A LIFE WELL-LIVED: Professor Gerhard Tötemeyer. 
PHOTO: Contributed
A LIFE WELL-LIVED: Professor Gerhard Tötemeyer. PHOTO: Contributed

Tötemeyer: Vryheidsvegter, akademikus

Henriette Lamprecht
Hoofredaksie - Namibië se eerste direkteur van verkiesings, prof. Gerhard Tötemeyer, wat vandeesweek op die ouderdom van 88 jaar gesterf het, is geloof vir sy bydrae tot die versterking van demokrasie in die land.

Tötemeyer het ook vanaf 2000 tot 2005 as adjunkminister van plaaslike regering gedien.

Hy het vermoedelik aan ’n hartaanval gesterf, met sy familie wat bevestig het hy is dood in sy huis in Swakopmund aangetref.

Tötemeyer is in 1935 in Gibeon in die ||Kharasstreek gebore en was vanaf 1992 tot 1998 Namibië se direkteur van verkiesings. Tussen 1987 en 1993 was hy dekaan van die fakulteit ekonomie en bestuurswetenskap aan die Universiteit van Namibië (Unam).

In Suid-Afrika was Tötemeyer vanaf 1985 tot 1987 die assosiaat-professor vir die departement politieke studies aan die Universiteit van Kaapstad.

Swapo se sekretaris-generaal Sophia Shaningwa, sê Tötemeyer het hom beywer vir Namibië se onafhanklikwording en dit bevorder deur sy oortuigings en sy geloof in geregtigheid en gelykheid die voortgesette toepassing van apartheid teen te staan.

“Hy was deel van ’n afvaardiging wat die Swapo-leierskap in Zambië tydens die vryheidstryd besoek het en homself voortgeset beywer het vir Namibië se onafhanklikwording totdat die droom op 21 Maart 1990 verwesenlik is,” het sy gesê.

Sy het haar en die party se medelye aan Tötemeyer se familie betuig en hom as ’n “uitgelese vryheidsvegter en erkende akademikus” beskryf.

“Professor Tötemeyer was die inisieerder van die Gesprächskreis [besprekingsirkel] in Swakopmund in 2019, wat gelei het tot die stigting van die forum van Duitssprekende Namibiërs in April 2021 en waarvan hy ’n stigterslid was,” onthou die form se voorsitter, Harald Hecht.

“Ek het die groot eer gehad om oor die laaste vier jaar professor Tötemeyer te leer ken en saam met hom te werk. Ons ontmoetings was altyd vir my baie inspirerend. Wat my gefassineer het en ek is seker elkeen in die forum, was die omvang van sy kennis, ervaring en eindelose wysheid wat hy tot voordeel van ons organisasie gedeel het.”

Hy het beklemtoon die forum en die Gesprächskreis sal voortgaan om Tötemeyer se nalatenskap te eer.

Die voormalige uitvoerende hoof van die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE), Vinson Hailulu, wat ook nou met

Tötemeyer saamgewerk het, het hom as ’n “eerlike, ordentlike, kundige en patriotiese Namibiër” beskryf.

“Hy het die ideale van demokrasie, vryheid en bo alles meritokrasie gekoester, deugde wat baie van ons mis in die manier hoe openbare kwessies hanteer word,” het Hailulu gesê.

Tötemeyer het sy akademiese kwalifikasies (BA, BA Hons, MA, SOD, D.Phil) aan die Universiteit Stellenbosch behaal en sy nagraadse studies in die buiteland in Freiburg in Duitsland voltooi.

Hy was ’n dosent in politieke en administratiewe studies by die universiteite van Stellenbosch, Transkei, Kaapstad en Namibië.

Ná Namibië se onafhanklikwording in 1990, is hy aangestel en opdrag gegee om die land in streke, kiesafdelings en plaaslike owerhede in te deel. Met sy uittrede uit die parlement het hy steeds op die rade van verskeie openbare ondernemings gedien, waaronder die NHE en die Nasionale Raad van Hoër Onderrig in Namibië. Hy het Namibië ook verteenwoordig op die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se raadgewende raad vir verkiesings.

Tötemeyer se skrywes is wyd gepubliseer op beide nasionale en internasionale vlak met onderwerpe wat gewissel het van openbare administrasie, desentralisasie, streek- en plaaslike bestuur, godsdienstige sowel as verkiesingskwessies.

Reëlings vir sy gedenkdiens en begrafnis sal deur sy familie bekend gemaak word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!