Tsumeb groet Tannie Pop

Welbekend en geliefd
Ná dekades se getroue diens aan haar gemeenskap en die Kankervereniging van Namibië, is Tsumeb in rou na die afsterwe van Tannie Pop Ayres.
Iréne-Mari van der Walt
“Sy het altyd laaste na haarself gekyk. Sy het vroeër in die week in die hospitaal nog vir my herinner ek moet die pannekoekpanne uithaal vir die kerkbasaar en gesê daar is geld waarvoor ek kwitansies moet uitskryf en vir die Kankervereniging gaan bank. Sy het haar kinders om haar gehad, maar sy het na almal anders omgesien.”

Só onthou Lilly Grobler haar ouma Anna Wilhelmina Elizabeth Ayres, beter bekend as Tannie Pop, wat verlede week op die ouderdom van 79 oorlede is.

Tannie Pop was welbekend en geliefd in die Tsumeb-gemeenskap en het vir ongeveer drie dekades lank aan die Kankervereniging van Namibië (CAN) gewys haar hande staan vir niks verkeerd nie.

“Tannie Pop was ’n verlenging van ons arm op Tsumeb. Ons het altyd geweet ons hoef nie te vra nie, sy was altyd net daar. Sy was meer as net ’n vrywilliger, sy was ’n lid van ons familie. Sy was ’n engel van ’n vrou en sy het nooit vir ons gewag om leiding te neem nie,” sê Estelle Viljoen, CAN se bedryfshoof.

Sy sê Tannie Pop was altyd gretig om ander te versorg.

“Sy het ’n goeie verhouding met die Tsumeb-hospitaal gehad en met haar hulp kon ons altyd gesondheidsveldtogte daar aanbied. Ek onthou as ons onder die boom gesit en papiertjies uitskryf het, sou Tannie Pop met haar mandjie eetgoedjies verbykom om te sorg dat ons nie honger ly nie,” vertel sy.

“Ek is nou al 14 jaar by Can en ek het vir Tannie Pop hier gekry. Sy kom nog uit Kurt Johannesson se jare uit,” het Estelle gesê.

Tannie Pop is in 2022 vereer met ’n toekenning vir haar jarelange diens aan CAN.

“Ouma was definitief hardwerkend; sy was altyd daar om almal te troos. Die hele dorp huil oor haar. Sy was lief vir almal en sy was almal se steunpilaar,” sê Lilly.

Volgens Lilly het Tannie Pop se ma en susters haar reeds in haar kinderdae “Pop” gedoop, omdat sy glo soos ’n pop gelyk het. Sy het dié naam met trots gedra.

“Ek dink nou net die heeltyd aan wat ouma sou gesê het. Sy sou seker gesê het: “Kom-kom, moenie nou huil nie, die mense het jou nodig.” Ek voel eintlik sleg om hartseer te wees, want dit is nie wat sy wou gehad het nie,” sê sy.

Lilly sal haar ouma se nagedagtenis vereer deur die vrywilligerswerk wat sy gedoen het, oor te neem.

Tannie Pop was vir 63 jaar met haar man, oom Chris, getroud.

Sy word Woensdag ter ruste gelê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!