asdromme gaan krap met die hoop dat hy iets sou vind om te eet,” het Eugenia Gcilishe, stigter van die sopkombuis Bridge of Hope in Katutura, gesê.

“Ek het nooit sy woorde vergeet nie en nadat ek die klaskamer vir altyd verlaat het, het ek begin om iets aan die situasie van soveel kinders in die gemeenskap te doen.”

ONDERWYSER

Eugenia het op 19-jarige ouderdom in Suid-Afrika begin skoolhou. Toe sy 24 en getroud was, het sy na Namibië verhuis.

“My skoonma was een van die eerste verpleegsters wat Suidwes-Afrika toe gekom het. My man het op ’n dag gesê hy is in Windhoek gebore, maar hy het geen idee hoe dit daar lyk nie. Hy wou hê ons moes gaan kyk en in 1974 het ons soontoe getrek.”

Eugenia kon nie Afrikaans praat nie. Sy het na die staatshospitaal gegaan om vir werk aansoek te doen.

“Die matrone het egter gesê daar is geen manier nie en het haar man gebel wat ’n direkteur van onderwys was. Ek het hom gaan sien en drie dae later by die nou Junior Sekondêre Skool Goreangab begin werk. Ek kon nie ’n woord Afrikaans praat nie en die kinders het my gehelp. Ek het elke aand tot middernag gesit om die lesse op te stel en gehoop dit is reg en dat die kinders die werk sal verstaan. Ek het myself in die aande geleer.”

Sy het vinnig besef talle kinders kom honger skool toe en dat daar ’n werklike behoefte bestaan.

“Kinders het flou geval en hulle het gesê daar is nie kos by die huis nie. Ek het begin om my middagete met hulle te deel. Só het my passie begin om kinders te help.”

Nadat sy vir 30 jaar by dieselfde skool gewerk het, het sy bedank om haar suster in Suid-Afrika te versorg. Sy het teruggekom en aan die seun in haar klaskamer gedink en aan die Bridge op Hope-sopkombuis begin werk.

SOPKOMBUIS

Sy het eers vir 50 kinders toebroodjies, ’n vrug en sap gegee.

“Die idee was dat hulle dit die volgende dag ná skool by die huis sal eet. Hulle het egter teruggekom en gesê die brood was klaar opgeëet voor hulle by die huis gekom het. Ek het besef ek sal kos moet kook en hulle sal hier moet eet.”

In Oktober 2010 het sy haar potte op die stoof gesit en vir 60 kinders begin kook. Vandag kom eet 142 kinders vyf keer per week by haar.

“Ek het met my eie geld begin en gebid dat die Here mense op my pad sal stuur wat die pad saam met my sal stap.”

Die gesondheidsministerie het in 2013 haar vir ’n jaar lank ondersteun. Sy het ook ’n brief aan al die Namibiese ambassades in die buiteland gestuur.

“Eendag het ek ’n oproep gekry van ’n vrou wat ’n Nederlandse organisasie hier in Windhoek verteenwoordig en sy het die brief uit Nederland gekry. Sy het hier kom kuier en gesê sy wil haar pastoor van my vertel. Die organisasie het my ook baie goed ondersteun.”

Die vrou het haar pastoor van Bridge of Hope vertel en hy het ’n groot kartonboks in die kerk opgesit en vir sy lidmate gevra om elke maand iets in die boks te sit.

“Die pastoor het ook vir Christo de Jager van die Windhoek Country Club & Hotel van my vertel en dit is hoe ons verhouding begin het.”

ONDERSTEUNING

“Christo het in Mei 2023 na ons toe gekom en gesê hulle wil graag help. Die eerste ding wat hulle gedoen het, is om vir die sopkombuis mooi borde, bekers en eetlepels te gee. Daarna het hulle vir ons stoele gegee. Hulle help ons ook maandeliks met kos,” het Eugenia gesê.

“Die hulp wat ons gee is gewoonlik vir ’n jaar weens ons begroting. Eugenia het my gebel en gesê sy ervaar uitdagings met twee van die seuns. Freddy het taxigeld benodig om by die Hoërskool Jan Mohr uit te kom. Ek het met Tony Boucher, die uitvoerende hoof van Windhoek Country Club & Hotel, gepraat en hy het die vervoergeld goedgekeur. Geraldo het handboeke nodig gehad en weer eens het ek met Tony gepraat en hy het weer ingestem,” het Christo, die finansiële kontroleerder van die Windhoek Country Club & Hotel, gesê.

Eugenia ken vir Frederick (Freddy) Shimonene en Geraldo Levi van graad 1 af toe hulle die eerste keer die sopkombuis besoek het.

“Bridge of Hope gee net kos aan kinders wat skool toe gaan. Ek ken hulle al so lank en beide was prefekte op laerskool. Hulle was nooit stout nie en het altyd agter die ander kinders gekyk. Ek het geweet dat hulle eendag voorbeeldige mans sal wees. Mans wat net uit hulle omstandighede moet uitkom. Mans wat net ’n kans nodig het. So ek het Christo van hulle vertel.”

Christo het na verskeie gesprekke met Freddy en Geraldo met Tony gaan praat, wat ingestem het om beide ’n volle beurs te gee.

“Dit is die eerste keer dat ons ’n beurs gee. Beide kom uit uitdagende omstandighede en beide het nooit opgegee nie. Hulle het nie by graad 11 opgehou nie, hulle het graad 12 voltooi. Die beurs is nie ’n beloning vir akademiese uitnemendheid nie, dis ’n beloning vir menslike potensiaal. As hulle terug na die gemeenskap gaan en die ander kinders inspireer om die sirkel van armoede te breek – dis al wat ons wil hê,” het Christo gesê.

FREDDY SHIMONENE

Freddy is 19 jaar oud en het verlede jaar sy graad 12 (AS vlak) met 36 punte voltooi. Hy het ook die hoogste punte in entrepreneurskap in sy graad gekry.

“My lewe was nie maklik nie. My ma is ná ’n werksongeluk as ’n persoon met ’n gestremdheid geklassifiseer en niemand wou haar daarna ’n werk gee nie. My pa is ’n Kongolese burger wat nie altyd ’n visum gekry het om te kom kuier nie. Ek het hom baie min gesien. My ma het altyd gesê ek moet leer en ons uit hierdie lokasie uitkry.

“Nelson Mandela het gesê: ‘Onderwys is die sleutel tot sukses.’ Dit is nog steeds teen my muur. Alles het my gedryf om uit my omstandighede uit te kom. My omgewing, die kinders rondom my wat nie opleiding ernstig opneem nie. My ma wat wil hê ek moet haar uitkry. Mnre. Christo en Boucher wat my die geleentheid gee om te kan studeer. Ek het met elke vak wat ek in my finale eksamen geskryf het net aan die beurs gedink en dit het my aangespoor om beter te doen – om aan te hou.”

Freddy gaan ’n driejaarkursus in besigheidsbestuur by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) studeer.

GERALDO LEVI

Die 18-jarige Geraldo gaan ook ’n driejaarkursus by Nust studeer, maar sy passie is toerisme en gasvryheid.

“Ek is hier in die lokasie gebore. My omstandighede het my geïnspireer om goed op skool te doen. Om iets met my lewe te wil doen. My pa werk as ’n skoonmaker by ’n skool en my ma het nie werk nie. Ons bly in ’n huis met twee kamers en dit alles het my gedryf. Dit en my geloof. Vandat ek kan lees, lees ek die Bybel; dit motiveer my.”

Hy het graad 12 (AS-vlak) met 41 punte voltooi.

“Ek gaan toerisme studeer omdat dit wêreldwyd die grootste werkgewer is. Ek dink ook aan die toekoms en kunsmatige intelligensie (KI) gaan baie werksgeleenthede van mense wegvat, maar toerisme, toergidse, mense wat iemand by die hotel in ontvangs neem, kan nie deur KI vervang word nie.”

Sy raad aan ander jong mense in moeilike omstandighede is om nooit moed op te gee nie, ongeag jou omstandighede of wat jy deurgaan.

“Onthou God is met jou.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!