Vars blomme vir jou vakansiehuis

Tanja Bause
In 2017 het Stiaan en Zanelle Cloete die Henties Bay Tunnel Farm begin.

Volgens Zanelle was daar aanvanklik net een tonnel waarin hulle met komkommers geëksperimenteer het.

“Dit was so suksesvol dat ons uitgebrei het tot die agt tonnels wat ons vandag het. Ons hooffokus is komkommers, maar na ’n onlangse vreemde siekte in van die tonnels wat die plante erg geaffekteer het en die oosweer wat groot skade aangerig het, het van die tonnels leeg gestaan,” het sy gesê.

Stiaan wou al vir ’n geruime tyd met blomme eksperimenteer omdat die egpaar voel daar is ’n groot vraag na vars blomme in die land.

“Verskaffers van vars blomme is tans yl gesaai. Ons voel hoe meer Namibiërs self kan produseer en hoe minder ons moet invoer, hoe beter is dit vir die land. Net daar is die saadjie geplant om te kyk watter blomme kan werk.”

Een aand het hulle mense ontmoet wat voorheen met blomme geboer het. Dié mense het die Cloete-egpaar in die rigting gestuur waar hulle vandag is.

“Ons het pragtige Gomphrenas wat so mooi groei en mense se vakansiehuise en Kerstafels ophelder. Die blomme groei teen ’n spoed en met die mense wat nou teen dieselfde spoed na Hentiesbaai begin stroom, het ons dit goedgedink om die mooi met almal te deel. Kan jy glo jy kry sulke mooi blomme teen die kus?”

Mense kan nou op pad na hulle vakansiebestemming by die Henties Bay Tunnel Farm stilhou en vir hulself ’n bos blomme pluk om hulle vakansiebestemming op te helder.

Khitago Andrew Naobeb is elke dag by die tonnels om kliënte te help.

“Hy is daar om mense te wys hoe om te oes en te help waar dit nodig is. Dis immers sy babas wat hy met almal deel. Mense kan dalk vooraf laat weet as hulle wil kom pluk dat ons seker kan maak alles is reg. Ons is nog nie so goed toegerus om vir almal skêre aan te bied nie, so bring maar asseblief self een saam.”

Die plaas is op die pad uit Hentiesbaai in Usakos se rigting geleë – skuins oorkant die vliegveld. Jy kan nie die tonnels miskyk nie.

“Stiaan se droom is om so uit te brei dat hy in ’n groot deel van Namibiërs se behoeftes ten opsigte van groente kan voorsien, veral langs die kus. Ons grond is vrugbaar, ons het water – nou is dit net ’n kwessie van voortploeg en van dag tot dag sterker groei. Hierbenewens maak hy No. 50 Olyfolie en het hy ook die Skeleton Coast Brewery waar hy sy eie bier maak. Hy konsulteer tans met Erongo Mountain Winery waar hulle, onder andere, net sulke wonderlike eg Namibiese whisky en brandewyn maak. Daar is selfs ’n paar wyne ook. Namibië en sy mense het soveel potensiaal, ons moet net buite die boks dink en almal saamstaan en mekaar ondersteun om ’n sukses van alles te maak.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!