Vermaak ’n leidende voorbeeld
Neem Hentiesbaai se leisels ná aftrede oor
Lewies Vermaak het Hentiesbaai as toevlug vir sy aftrede gekies, min wetende dat hy nie lank daarna aan stuur van dié dorp se sake sou staan nie.
“Ek het daar en dan besef ek moes my saak met die Here regstel,” vertel mnr. Lewies Vermaak, die huidige burgemeester van Hentiesbaai, van die drie kere wat hy by die dood omgedraai het.
Voordat hy egter met die burgemeestersketting gespog het, het hy ’n kleurvolle en kennisryke lewe gelei.
Hy is op Walvisbaai gebore en het later daar skoolgegaan. Na hy standerd 9 voltooi het, het Vermaak by die Suid-Afrikaanse lugmag aangesluit. Daarna het hy na sy tuisdorp teruggekeer waar hy as diepseevisserman gewerk het.
Vermaak het later sy skipperskwalifikasie voltooi en as skipper begin werk. Hy erken sy rowwe jare as visserman is nie iets waarvoor hy onthou wil word nie.
“Ek het daarvoor betaal. Ek het 33 jaar lank gerook toe voel ek eendag nie lekker nie en my vrou het my dokter toe gevat. Die dokter het gesê ek moet vier hartomleidings kry,” sê Vermaak.
Dié operasie het egter nie volgens plan verloop nie. Sy longe het op pad na sy hospitaalkamer platgeval.
Hulle het hom terug na die intensiewesorgeenheid gehaas, maar hy het op pad soontoe die lewe verlaat.
“Ek dink my engele het my in ’n stadium verlaat. Ek het hulle ’n moeilike tyd gegee want ek was maar ’n rowwe mannetjie,” vertel Vermaak.
Volgens hom het hy drie keer tydens die skuif na sy hospitaalkamer “uit die dood opgestaan” en skryf hierdie toe as die wonderwerk wat hom met ’n nuwe passie op sy geloofspad geplaas het.
“Dit het my verander van ’n ou wat nie omgee nie tot iemand wat vandag alles vir ander mense wil verander; wat graag vir ander mense wil gee. Dit is waar die Here my gewys het dat hierdie groot man wat ek gedink het ek was, net mooi niks is nie,” sê hy.
Vermaak en sy vrou, Bianca, het daarna hul plaas in die binneland verlaat om op Hentiesbaai af te tree.
Selfs toe Lewies as die Republican Party (RP) se kandidaat gestaan het, sou hy nie kon droom dat daar veel hiervan sou kom nie.
Vermaak het die verkiesing met vyf stemme gewen en het daarna die leisels by Hermann /Honeb oorgeneem.
“Ek wil graag met die hulp van my mederaadslede en die dorpsmense daaraan werk om die dorp weer op standaard te bring. Hentiesbaai is in 2016 as dorp van die jaar aangewys en ek wil graag hê ons moet weer daar kom,” sê Vermaak.
Toe Hentiesbaai in 2016 as Kwêla Dorp van die Jaar aangewys is, was dit die eerste keer dat ’n Namibiese dorp dié titel verower het.
Leidende voorbeeld
As burgemeester wil Vermaak deur sy eie voorbeeld die inwoners lei.
“As ons as leiers nie die regte ding kan doen nie, kan ons mos nie verwag ons mense moet die regte pad stap nie,” sê hy.
Een voorbeeld is waar Vermaak saam met Walvisbaai se burgemeester, Trevino Forbes, en verskeie ander burgemeesters in die Erongostreek teen Covid-19 ingeënt is.
Vermaak moedig burgers aan om ’n voorbeeld vir ander mense te stel om hulself te verbeter, eerder as om klagtes te opper.
“Ek moet sê ek is bietjie teleurgesteld in hoe maklik ons kla. Ons is geneig om maklik aan te val, maar ons weet nie wat agter toe deure gebeur nie. Daar is baie jare se foute wat nog lê. Ons moet ophou om net te praat,” sê Vermaak.
Vermaak het verlede jaar ook hand bygesit by die Namibia Fin Chasers se strandskoonmaakinisiatief toe sowat 100 vrywilligers saamgespan het om rommel op die strand vanaf Myl 6 tot Myl 14 op te tel.
“Ek dink ons moet vir almal wys ons is ook doodgewone mense. Mense se gesindheid sal eers verander wanneer ons self inspring en ’n voorbeeld stel,” het Vermaak by die geleentheid gesê.
Vermaak is in 2020 as Hentiesbaai se burgemeester aangewys en het ’n jaar lank sy pos volgestaan voor hy herverkiesing in die oë gestaar het.
Ten spyte van sy mening dat hy sommige inwoners se guns verloor het, is Vermaak in November verlede jaar herverkies.
“Geen mens kan homself in ’n jaar bewys nie. Ek is bly ek het nog ’n kans gekry om myself te bewys en ek glo ons kan nog ’n verskil maak,” sê Vermaak.
Toekomsplanne
Voor Vermaak as burgemeester uittree, hoop hy om ’n nalatenskap agter te laat.
“Ek dink ons het ’n paar klein dingetjies al reggekry en almal het gesien ons is hier vir die regte redes. Ek dink hulle besef dit gaan vir ons regtig oor die dorp,” sê hy.
Vermaak gun elke Hentiesbaaier ’n voorspoedige lewe.
“Ons kyk na harte en siele. Aan die binnekant is ons almal maar dieselfde. As ons eendag in die grond neergelê word, gaan ons almal dieselfde pad loop.”
Hy hoop dat Hentiesbaaiers en Namibië in geheel sal saamstaan om ’n nasie te bou waarop almal trots kan wees.
“Ek wens so ons kan ophou klippe gooi en liewer mekaar opbou. Niemand is volmaak nie, maar as ons saamstaan glo ek ons kan die beste land ter wêreld wees,” sê hy.
Vermaak glo die dorp was tydens die pandemie ’n voorbeeld van samewerking toe ’n groep Hentiesbaaiers saamgespan het om ’n leë huis in ’n Covid-isolasiefasiliteit te omskep.
“Die blou huis is ’n baie goeie voorbeeld. Hentiesbaai het eenvoudig net saamgestaan in ’n kritieke situasie, en al was dit net ’n handjie vol mense het dit ’n verskil gemaak. Steek net jou hand op,” sê hy.
Hy hoop die res van Namibië kan dié voorbeeld volg om ’n blink toekoms saam te bou.
“Ons moet van die verlede vergeet en wys ons is ’n land wat kan saamstaan, sodat die wêreld kan omdraai en sê ons is die beste land,” sê hy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie