Sy hande staan vir niks verkeerd
Windhoeker herstel van handsakke tot daktente
Fillemon Sheya sê hy wil ander mense leer en oplei sodat hulle vir hulself 'n beter lewe kan skep.
“Ek is nie ’n baie opgevoede man nie, maar ek wil leer, my talent gebruik en werk om brood op my familie se tafel te sit. Ek kyk vir die jeug en die mense om my wat net by die huis bly, slaap en almal blameer omdat dit sleg met hulle gaan. Hulle glo dit gaan sleg omdat almal teen hulle is en nie omdat hulle nie wil werk nie,” het Fillemon Sheya van Shoka Upholstery, Manufacturing and Design gesê.
Fillemon is op Ondangwa in die noorde van die land gebore en hy het ook daar skoolgegaan.
“Ek het graad 10 gedruip en ek kon ook nie verder gaan omdat daar nie geld was nie. Beide my ouers was werkloos en daar was eenvoudig net nie geld nie. Ek het toe besluit om op ’n plaas naby Otjozondu anderkant Okahandja te gaan werk. Ek was ’n plaaswerker en het op die lande gewerk.”
Fillemon het in 2010 ná vier jaar op die plaas Windhoek toe gegaan.
“Ek het eers alles verkoop soos die Zimbabwiërs; ek het sokkies, onderbroeke en plakkies op straat verkoop. Toe het ek ’n snoepie voor my sinkhuis in Okuryangava begin en appels, uie en ander groente verkoop. Ek wou egter meer doen en leer en het by February Upholstery gaan aanklop.”
STOFFERING
“Ek was soos ’n spons en het alles opgesuig en ingeneem. Ek het elke werker dopgehou en geleer. As iemand my geroep het, het ek soontoe gehaas want ek kon en wou iets nuuts leer.”
Hy vertel toe hy vir die eerste keer op ’n naaimasjien moes werk en nie geweet het hoe om die masjien behoorlik te gebruik nie.
“Ek was te hardhandig met die naaimasjien bloot omdat ek onkundig was en die masjien het gebreek. My baas wou weet hoekom ek dit gebreek het. Ek het toe aan hom verduidelik ek wou iets nuuts leer en weet hoe dit werk. Hy het gesê hy sal vir die herstelwerk betaal omdat ek eerlik was en wil leer.”
Fillemon het in 2014 by ’n besigheid begin werk wat sakke en omhulsels uit seil vir veral kamptoerusting maak.
“Ek het aan die begin van verlede jaar bedank. Ons salaris was min en toe ek bedank het, het ek sonder pensioen uitgestap. Ek het vir myself gesê: ‘Jy werk elke dag vir iemand anders en jy sukkel om voor te bly. So Fillemon, begin vir jouself werk en sukkel vir jouself’.” Ek het middel verlede jaar met Shoka Upholstery, Manufacturing and Design begin.”
SHOKA
Fillemon ontwerp onder meer handsakke, inkoopsake, beursies en meubels wat hy dan ook self maak.
“Ek kan alles met naald en gare regmaak, behalwe klere. Ek maak nie klere reg nie. Die res maak nie saak of dit leer, doek of seil is nie, ek kan dit herstel of nuut maak. Ek kan selfs kampeerstoele regmaak. Solank die raamwerk nog reg is, kan ek dit met doek oortrek. ’n Voertuig se sitplek, ’n handsak of ’n daktent, niks is te klein of te groot nie.”
Fillemon het – toe hy nog by die ander werk werksaam was – meubels na-ure en oor naweke vir mense in die informele nedersetting herstel.
Hy het dié geld gespaar en toe hy vir Shoka begin het, het hy ’n naaimasjien en ’n kompressor gekoop.
“Dis my eie masjiene wat ek van my eie geld gekoop het. Wanneer ek ’n meubelstuk klaar herstel het, dan huur ek ’n voertuig sodat ek dit kan aflewer. Ek kan ongelukkig nie ’n voertuig bekostig nie.”
TOEKOMS
“Die jeug wil nie werk nie, hulle sit net en blameer ander mense en die regering vir alles. Ek sê: ‘Mense ons moet werk’. Ek wil nie alleen in die besigheid wees nie, ek wil ander mense leer en oplei sodat hulle vir hulself ’n beter lewe kan skep.
“Baie mense wat nie in my gemeenskap is nie, het my aangemoedig om aan te gaan en vooruit te streef. Hulle het altyd gesê ek moet nie bang wees om aan te gaan nie. Gaan vorentoe en eendag sal jy iemand word. Kyk vir my, ek het my eie besigheid begin sodat ek kos op my familie se tafel kan sit. Ek het klein en onder begin en eendag met harde werk, sal my besigheid goed doen. Begin net met iets en verkoop daai appel.”
Volgens hom is Namibiërs baie lief daarvoor om ander mense vir hul benarde omstandighede te blameer.
“Ons wil net slaap en nie werk nie. Wanneer ek vir die jeug sê, staan op en verkoop tamaties langs die pad, dan wil hulle nie. Hulle voel omdat hulle graad 12 het, is hulle té opgelei om groente te verkoop.
“Dit maak egter nie saak hoe goed opgelei jy is of nie, as jy nie werk het nie doen iets en hou op om by die huis rond te sit, te slaap en ander mense te blameer. Die Here het elke mens met ’n doel geskape en Hy het gesê as jy brood wil eet moet jy hard werk. So gaan werk en hou op om die doel waarvoor jy geskape is, te verkwansel.”
Mense wat ’n stoffeerder benodig wat gehaltewerk teen ’n billike prys lewer, kan vir Fillemon by 081 748 2604 kontak.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie