Stilsit is nie ’n opsie

Tanja Bause
“Ons wou ’n lodge bou, maar Covid het ons planne in die wiele gery en ons het besluit om ’n trouvenue te bou. Toe bou ons ’n kerk en later die restaurant,” het Annelene Niewoudt van Etosha Corner buite Outjo gesê.

Haar man, Don, het altyd toeriste op woestyntoere geneem en drie jaar gelede het hy besluit hy wil iets van sy eie besit. Hy het die grond gekoop en planne begin maak.

“Soos ek gebou het, so het ek inspirasie gekry en die projek het begin loop. Ek het alles self gebou. Ek het begin met die venue en ’n vrou wil in ’n kerk trou – toe bou ek ’n kerk.

“Die volgende logiese stap was ’n restaurant sodat ons vir die gaste kos kan voorsit. Toe kom die padstal, die ondergrondse wynkelder en die koidam,” het Don gesê.

Etosha Corner spog ook – te danke aan Annelene – met ’n kwekery. Plante en tuinmaak was nog altyd haar stokperdjie.

“Toe het ek te veel plante en besluit om die kwekery by Etosha Corner te begin. Ek het baie vetplante. Hulle is my gunstelingplante omdat dit so droog hier is en wanneer ’n vetplant blom is dit ongelooflik mooi.

“Ook hoe meer vetplante jy bymekaar plant, hoe mooier lyk dit. Ek is altyd op soek na nuwe plante en veral verskillende soorte. Die absolute gunsteling is die woestynroos en mens kry soveel verskillende soorte,” het Annelene gesê.

Die trouvenue kan 250 mense akkommodeer en Etosha Corner doen alles – van die dekor, ruikers, blomme tot die kos.

Annelene maak ook meeste van die handwerkprodukte self wat by die padstal te koop is. Don maak weer al die souse en ingelegde produkte.

“Ek maak al die souse en van my brandrissiesouse word ook in ander winkels in die land verkoop.”

Don het ook ’n ondergrondse wynkelder met ’n sigaarhoekie.

“Toe ek jonger was het ek al die wynkursusse gedoen en ek ken wyn. Volgende jaar wil ek ook begin om my eie jenewer te maak. Ek het pas ’n man van Suid-Afrika hier gehad wat my alles van die kuns geleer het. Ek wil maroela, mopanie en plante van die Noorde vir my jenewer gebruik. Ek wil ook graag ’n mopaniewurm-jenewer maak.”

Don beplan ook om drie boetiekbiere te brou. Stilsit is vir beide nie ’n opsie nie en Annelene wil nog graag ’n minigholfbaan agter haar kweekhuis bou. Don het 16 hoë-sekuriteit erwe geallokeer en sal ’n huis op elkeen bou.

“Ek dink daar is ’n groot behoefte vir so ’n plek. Ons is al ouer en daar is baie ouerige mense wat in so ’n veilige plek saam kan woon. Ons kan na mekaar kyk en help.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!