Trots op sy taal, musiek en herkoms

Die wat my ondersteun, is meer as nie net ‘fans’
Nadat hy sy eie stryd teen mandrax-verslawing oorkom het, hoop Ixa om deur sy musiek andere op te hef.
Iréne-Mari van der Walt
“Ek het op ’n punt myself verloor en dit was moeilik om myself weer te vind. Ek wil die boodskap uitdra dat jy kan trots wees op wie jy is,” sê Ike (Ixa) Adonis, ’n kletsrymer en platejoggie van Walvisbaai.

Adonis spog met trots oor sy Namibiese herkoms en sy moedertaal, Afrikaans.

“Ek is al voor my eerste skooldae aan musiek blootgestel. My pa was ’n platejoggie, ’n musiekmens,” onthou hy.

Ixa se tienerjare het hom egter blootgestel aan ’n leefstyl wat in ongesonde dinge plesier gevind het.

“Met die tienerskap het my lewe ’n afdraai gevat. Ek het meer geluister na my vriende en hul opinies en op daardie ouderdom begin jy in jouself twyfel. Iewers langs die pad het ek dit verloor,” vertel hy.

Net die vooruitsig van musiek as ’n loopbaan het hom ná sy lang ompad teruggebring het na ’n beter leefwyse, sê hy.

“Ek was ’n mandrax-verslaafde sonder opsies. Ek was bevriend in dwelms. Ek het ’n vriend gehad wat sy eie studio gehad het en om in daardie tyd ’n paar uur in ’n studio te kry, was duur. Hierdie vriend het musiek vir ons gratis opgeneem, maar sy voorwaarde was dat ons almal bedwelmd moet wees wanneer ons in die studio is.”

Hy het sy lewenskoers omgedraai omdat hy ’n nugter benadering tot sy musiek wou hê. “Ons het ’n paar songs geskryf oor dinge soos paartie, dwelms en cherries, maar ek wou net met nugter gedagtes record.”

Ixa het later in ’n romantiese poging ’n liedjie vir ’n meisie geskryf om hul nege-maande verhouding te gedenk. Hierdie liedjie is later deur onamptelike kanale vrygestel (gelek) en daarna is Ixa gevra om by verskeie venues op te tree.

Ná twee jaar as lid van ’n musiekgroep het Ixa in 2014 besluit om ’n solo-loopbaan van stapel te stuur. Die besef sou egter eers twee jaar tot hom deurdring dat hy ’n loopbaan uit sy musiek kon maak.

“Ek dink wat my laat uitstaan, is dat ek myself is. Dis ook in hoe ek skryf. Ek wil nie die musiek skryf wat die jongmense soek oor paarties en sulke dinge nie. Ek skryf oor my eie lewe en my foute,” sê Ixa.

IXA EN DIE MASEKINNEZ

“Ek wil nie die mense wat my ondersteun my 'fans' noem nie. Hulle is my Masekinnez. Ons sê altyd as jy op ’n dieper vlak ’n konneksie met iemand deel, is dit jou masekind en hulle is my Masekinnez,” verduidelik hy.

Ixa sê hy beleef dat verskeie kunstenaars se ego’s later die oorhand kry, maar hy hoop om nie verhewe bo ander te wees nie. “Ek sal altyd tot op hulle vlak sak,” sê hy.

Hy voeg by dat hy hoop om in die toekoms sy talente in toneelspel te verken. “Ek wil graag rolprentwerk doen. Daar is min geleenthede hier, maar ek het dit baie geniet om saam met Vaughn (Ahrens) die song vir die #LANDoftheBRAVEfilm te maak. Dit was ’n goeie netwerkgeleentheid,” sê Ixa.

Die #LANDoftheBRAVEfilm se temalied ‘My Ghosts’, het hy in 2019 saam met Vaughn Ahrens vrygestel. Hy het maande gelede ook die ‘Volkslied’ saam met die Suid-Afrikaanse SAMA-benoemde sangeres Jodi Jantjies vrygestel.

“Met Volkslied het ek die vlak van professionalisme en besigheid in Suid-Afrika beleef – dis veel hoër as hier in Namibië. Hulle noem jou meneer; ek moes hulle ’n paar keer vra om my nie meneer te noem nie. Vele studios in Namibië sien jou as maar net nog ’n Namibiese kunstenaar,” sê Ixa.

“In Namibiese studios is dit asof hulle nie ’n toekoms in jou sien nie. Hulle gebruik jou vir jou geld en tyd, maar in Suid-Afrika behandel hulle jou asof jy die next big thing is, want jy kan wel wees. Hulle behandel jou op dieselfde vlak as wat hulle iemand soos Michael Jackson sou hanteer.

“Selfs as Michael Jackson daar sou instap, sou hulle hom laat wag tot jy klaar is,” sê hy.

PLAASLIKE BEDRYF SE TOEKOMS

Ixa glo maatskappye behoort meer betrokke te raak by Namibiese musiek om ’n volhoubare musiekbedryf moontlik te maak.

Hy glo ook Namibiese musikante behoort hul onderlinge twiste te laat staan.

“Ons kan meer saamwerk. Die bedryf is klein en die geld is min in die bedryf, maar mense baklei oor die min geld wat daar is. Daar is ’n klomp vuil mense in hierdie bedryf,” sê hy.

Ixa glo hy moet sy platform soveel as moontlik gebruik om ontluikende kunstenaars op te hef.

“Die ‘up-and-comers’ is meer nederig en hulle soek werklik net ’n platform.”

Hy glo kunstenaars moet meer bedag wees op die boodskappe wat hulle uitdra. “Vele musikante gee nie om oor die verkeerde boodskappe wat hulle die wêreld instuur nie,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer