Michael en Elma Mallet saam met Boeta en Tiffy ná haar operasie. Foto verskaf
Michael en Elma Mallet saam met Boeta en Tiffy ná haar operasie. Foto verskaf

Tiffy kry ’n tweede kans

Jack Russel draai by dood om
Die AKI-HAH -noodfonds het dr. Erna Meyer van die VetsWeb Dierekliniek op Mariental in staat gestel om onmiddellik op te kan tree.
Tanja Bause
“Ek is so dankbaar dat Tiffy ’n tweede kans gekry het. Ek is dankbaar vir dr. Erna en die mense wat die geld geskenk het wat haar operasie moontlik gemaak het. Ek sou nie weet hoe ek vir my seun moes vertel dat sy hond nie meer met ons is nie,” het Elma Mallet van Mariental gesê.

Twee jaar gelede is haar seun, Boeta (6), se Jack Russel aan kanker dood.

“Boeta het die hele tyd gehuil en wou ’n hond hê. Dit is hoe ons vir Tiffy gekry het. Tiffy is ’n baie klein Jack Russel en ek het altyd gekeer dat sy gedek word omdat ek bang was sy is te klein.

“Ek het ’n baie klein Jack Russel-reun gekry en haar die keer laat dek. Ek het seker gemaak geen ander hond kom naby nie.”

Elma vertel dat Tiffy Saterdag baie onrustig was.

“Sy was op die bed en het begin grawe. Ek het vir haar ’n bed op die vloer gemaak waar sy haar babas kon kry, maar sy het onder die bed gaan wegkruip.

“Sondag het sy nie geëet nie en ek het haar water met ’n spuit ingegee. Ek kon sien sy is in pyn. Maandag het ek haar na die staatsveearts geneem want ek het gedink sy gaan enige oomblik dood.”

Die staatsveearts het nie die nodige toerusting gehad nie en kon ook nie verseker dat Tiffy sal lewe nie.

“Die man het vir my gesê ek moet haar na dr. Erna toe vat omdat daar ’n organisasie is wat mense help wat in nood is en nie geld het nie. Ons het haar gebel en is soontoe.”

Dr. Erna Meyer van die VetsWeb Dierekliniek op Mariental het al talle projekte in samewerking met die Have-a-Heart Namibia (HaH)-stigting gedoen en sy het fondse vir noodgevalle soos die deur Animal-Kind International (AKI) beskikbaar. Die AKI-HAH -noodfonds stel haar in staat om onmiddellik te kan optree sonder dat sy vir fondse aansoek moet doen of ’n geldinsameling moet hou.

Dr. Erna het onmiddellik vir Tiffy geopereer. Tiffy was besig om dood te gaan omdat haar twee babas te groot was.

“Tiffy het ook vir twee dae nie gepiepie nie. Sy was in ’n koma en het septisemie gehad. Die babas kon nie gered word nie en Tiffy se baarmoeder moes ook verwyder word. Ek was bang sy het nierskade opgedoen. Sy is egter ’n regte klein vegter en het wakker geword en alles het goed afgeloop,” het dr. Erna gesê.

“Ek was rêrig bekommerd en wou net hê sy moes vir Tiffy red. Tiffy is ons baba in die huis. Sy, my ander hondjie en my kat slaap almal op ons bed. Sy is my bedorwe ou meisie. Baie dankie aan dr. Erna en aan Animal-Kind International vir die geld dat sy onmiddellik kon optree en vir Tiffy red. Dit gaan baie goed met Tiffy. Sy is net ’n bietjie kwaaier as vantevore.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!