Verpleegster wat boervrou word
Destyds by Groote Schuur verpleeg
Jenny Minnaar gesels oor die goeie ou dae toe boere elke Vrydag saamgekom het om tennis te speel en koue bier te geniet.
“Ek het verpleging ongelooflik baie gemis. Ek het al in die droogtetyd werk in Suid-Afrika gekry, maar my man het gesê hy dink nie dis ’n goeie idee nie. Ek het as boervrou babas gevang en met noodgevalle en ongelukke gehelp,” het Jenny Minnaar (73), ’n boervrou van die Helmeringhausen-omgewing, gesê.
“Ek onthou ’n ongeluk net hier buite die dorp op die hoofpad. ’n Vrou het haar rug gebreek en jy kon dit onmiddellik agterkom omdat haar bolyf vol hoendervleis in skok was en haar onderlyf was warm.
“Die vrou was ’n Engelse toeris en sy het saam met ’n vriendin van my by ’n hospitaal vir parapleë in Cambridge in Engeland gewerk. Sy het natuurlik onmiddellik besef wat met haar gebeur het. Ek het nog oor die jare van haar gehoor en sy het terug na die hospitaal gegaan en in ’n rolstoel aangehou werk.”
Jenny het in die Karoo in Suid-Afrika op ’n plaas grootgeword. Sy was in Kaapstad in ’n gesogte Engelse skool voordat sy begin het om by die Groote Schuur-hospitaal te verpleeg.
EUROPA
“Ek en my vriendin het besluit om Europa toe te gaan en te gaan toer. Haar broer en sy vriend wou saamgaan en ons het ’n kombi gekoop en getoer. Dit is hoe ek my man, Tiekie, ontmoet het. Hy was die vriend wat saamgekom het.”
Suid-Afrika het toe nog nie televisies gehad nie en die eerste ding wat die twee mans gedoen het, was om op hulle rugsakke voor ’n winkel te sit en perderesies te kyk.
“Ons het vir ses maande so saamgetoer voordat my geld opgeraak het en ek terug huis toe moes gaan. Ek het nie eens genoeg geld gehad om my ma te laat weet dat my skip vroeër aankom nie. Ek is terug Groote Schuur en werk toe.”
BETHANIE
Jenny en haar broer het toe in Namibië kom kuier en sy het weer vir Tiekie gesien.
’n Jaar later is hulle verloof en nadat sy haar kraamopleiding voltooi het, is hulle getroud en het Bethanie toe getrek waar hy geboer het.
“In die begin was dit moeilik omdat almal gedink het ek is Engels. Hulle was bang vir my. Dit het ’n tydjie gevat voordat ek aangepas het, maar tot vandag toe kuier ek nog by my voormalige buurvroue wanneer ek in Bethanie is.”
Volgens Jenny was Bethanie in daardie jare redelik groot. Daar was ’n skool asook ’n permanente bank, twee koöperasiewinkels en ’n rugbyveld.
“Bethanie het twee mansrugbyspanne gehad en my man het vir jare in die een span gespeel. Dit was ’n bedrywige dorp.”
Die egpaar het na die Helmeringhausen-omgewing getrek om daar met hulle karakoelboerdery aan te gaan.
“Dit was totaal anders. Hier was Duits-, Engels- en Afrikaanssprekende mense en almal het alles saam gedoen en heen en weer gekuier.
“Karakoelboerdery was die hoofinkomste. Dit was baie harde werk, veral in die winter wanneer die lammers deur die nag geslag en die velle skoongemaak en gespalk moes word.
“Ek onthou toe ons in Beaufort-Wes by my ma gaan kuier het en die pelspryse deurgekom het. Dit was N$16 vir ’n pels en Tiekie was in vervoering omdat ons toe ons reiskoste kon bekostig.”
HELMERINGHAUSEN HOTEL
Die mense in die omgewing het Vrydae by die tennisklub bymekaargekom. Hulle het tennis gespeel, inkopies gedoen en dan is daar tot ounag in die hotel gekuier.
“Alles is in die hotel gehou; begrafnisse, kerk, danse – absoluut alles. Ek onthou toe Hilde Hester, die vrou van die stigter van die hotel, die eienaar van die plaas en naamgewer van Helmeringhausen, gesterf het. Sy het baie geld vir haar begrafnis agtergelaat. Haar begrafnis het omtrent die hele dag geduur. Die helfte van die Duitsers het gedurende die begrafnisdiens in die kroeg verdwyn en die dominee moes hulle weer daar gaan uithaal. Ons was dit nie gewoond nie.”
Jenny onthou ook die twee mans wat klein vliegtuie besit het.
“Hulle het op Vrydae vir hulle vrouens gesê hulle gaan inkopies doen en dan het hulle met die vliegtuig Helmeringhausen toe gevlieg om twak te koop. Natuurlik het hulle ook vir ’n paar biere in die hotel ingeloer voordat hulle teruggevlieg het.”
Die een dag het ’n Duitse toeris by die kroeg gesit en Tiekie aangestaar. John Willy Campbell kon Duits praat en Tiekie het vir hom gevra om uit te vind wat die man se probleem is.
“Die man het gesê hy ken vir Tiekie en gevra of hy al ooit oorsee was en of hy by die Olimpiese Spele in Duitsland was.
“Jy sien ons was daar in die kombi en het gesien toe die atleet met die Olimpiese fakkel aangehardloop kom. Tiekie het ’n koerant opgerol en aan die brandgesteek. Hy het uit die kombi gespring en langs die man met die fakkel gehardloop totdat die motorfietse wat hom begelei het Tiekie van die pad af gedruk het.
“Die toeris het jare later Tiekie se gesig van die televisie onthou en dit is hoekom hy so gestaar het. Hy het hom herken.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie