Statige laaste eerbetoon vir grootse monarg

Koningin Elizabeth se diens aan die Britse volk, die Statebond en die wêreld was gegrond op haar geloof in God.

So het biskop Justin Welby, aartsbiskop van Kantelberg, Maandag op die amptelike staatsbegrafnisdiens van koningin Elizabeth in die eeue oue Westminster-abdy in Londen gesê.

Koningin Elizabeth is in 1953 in die Westminster-abdy gekroon en sy is ook in 1947 daar met prins Philip getroud.

“Sy het die kroningsplegtigheid met ’n stille gebed aan God begin. Dit is waarop haar heerskappy gegrond was,” het Welby gesê.

’n Somber en gewyde atmosfeer het van vroeg Maandagoggend af geheers in die Westminster-abdy, waar staatshoofde, koninklikes en hooggeplaastes byeengekom het om van Engeland se langsdienende monarg afskeid te neem nadat sy 70 jaar geheers het.

Reuse-blommeruikers van wit lelies, wit swaardlelies en groen loof is oral in die abdy geplaas.

Die blomme op die koningin se kis was in verskillende skakerings van pienk en dieprooi rose, gemeng met roosmaryntakke, loof en ander blomme wat uit haar tuin gekom het. ’n Wit koevert van haar oudste seun, koning Charles III, was in die ruiker gedruk.

“In liefdevolle en toegewyde herinnering,” het die nota gelui. Die koningin se kroon was ook op die kis.

Welby het tydens die diens gesê koningin Elizabeth het op haar 21ste verjaardag belowe om haar hele lewe te wy daaraan om haar land te dien. “Dit is uiters raar dat so ’n belofte gestand gedoen word, soos wat die koningin dit gedoen het.”

Hy het die koningin, wat op 8 September op 96-jarige ouderdom in Balmoral in Skotland dood is, beskryf as iemand vol blydskap wat die lewe van baie mense geraak het.

“Sy het ’n betekenisvolle lewe in oorvloed gehad.”

Ná etlike skriflesings, uit onder meer 1 Korinthiërs, is daar om 11:55 twee minute se stilte gehou.

BBC, CNN en SkyNews het ook gewys hoe mense elders in Engeland die twee minute van stilte handhaaf.

“God Save the King” is gesing voordat “Sleep Dearie, Sleep” op ’n doedelsak gespeel is. Die note het stadig in die lug weggesweef soos die doedelsakspeler weggestap het. Die kis is daarna deur soldate op hul skouers uitgedra, met lede van die koninklike familie wat agterna gestap het terwyl wêreldleiers en koninklikes uit Europa toegekyk het.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!