Stilsit nie ’n opsie vir Noeline
Gesels oor haar grootwordjare in Khomasdal
Mense moet na mekaar kyk en nie meer toe oë in die wêreld rondloop nie, sê Noeline Graig Januarie.
“Ons was ’n hele gang wat na die veld langs Goreangabdam geloop het, uit die bioskoop geglip het om te gaan dans en saam mekaar se huise van bo tot onder skoongemaak het,” het Noeline Graig Januarie gesê.
Nola soos sy alombekend is, vertel van onder andere haar grootwordjare in Khomasdal.
“Ek het in die hartjie van Khomasdal grootgeword, in die sogenaamde Laeveld. Ons het dit so genoem omdat ons almal saam in ’n groot groep grootgeword het; saam met die bure en die kinders van ons straat en die straat voor en agter ons huis. Ons was een groot gang wat alles saam gedoen het,” het sy gesê.
Haar pa was ’n onderwyser en al die onderwysers het in hulle straat gewoon.
“Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar al die onderwysers was in een straat. So jy moes jou beste voetjie voorsit, jy kon nie verkeerd trap in daardie tyd nie. En soos die grootmense daai tyd was, as die een iets verkeerd doen dan word die hele bondel gesuiker sweep. Ons het almal pak gekry of jy by was of nie.”
Sy onthou elke Vrydag ná skool is al die huise in die straat van bo tot onder skoongemaak.
“Ons het dit uitturn genoem, dit beteken jy het die meubels rondgeskuif, onder die beddens ingeklim en die stoep met Cobra gepolitoer. Van ver af ruik jy die Cobra-politoer. As jy en jou vriendinne klaar met jou huis was, is jy oor na hulle huise toe om te help. So is elke huis uitgeturn.”
VELD
“Ons stoutdae was ook daar soos ons ouer geword het en dingetjies uitgevind het. Ek onthou daardie jare was dit Lexington- en Gold Dollar-sigarette. Daar was 10 in ’n pakkie en is gwais, gifpyltjies of long chargers genoem.”
Toe die groep in graad 10 was, het hulle by die skool al besluit waar en wanneer hulle die Saterdagmiddag gaan ontmoet. Hulle het saam na die Goreangabdam gestap om te ontspan en om die kinders wat nie kon swem nie, te leer swem.
“Ons het op die grondpaaie veldlangs gestap. Ons het bessies en peule afgepluk en al die goed gedoen wat kinders vandag nie ken nie. Ons het bome geklim op soek na boomgom of hyra.
“Jy kon keelaf gaan as jou bondel gom die grootse een was. Ons het die bessiebosse ons kerke genoem. Die bessies was die gemeente en as jy die kerk met die grootste gemeente ontdek het, kon jy ook spog. Ons het sulke geel en groen ertebekers (blikbekers) daagliks vol bessies gepluk.”
“Dit was die ou mense se koffiebekers. Jy moet net seker gemaak het hulle het klaar koffie gedrink. Dan het jy die beker geskep en saggies uit die huis gedra. Niemand kon jou sien nie, anders as hulle die beker gesoek het, is jy in die moeilikheid omdat jy nie gevra het of jy hom mag gebruik nie. Aan die ander kant kon jy ook nie vra om die beker vir bessies te gebruik nie, want ’n beker is vir koffie bedoel en nie bessies nie.”
BIOSKOOP
Daardie tyd was daar net een bioskoop en wanneer ’n fliek gedraai het, het die hele gemeenskap die fliek gaan kyk.
“Nou moet jy self weet hoeveel mense in die saal was en soms was daar nie sitplek nie. So ons kinders het heel agter teen die muur gaan staan. Nou daai was ons weggliptyd.
“Die nagklub was nie ver van die bioskoop af nie. Ons het die oumense ingevat en presies geweet waar hulle sit. Ons het agter gaan staan en sodra die fliek begin het, het ons gedodge.
“Die fliek en die nagklub het beide 20:00 begin. Die fliek het 23:00 opgehou. So dit was ’n vinnige wegglip en gaan jazz en terug fliek toe sodat ons saam met die oumense kon huis toe loop.
“Die fliek het ook ’n pouse gehad, so ons het groepe gemaak wat teruggegaan het sodat die oumense kon sien ons koop ons R1 pakkie tjips, die harde swart Wilson-toffies wat jou kake amper uitskeer en die creamy toffie. Die creamy toffie is met ’n kung fu-styl gekap dat dit kan breek. Dit is dan in die mond in en jy het gekou en kou tot dit klaar is.”
NIPPIE
Hulle het eers met drank kennis gemaak toe hulle in Suid-Afrika gaan studeer het.
“You can stay as you are for the rest of your life or you can change to Mainstay. Dit was ons liedjie. Ons het begin met Mainstay. Ons het almal sakgeld verdien met yardse hark, wingerde omskoffel en die vyebome se beddings mooimaak.
“Die geld is alles in ’n bondel gegooi en wanneer ons bymekaargekom het, is die geld gebruik om ’n nippie te koop. Daar was nooit geld vir ’n chaser nie, of ons het nie van ’n chaser geweet nie. Elkeen het ’n sip gekry en almal het mekaar dopgehou om seker te maak niemand vat ’n groter sip as die ander een nie.”
BANK EN MODELSKOOL
Nola het haar skoolloopbaan in die Kaap voltooi en is daarna na die onderwyskollege in Windhoek.
“Jy kan dink hoeveel van ons is na die kollege toe nadat ons skool geslaag het, want onse paens was onderwysers en ons moes die nageslag in onderwys opbou.”
Sy het egter ná twee jaar opgeskop aangesien sy besef het sy was nie so lief vir ander kinders nie. ’n Vriendin het haar vertel dat die bank iemand soek en sy het vir ’n onderhoud gegaan. Sy het dieselfde dag by Wesbank as ’n liasseerklerk begin werk.
“Almal was baie trots; hulle het gedink ek tel note, stof hulle af en maak die coins blink of so iets.”
Sy het gedurende pouses by ander mense gaan staan en vir hulle oor hulle werk uitgevra en só geleer.
Een van die tellers was eendag siek en sy het ingespring en ’n aflosteller geword.
Terwyl sy by die bank gewerk het, het sy ’n Austin Apache gekoop.
“Ek het nie ’n lisensie gehad nie; net ’n leerlinglisensie wat ek met 90% geslaag het. Die speedcops het my geken, maar hulle het my nooit gestop nie. Dit was daai tyd wat jy hulle geken het. Jy het gepraat van Piet Spietkop en so wanneer ek verby hulle gery het, het ek gewaai en hulle het teruggewaai en dit was dit.”
Sy het ook haar modelskool Apache genoem.
Terwyl sy by die onderwyskollege was, het sy ’n modelskool begin.
“Ons het met die geel Apache Walvisbaai toe gery vir shows. Ons is gevra om shows te doen wanneer daar iemand van Suid-Afrika kom sing het om dit meer interessant te maak.
“As ons te veel models was en nie in die kar gepas het nie, dan het ons die trein gevat. Daar word nie op die trein geslaap nie, ons het gesels en gekuier.”
Nola onthou toe sy dun hakkies aangehad het en een van die hakke in die plankvloer vasgehak het.
“Ek weet nie hoe ek my voet uit die skoen gekry het nie, maar ek het en is so huppel-huppel verder. Met die terugkomslag het ek die skoen opgetel en oor my skouer gesit. Almal het gedink dit is deel van die show en ek adverteer die skoen.”
CEDRIC
Nola en Cedric het ontmoet toe sy in Kaapstad op skool was. Hulle het kontak gehou toe sy terug na Namibië gekom het.
“Ons was nog steeds in kontak en die liefde het oor die foon geblom. Dit was daai destydse nommer asseblief-telefoonhokkies waar jy klomp rande moes ingooi sodat jy genoeg tyd gehad het om te praat.”
Hulle het vir vyf jaar so gekuier tot Cedric Windhoek toe gekom het en hulle getroud is. Kort daarna het hy ’n pos in Johannesburg aanvaar en Nola het ’n oorplasing na FNB in Boksburg gekry en as teller begin werk.
“Ek het myself opgewerk na ’n grootmaat-teller en die hele mynwerkers se geld gedoen wanneer hulle een keer per maand ingekom het.
“Dit was baie lekker, ek het nie hulle name geken nie en name opgemaak volgens hoe die persoon lyk. So wanneer ek opgekyk het, het ek gesien daar staan Oompie Brilletjies of Oompie Boeppensie.”
Die bank het haar genader en gesê sy is gekies om in die middel van Johannesburg in die handelskamer te gaan werk.
“Daar het 100 mense van oraloor die wêreld gewerk. Ek het as ’n ondersteuningsklerk begin en myself weer opgewerk tot toesighouer oor 20 mense.
“Soos ek maar nog altyd gedoen het, het ek weer vir ons rekenmeester Agnes gevra wat sy doen en hoe sy dit doen en by haar geleer en toe sy weg is, het ek die seksiehoof geword. Daardie jare was die mooistes van my lewe.
“Ons was verskillende nasies van oraloor die wêreld; almal met hulle eie kerke, godsdiens en opvoeding. Die respek wat ons vir mekaar gehad het. Niemand het gegil of was onbeskof nie. Ek voel as almal hulle werk reg doen, is dit nie nodig om te gil of onbeskof te wees nie en dan hoef daar nie stres te wees nie.”
Hulle het ook ’n kroeg gehad waar mense op ’n Vrydag om 16:00 bymekaargekom het.
“Almal moes daar wees. Ons het hard gewerk en by die kroeg het ons ontspan en bande opgebou. Ons het mekaar leer ken en besef ons almal is net mense. Ons is een span in die handelskamer en daar is geen verskil.”
NAMIBIë
Nadat Nelson Mandela vrygelaat is, het Nola ’n paar keer geweld beleef en besluit om terug na haar vredeliewende land te keer. Sy het bedank en in Windhoek as finansiële kontroleerder in ’n bank begin werk.
“Die trek was ’n groot aanpassing. Die tyd en mense was stadiger. Die son het erger gebrand en die verkeer was ’n gemors. Windhoek is klein en daar is geen snelweë nie. Daar was net een straat wat almal gebruik het.”
TUSITALA
Tusitala was ’n nagklub, vermaaksentrum en ’n wegneemeteplek naby die Sekondêre Skool David Bezuidenhout.
“In die oggend het die mense van Social Security by my kom eet en in die middae die skoolkinders. Onlangs het ’n man vir my gesê hy was 10 jaar oud toe hy by Tusitala geeët het. Ek het altyd die brötchens wat oor was van die oggend se gejaag, gevat en tjips opgesit. Dan het ek Drink-o-Pop aangemaak. Ek het dit vir die kinders gegee wat dit nie kon bekostig nie. Hulle het op die stoep gesit en geëet voor hulle huis toe is en hy was een van hulle.”
Dit was in die tyd toe die huise in Otjomuise nog in die boufase was. Mense van Khomasdal en Otjomuise het daar kom dans.
“Die gang van doerdie tyd het weer daar bymekaargekom en ons het lekker gekuier. Ongelukkig was daar – wanneer die klub toegemaak het – geen taxi’s na Otjomuise nie. So ons het saam met die mense in die klub gesit en wag tot 06:00. Dit was heerlik – die nugter- en die drinkpraat, die lag. As jy oordrink was, het jy net daar gaan lê en tiep tot die volgende oggend wanneer jy huis toe is.”
SWAKOPMUND
Agt jaar gelede is Nola en Cedric se dogter in Walvisbaai getroud en terwyl hulle nog vakansie gehou het, het Cedric ’n werk in die boubedryf gekry.
“Ons het Swakopmund toe getrek en ek het nie lank daarna vir C.C -AN-B Fire Service begin werk nie. Ek kan nie rus en stilsit nie. Wanneer ek by die huis sit, voel ek die polise gaan my kom haal. Ek voel ek doen iets onwettigs.”
MOTTO
“My pa het altyd gesê, “as jy iemand anders uit die gat uithelp, dan lig jy jouself op”. Jy het die krag nodig om die persoon op te lig en dan lig jy jouself ook hoër op. So hoe hoër jy gaan, hoe meer blessings sal jy kry.
“Mense moet na mekaar kyk en nie meer toe oë in die wêreld rondloop nie. Hulle moet nie dink hy het net sy sente vir homself nodig nie. Hoe meer jy uitreik, hoe meer kry jy terug.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie