No Image Caption

Speletjie slaan verveeldheid hok

Wildbesigtigingstoere is weer pret
'n Vyftienjarige het 'n speletjie Safari Bingo vir nasionale parke uitgedink en ontwikkel.
Tanja Bause
“Toe ek hoor ons gaan weer op ’n wildbesigtigingstoer, het ek vinnig die speletjie aanmekaar geslaan. Ek het dit uitgedink en ontwikkel om die toere wat vervelig begin raak het, weer opwindend en pret te maak,” het Clara van Heerden (15), ontwerper van die speletjie Safari Bingo, gesê.

Clara is in Windhoek gebore en sy is tans in graad 9 in die Deutsche Höhere Privatschule (DHPS).

“My pa is in die toerismebedryf en van kleins af het ons vakansies as familie altyd talle wldbesigtigingstoere meegemaak. Dit het na ’n tyd vervelig begin raak om dieselfde diere oor en oor te sien. Wanneer jy 100 sebras gesien het, het jy hulle gesien. Die een lyk net soos die ander. Ek wou dit met ’n speletjie weer interessant maak. ’n Speletjie wat jy saam in die voertuig kan vat en saam met almal kan geniet.”

Die familie het die meeste kere in die Zambezi getoer, maar ook Etosha en toere op die plaas was algemeen. Twee jaar gelede was hulle gedurende die Kersvakansie in die Zambezi toe Clara se ouers die oggend aankondig dat hulle later die dag in die Nkasa Lupapa Nasionale Park diere gaan besigtig.

“Ek het net gedink nee, nie nog ’n vervelige toer nie en vinnig ’n paar foto’s bymekaar gekry en ’n baie klein Bingo begin wat ek en Leon, my broer, in die voertuig kon speel. Dit was regtig die begin van die idee en die speletjie.”

Die eerste Safari Bingo gaan oor diere in Etosha en word dus die Etosha Safari Bingo genoem.

Die speletjie bestaan uit vier kaarte met dierefoto’s van die diere wat jy moet soek. Daar is ook ’n inligtingsblad waarop interessante feite oor elke dier of voël aangeteken is. Die reëls is ook duidelik uiteengesit en ’n pen rond die hele pakket af.

“Ek het besluit om voëls ook op my kaarte in te sluit sodat mense weer in voëls kan begin belangstel deur hulle te soek.”

Clara het besluit om met Etosha te begin omdat die meeste toeriste soontoe gaan.

“Die speletjie kan op twee verskillende maniere gespeel word. Die gevorderde spelers moet die blouwildebees op die Etosha Bingo-kaart vind en dan kan hulle dit afmerk. Die beginners kan enige soort wildebees wat jy in die park vind, afmerk.”

Die Etosha Bingo het vyf roofdiere, 13 groot dierspesies, vier klein dierspesies en 14 voëlspesies wat in die park voorkom en wat gesoek moet word om die speletjie te kan wen.

“Dit is ’n speletjie vir die hele familie. Dit is my idee, maar my hele familie het daaraan gewerk en gehelp om dit te ontwikkel. Ek het die reëls self uitgedink en het tussendeur dit verander en verbeter. Soos byvoorbeeld wanneer jy ’n dier sien, moet nog iemand in die voertuig dieselfde dier sien voordat jy dit mag afmerk. My broer het veral met voëls probeer kroek. Hy het gesê daar is so en so ’n voël, net om direk daarna te sê die voël het weggevlieg. Dit is hoekom ek die reël gemaak het.”

Aanvanklik was Safari Bingo net iets wat Clara wou doen om haar en Leon se verveeldheid hok te slaan.

“Ek het met my ma oor my idee gepraat en sy het voorgestel dat ek dit behoorlik ontwerp sodat dit verkoop kan word. Ek het eers gedink sy maak ’n grap, maar hoe meer ons gesels en idees gewissel het, hoe meer het die speletjie vorm aangeneem.”

Die foto’s vir die Bingo het die familie self geneem. Die moeilikste was om die diere regverdig op die kaarte te verdeel sodat almal ’n gelyke kans staan om te wen.

“Elke kaart het ’n roofdier, ’n kleinerige dier, ’n maklike bokspesie en ’n bietjie moeiliker bokspesie, asook ’n klein en groot voëlspesie op die kaart. Ons het al die diere se name op ’n lys gesit en dan begin uitdun. As die dier net ’n sekere tyd in die park voorkom, is hy geskrap. As die dier net snags beweeg, is hy afgehaal. Ons het dit gedoen om so regverdig as moontlik te wees.”

Die volgende Safari Bingo wat Clara reeds aan werk, is vir die hele Zambezi. Dit sal diere van die parke Bwabwata, Nkasa Lupara en Mundumu insluit.

“Die pandemie het ons gehelp. My ouers is werksaam in die toerismebedryf en daar was geen toeriste nie. Almal wat gehelp het, is in dieselfde bedryf en was by die huis. Dit was ’n groot voordeel omdat ons kon sit en aan die speletjie werk. Covid het ons die kans gegee om dinge toe doen wat ons normaalweg nie tyd voor gehad het nie.”

TOEKOMS EN RAAD

Alhoewel Clara baie lief vir die land en sy natuur is, stel sy nie in die toerismebedryf belang nie.

“Dit is nie vir my nie. Ek stel in grafiese ontwerp belang, maar eintlik wil ek graag Duitsland toe gaan en by die Duitse weermag aansluit. Ek is baie sportief en kan soos baie ander Namibiërs reeds skiet. So ek wil daar aansluit en dan deur hulle grafiese ontwerp studeer. Ná my studies sal ek terug Namibie toe kom. Dit is net té koud in Duitsland om daar te wil bly en ek sal baie na my familie en my land verlang.”

RAAD

“As jy ’n idee het vertel jou familie, ’n goeie vriend of iemand wat na aan jou is daarvan. Iemand wat jou sal ondersteun en raad gee. Begin net en praat oor jou idee. As dit nie lekker is nie, moet dit nie doen nie, maar as dit is, moet jy vir dit werk. Bou aan jou idee en praat met iemand daaroor en begin daaraan werk.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!