'Sukses is ook om ander te inspireer'
Van ’n nedersetting in die noorde van Namibië, tot een van die jongste persone wat as assosiaat-professor by die Universiteit Stellenbosch aangestel is.
Die 35-jarige Mesias Alfeus, ’n finansiële wiskundige, is in die Onamutai-nedersetting in Ohangwena gebore en het primêre skool in dieselfde gebied bygewoon, totdat hy eers die skoolbanke verlaat het om na sy oupa se vee om te sien.
Ten spyte hiervan, sê Mesias, was hy steeds vasbeslote om met sy onderrig voort te gaan. Met sy terugkeer skool toe, blink hy uit en behaal matriek aan die Hoërskool Mweshipandeka waar hy die gesogte algehele toekenning verower vir die beste leerling in hoërgraad-wiskunde. Sy akademiese reis kry ’n beduidende hupstoot toe hy ’n beurs van die Petro Fund ontvang om ingenieurswese aan die voormalige Politech en die huidige Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) te studeer.
Mesias het egter gevoel sy belangstelling in wiskunde is nie ten volle in dié veld gedek nie. Sy wiskundige drome word bewaarheid toe hy Veston Malango, die uitvoerende hoof van die Kamer van Mynwese, ontmoet wat hom help om nog ’n beurs van die Minerale Ontwikkelingsfonds te kry om suiwer en toegepaste wiskunde te studeer.
Mesias beskryf sy verhaal as een van deursettingsvermoë en veerkragtigheid. Hy deel die trauma wat hy ervaar het toe hy ’n hele paar jaar gelede weens sy swak vaardigheid in Engels aanvanklik by die Universiteit Stellenbosch afgekeur is, iets wat sy lewe vir altyd sou verander.
Verskeie akademiese prestasies en toekennings later, het hy weer by dié universiteit beland. In 2016 ontvang hy ’n internasionale navorsingsbeurs by die Australiese regering se navorsingsopleidingsprogram en vertrek na Sydney om ’n PhD in kwantitatiewe finansies aan die Universiteit van Tegnologie Sydney (UTS) se Sakeskool aan te pak.
Hier voltooi Mesias sy doktorsgraad in ’n rekordtyd en word sy tesis oor stogastiese modellering van nuwe verskynsels in finansiële markte deur eksaminators geloof as die beste tesis in finansies. Met dié sukses slaan hy ’n pos as dosent aan die Universiteit van Wollongong in Australië los.
Mesias vertel sy passie vir wiskunde het op ’n vroeë ouderdom in sy nedersetting begin waar hy die tradisionele speletjie “Owela womanghete” saam met sy oumagrootjie gespeel het. Sy natuurlike vermoë vir die speletjie het daartoe gelei dat ander toe reeds voorspel het hy gaan in wiskunde uitblink.
“My dryfkrag in die akademie word aangevuur deur my passie om teoretiese insigte met werklike toepassings te kombineer, my toewyding aan mentorskap, en my visie om kwantitatiewe finansiële onderwys en navorsing in Afrika te bevorder.
“Ek wil graag hê dat my reis die impak van deursettingsvermoë, intellektuele nuuskierigheid en ’n toewyding aan die bevordering van kennis moet toon wat beide die akademiese en finansiële industrieë bevoordeel,” het hy verduidelik.
Mesias se boodskap aan die Namibiese jeug beklemtoon die belangrikheid van uithouvermoë, onderrig en ’n bereidwilligheid om uitdagings te omarm.
“Ek pleit daarvoor om ’n mens se unieke agtergrond as ’n sterkpunt te gebruik en daarna te streef om betekenisvolle bydraes tot wêreldwye gesprekke te maak terwyl ek gewortel bly in plaaslike kontekste. “Droom groot, maar tree ‘nog groter’ op. Jou agtergrond is nie ’n beperking nie, maar ’n basis. Soek geleenthede om te leer, bou netwerke en gee terug aan jou gemeenskap.
“Sukses is nie net oor wat jy self bereik het nie, maar om ander te inspireer om ook hoog te vlieg,” het hy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie