Teater Chrisna se eerste liefde

Medestigter van die Windhoek Woordfees
Chrisna Beuke-Muir tree vanjaar weer by die Windhoek Woordfees op.
Tanja Bause
“Om ’n rol op die verhoog te speel wat ek eintlik van hou, om te wees wat ek nie altyd in die samelewing kan wees nie. Om te kan dra wat ek wil; dit maak my gelukkig en dit is die groot rede hoekom ek van teater en toneelspeel hou,” het Chrisna Beuke-Muir, aktrise, Nederlandse en Afrikaansdosent en medestigter van die Windhoek Woordfees, gesê.

“Ek is in Caledon in Suid-Afrika gebore. My ma het gedink sy wou nie meer kinders hê nie toe my pa sê hy wil darem nog net een hê sodat daar drie is. Ons het toe later Bredasdorp toe getrek waar ek my skoolloopbaan voltooi het.”

Sy vertel haar pa het gedurende die Julie-vakansies toe hulle nog in Caledon gewoon het, soms gesê hulle hoef nie die spesifieke Sondag kerk toe te gaan nie.

“Dit was baie lekker, want dan hoef ek nie stil te sit nie. Hy het dan gesê kom ons ry Windhoek toe en gaan kuier vir die familie. Ons het dan teen 12:00 in die kar geklim en gery.

“Ons het baie daar gaan kuier en in 1982 het ek en my gesin soontoe getrek. Dit sou net vir drie jaar wees omdat ek net wou gaan kyk hoe dit daar lyk. Ek het egter verlief geraak op die land en ek is nou nog hier.”

Chrisna het toe haar honneurs by Unisa voltooi en later verder op Stellenbosch gestudeer. Sy het toe as ’n aflosonderwyser begin werk en later is sy voltyds by die universiteit in Windhoek aangestel. Sy het tot 2021 klas by die universiteit gegee voordat sy afgetree het.

“Ek wou nooit op Stellenbosch ’n onderwysdiploma verwerf het nie. Ek wou nooit onderwys gee nie, ek wou toneelspeel. Ek het in ’n redelike konvensionele Calvinistiese omgewing grootgeword. Byvoorbeeld ek kon geen kortbroeke dra nie. Ek kon ook nie ballet gedoen het nie, want net die Engelse doen ballet. Die Afrikaners doen volkspele en Voortrekkers. My pa was ’n Broederbonder en my ma ’n kommandant in die Voortrekkers; so ek het in daardie omgewing grootgeword.

“Ek onthou die dag toe [Hendrik] Verwoerd vermoor is, het my ma my geroep en ons het saam in haar kamer op ons knieë gegaan en gebid. Ek het in ’n drukgang grootgeword en wou vreeslik graag daarvan wegbreek.

“Ek het vir die groot energie gevra om vir my die kans te gee om toneel te kan speel. Ek wou nie ryk uit toneelspeel word nie en dit is nou nog nie die geval nie, maar hierbinne my word ek ryk en vervul.”

“Ek dink dit is hoekom dit so lekker vir my is om toneel te speel. Op die verhoog speel jy ’n karakter en dit is altyd iets anders. Dit laat my toe om iets te kan wees wat ek nie in die openbare lewe kan wees nie.”

TONEELSTUK

Chrisna het die toneelstuk Sus van uit Nederlands in Afrikaans vertaal en opgevoer.

“Dis ’n eenvrouvertoning en gaan oor die Griekse mitologie van Ismene, die dogter van Oedipus, en haar tweelingbroers. Sy word altyd Sus van die en Sus van daai genoem en hoe sy daaruit probeer ontsnap. Dis ’n ongelooflike stuk vir my. Dis die enigste groot stuk wat ek gedoen het, behalwe vir Liefdesbriewe.”

Volgens haar verg die stuk baie selfdissipline aangesien sy die enigste een op die verhoog is en sy nie op iemand kan staatmaak wanneer sy iets vergeet nie.

“Ek wil Sus van dié jaar in Nederland by die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek in Windhoek opvoer. Sover ek weet is dit die eerste keer dat die kongres hier sal plaasvind en ek hoop daar is genoeg mense wat dit wil kyk.”

Sy het in 1995 vir die eerste keer met die stuk kennis gemaak. Chrisna en ander onderwysers is vir ses weke na Nederland genooi om hulle opleiding op te skerp. Dit is ook waar sy vir die eerste keer met Jo Decaluwe kennis gemaak het.

“Hy het vir my gesê gaan straat af daar is ’n stuk wat jy moet sien. Dit is vir jou. Dit was Sus van en ek het onmiddellik van dit gehou, die opvoerregte bekom en dit opgevoer. Nederland het my wêreld vir my oopgemaak.

“Toe ek die eerste keer daar in die strate geloop het, het ek gevoel hier is iets van my. Ek kom by die katedrale en daar speel die musiek wat my ma op plate vir my gespeel het. Maar nadat ek vir drie weke nie die sterre kon sien nie, jet ek geweet dit is tyd om huis toe te gaan en dan is dit weer die dromme van Afrika.”

LIEFDESBRIEWE

In 1995 het al die onderwysers na ’n toneelstuk gaan kyk wat spesiaal vir hulle opgevoer is.

“Dit was oor ’n man wat agter die gordyne van ’n teater werk. Hy het gesit en die gordyne reggemaak. Hy het my in my oë gekyk en gesê: ‘Kom help my toe” en hy was so oortuigend dat ek opgestaan het en wou help. Hy het net heel geskok ‘nee, weg-weg geskree’ en ek het gaan sit. Dis hoe ek en Jo ontmoet het. Ná dit het ons in kontak gebly en toe hy na Namibië gekom het, het hy, Aldo Behrens en ek saam teater gespeel.”

Haar eerste ontmoeting met Liefdesbriewe was toe Jo en ’n vrou dit opgevoer het.

“Hy het my Nederland toe genooi en hy het sy deel in Vlaams opgevoer en ek my deel in Afrikaans. So het ons die stuk opgevoer in Nederland en Duitsland. Ons het die Afrikaans en Vlaams bietjie aangepas sodat almal dit kon verstaan. Die mooiste was altyd om later na die gehoor te luister; hulle was verbaas dat hulle alles kon verstaan en volg.”

Sy het die verhoogstuk vir die eerste keer in 2003 gesien en die stuk vir die eerste keer in 2013 opgevoer. Sy het dit ook weer saam met Attie van Wyk by verlede jaar se Windhoek Woordfees opgevoer.

WINDHOEK WOORDFEES

In 2013 het Chrisna en haar vriendin Ronelle Rademeyer gesels en Ronelle het gesê hulle moet ’n boekenaweek reël.

Chrisna het gesê hulle moet sommer ’n woordfees reël en so het die idee ontstaan.

“Daardie eerste Woordfees het my my hele 13de tjek gekos om al die skuld af te betaal. Ons twee het dit gereël en ek dink ons het nog nooit weer so ’n groot fees soos die eerste een gehad nie.

“Ek onthou nog hoe ek en Koos Kombuis vasgesit het omdat ek hom nie persoonlik by die lughawe kom haal het nie. Riana Scheepers het voor haar skrywersgesprek sommer verdwyn.

“Dit is wat Namibiërs van Suid-Afrikaners onderskei. Namibiërs is nie blasé nie. Hulle sien dinge as ’n kans wat hulle kry om iets te kan gee. En as jy iets kan gee en dit maak jou gelukkig en nie armer nie, hoekom dan nie? Dit is maklik om te gee veral as jy dit geniet.”

Chrisna wil vanjaar weer vir Sus van tydens die Windhoek Woordfees opvoer.

Kommentaar

Callie Opperman 10 Maande Gelede 20 February 2024

Dankie, Chrisna, vir jou mooi manier om ander opgewonde te maak oor ons Afrikaanse taal. Geniet jou toneelspel, al is daar min mense in Namibië wat die teater waardeer.

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!