TikTok-vermaak met plaaslike flair

Skep eg Namibiese inhoud op aanlyn platform
Kashivi KaShingungu praat vyf tale vlot en is tans besig om Fins te leer.
Tanja Bause
“Ek praat nege tale en ek is vlot in vyf. Ek is tans besig om Fins te leer, dan kan ek dit by dié lys voeg,” het Kashivi KaShingungu, ’n Namibiese TikTok-inhoudskepper, gesê.

Sy is op Rundu gebore en op Otjiwarongo getoë. Sy het die Primêre Skool Spes Bona en Sekondêre Skool Paresis bygewoon.

“Ek het in ’n meertalige huis grootgeword. Ons het twee tale Rumanyo en Silozi by die huis gepraat. Die woonbuurt waarin ek grootgeword het, was ook kultureel en taalkundig uiteenlopend en ek is aan ’n hele paar ander tale blootgestel – Otjiherero was ’n derde taal omdat dit ’n maklike taal was om met die ander kinders wat daar grootgeword het, te kommunikeer.”

Kashivi kom uit ’n groot gemengde familie waar daar nooit ’n vervelige oomblik was nie.

“Ek het gelukkige kinderjare gehad, en omdat ek die middelkind was, wou ek altyd raakgesien word. Dus was ek uitgesproke en het goed op skool gevaar. My ouers was baie streng en liefdevol. Hulle het van vroeg af ’n sin vir verantwoordelikheid en harde werk by hulle kinders ingeboesem. Geleerdheid was baie belangrik vir my ouers en hulle het seker gemaak dat ons almal ’n goeie opvoeding kry.”

Kashivi het ná skool vir ’n baccalaureusgraad met hoofvakke in biologie aan die Universiteit van Namibië gaan studeer. Sy het ook ’n meestersgraad in toegepaste ekologie aan die Noorweegse universiteit van toegepaste wetenskappe verwerf.

Tussen haar voorgraadse en nagraadse studies het sy vir twee jaar as opleidingskoördineerder by die Gobabeb-navorsing- en opleidingsentrum gewerk.

“Ná my studies in Noorweë, het ek terug Otjiwarongo toe gegaan en vir twee jaar as onderwyser gewerk. Aan die einde van dié twee jaar was ek gelukkig om werk by die Cheetah Conservation Fund (CCF) as navorsings- en opleidingsbestuurder te kry en het tot verlede Desember daar gewerk.

“Ek was nog altyd mal oor die natuur en die natuurlike omgewing; en om die twee kursusse te doen, was net normaal vir my. Ek is ook baie passievol oor onderwys.”

INHOUDSKEPPER

“Om ’n TikTok-inhoudskepper te wees, was nie iets waaraan ek gedink het voordat ek die toep afgelaai en ’n rekening geskep het nie.

“Aanvanklik was dit slegs sodat ek ander mense se inhoud kon geniet. Dit was toe die Covid-19-pandemie uitgebreek het en daar nie veel was om te doen nie.

“Om vasgevang voor die televisie of foon te wees, was die enigste vorm van vermaak. Toe het ek maar begin soos almal eerste op TikTok begin het. Ek het die dansuitdagings en of lipsing (lip sync) met klanke gedoen.”

Ná sowat ’n jaar van die tipe TikTok-video’s het sy haar nis gevind – Namibiese tale en kulture.

“Ek onthou ek het my eerste video in sewe verskillende tale gedoen en die video het talle reaksies gekry. Dit is toe ek geweet het dat ek my nis gevind het.”

Die eerste hoofkarakter wat sy geskep het, was Dennis, ’n stoute skoolseun.

“Dit is die eerste karakter wat talle Namibiërs, veral leerlinge en onderwysers, hulle mee kon vereenselwig. Die karakter is nie sigbaar in die sketse nie; dit is die reaksie van die onderwysers op Dennis wat deur die karakter uitgebeeld word.

“Dennis wys alledaagse onderwyser-leerling-situasies in veral Namibiese staatskole. Die meeste van dié situasies is van toe ek self ’n leerling en onderwyser was.

“Ek wys hoe verskillende onderwysers uit verskillende stamgroepe in sekere situasies in die klaskamer op Dennis se optrede sou reageer. Ek het onlangs ook begin om aktuele gebeure in die onderwyssektor by Dennis se karakter te werk.”

Kashivi se tweede en mees onlangse karakter, is ousie Olga. Ousie Olga is ’n Damara-vrou wat uitgesproke is en nie skroom om haar mening te lug nie.

“Ek geniet hierdie karakter die meeste, omdat dit die huidige situasie in Namibië uitwys. Die Damara-aksent kom ook natuurlik vir my.

“Khoekhoegowab is een van die tale wat ek nie vlot kan praat nie, maar ek geniet die aksent. Ek probeer elke nou en dan karakters vir ander stamgroepe skep, soos met Lucia, maar verder is Dennis en ousie Olga die twee hoofkarakters.”

Die karakters word deur plaaslike nuus en aktuele sake in Namibië geïnspireer.

“My grootwordjare beïnvloed beslis die karakters. Soos ek grootgeword het, het ek nie net die taal geleer nie, maar die nuanse en tradisies van elkeen van die stamgroepe wat hierdie verskillende tale praat. Ek besef nou ek het in die beste omgewing grootgeword vir wat ek tans as ’n TikTok-inhoudskepper doen.”

Alles wat Kashivi op TikTok doen, het sy haarself geleer. Sy doen ook alles self met haar foon. Volgens haar is TikTok ’n perfekte platform vir amateur-inhoudskeppers omdat jy nie opleiding nodig het nie.

“Die hoogtepunt vir my as ’n inhoudskepper is om te weet dat Namibiërs met my inhoud kan vereenselwig en dit geniet. Ek was huiwerig om my TikTok-inhoud op Facebook te plaas, maar selfs die Facebook-gemeenskap geniet nou my inhoud.

“Ek kry boodskappe van mense wat ’n slegte dag gehad het en beter gevoel het nadat hulle na my video’s gekyk het – dit is beide verblydend en motiverend. ’n Persoonlike hoogtepunt is toe ek vroeg verlede jaar getroud is.”

RAAD

“Elke vaardigheid wat jy in die lewe aanleer, hetsy self geleer, jy daarmee gebore of aangeleer is, is baie belangrik. Of dit nou taal, verf, hekel/brei, bemarking, besigheid of sport is – moet dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.

“Neem daardie vaardigheid en kyk wat jy daarmee kan doen. Soms weet ons nie ons het ’n spesifieke talent nie, maar iemand sal jou talent raaksien en waardeer. Neem dit dan van daar af en bevorder daardie vaardighede – maak geld daarmee.

“Ek geniet dit om te hekel en ek doen dit in my vrye tyd. My ma het baie gehekel toe ek grootgeword het, en ekk kon hekel voor ek skool toe gegaan het. Ek verkoop van my hekel-items en maak ’n bietjie ekstra geld daarmee.”

Sy het onlangs Finland toe getrek en is besig om die plaaslike taal te leer.

“Ek hoop dit sal deure vir my oopmaak, beide professioneel en as ’n inhoudskepper.”

Kommentaar

Republikein 2024-12-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 21° | 27° Oshakati: 24° | 29° Ruacana: 21° | 28° Tsumeb: 20° | 29° Otjiwarongo: 21° | 26° Omaruru: 22° | 31° Windhoek: 21° | 26° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 23° | 30° Mariental: 25° | 30° Keetmanshoop: 23° | 33° Aranos: 24° | 32° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 23° | 29° Oranjemund: 15° | 26° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 31° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 26° Maputo: 24° | 33° Windhoek: 21° | 26° Cape Town: 18° | 24° Durban: 21° | 29° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!