• Tuisblad
  • Mense
  • Vir Hetty was die lewe een groot, wonderlike en ernstige drama

Vir Hetty was die lewe een groot, wonderlike en ernstige drama

Haar outentieke teenwoordigheid, met energie, met helder stem en krag en beweging, met lekker lag en dans deur die lewe, beskryf een haar. Die ander haar dood as 'n massiewe stuk hart wat opgehou klop het. Twee jarelange vriende en kollega's van dr. Hetty Rose Junius wat onlangs oorlede is, deel hul herinneringe van dié merkwaardige vrou.
Tanja Bause
‘’n Massiewe stuk hart het opgehou klop’

’n Massiewe stuk hart het opgehou klop. ‘n Hart wat diepe meegevoel en omgee geherberg het vir almal wat swaarkry en sukkel. Maar dit was nie net omgee nie. Dit was ’n soort omgee wat sê ‘ek kan iets daaraan doen. Ek kan dit verlig en ek gaan alles insit om die kennis in te win en metodes te ontwikkel

om die insigte in te span om ’n verskil te maak’.

En so het sy die eerste swart Namibiese vrou geword om ‘m PhD in maatskaplike werk te verwerf.

Haar leuse was :

Help waar mens kan

en selfs meer as wat jy kan

want probeer is beter as niks

en probeer is die begin van verbeter.

Sy was ‘n onmisbare figuur op die ou Akademie Kampus in die tagtigs. Beide op akademiese en ook op sosiale gebied het sy haar insette gelewer om studente te bemagtig. Saam met klasgee, navorsing en fakulteit beraadslagings, het sy ook op ‘n stadium gedien as aktiewe en besorgde studente dekaan. Dit het haar omvattende benadering tot en wye insette vir bemagtiging onderstreep.

Sy het later ook op die Windhoekse Stadsraad gedien. Een van die min mense wat bereid was om daardie spasie te betree suiwer om ‘n verskil te probeer maak. Sy het geen belangstelling gehad vir die politiekery rondom posisies en vir die prag en praal nie.

Saam met Crhisto Lombard en Emma Kambangula en ander het sy vorm gegee aan die PSVRT (Project for the Study of Violence and Reconciliation Trust) om te begin kyk na die steeds groot en groeiende behoefte om begrip te ontwikkel vir die alomteenwoordigheid van trauma in Namibië. Die doel was om metodes te vind en te ontwikkel om dit effektief aan te spreek.

Sy was ook ‘n integrale deel van die transformasie van PSVRT na die PEACE Centre waar sy onder andere saam met my en oorlede Hans Pieters as Trustee gedien het. PEACE het onder die direksie van dr. Gudrun Kober verskeie programme bestuur om uit te reik na gewese vegters in Kavango, kwesbare vroue en kinders in Khomas en slagoffers van geweld in die algemeen.

PEACE het ook opleiding verskaf aan personeel van die ministerie van gesondheid en welsyn en die polisie se destydse vroue en kinder beskermings eenhede. Later was sy ook vir ‘n rukkie direkteur van PEACE en toe die donateurs se geld opraak, het sy voortgegaan om vrywillig haar dienste te lewer.

Die konsep van onbaatsugtigheid word gedefinieer deur Hetty Rose Junius. Sy het onwrikbaar bly staan by haar kollegas in moeilike tye. Haar fokus was om vanuit haar maatskaplike werk agtergrond ‘n bydrae te lewer en nie van stryk gebring te word deur politieke en persoonlike agendas wat die werk probeer blokkeer nie. Sy was ook absoluut lojaal aan die organisasies waarmee sy identifiseer het en aan diegene wat hulle tot naaste diens verbind het. Dit het ‘n onwrikbare fondament van langtermyn vriendskappe geword.

Sedert 1996 het Hetty saam met my en Doufi Namalambo en later ook Helene Scholtz diep spore getrap as ‘n fasiliteerder vir Free To Grow. Sy het haar merk gelaat in ‘n verskeidenheid van organisasies en maatskappye (soos NUNW, Manica, MOHSS, MEATCO, City of Windhoek ens.) deur FTG- programme soos Life Skills, WorkQ en Money Sense vir personeel aan te bied. Sy het diep impak gemaak op die kursusgangers op beide grond- sowel as bestuursvlak.

Siende dat Free To Grow organisatoriese transformasie bevorder deur eienaarskap en betrokkenheid op alle vlakke te verdiep, was Hetty die ideale fasiliteerder. Sy kon ryklik tap uit haar akademiese agtergrond wat gewortel was in die alledaagse ervaringe en uitdagings van beide werkers en spanleiers.

Geloof was die fondament waarop sy haar lewe gebou het. En die kerk was die ruimte waar sy haar inspirasie kon vind. Hiervanuit kon sy ook ander inspireer.

Mens bestaan om ander te verstaan

en dan ook op te staan vir ander

en vir verandering.

(Danie Botha van die Akademie, Free To Grow en PEACE Centre)

‘Outentiek en onbeskaamd

Dit is moeilik om aan Hetty Rose te dink as iemand wat nie meer daar is vir ons almal nie. Hierdie kleinerige figuurtjie was in vele opsigte "larger than life", en so sal ons haar altyd onthou: daardie outentieke teenwoordigheid, met energie, met helder stem en krag en beweging, met lekker lag en dans deur die lewe.

Hetty was outentiek en onbeskaamd. "Ek is 'n Rehoboth Baster", "Ek is 'n gelowige mens, 'n Christen.” Eg, eerlik, reguit en voluit. "What you see, is what you get". Geen doekies omdraai nie. Dit kon soms miskien bietjie moeilik word, maar almal het geweet: dit is Hetty, en so was ons lief vir haar en sy vir ons. Sonder enige twyfel.

Hetty was 'n mens propvol energie; sy was een van die energiekste mense wat ek geken het. Soos in die pragtige "clips" wat Danie vir ons aangestuur het van 'n reünie onlangs, waar sy saam- en voor gedans het, en met haar helder stem en met groot emosie "Maria" voorgedra het, soos net sy kon doen. Sy was 'n dramatiese mens.

Die lewe was een groot, wonderlike en ernstige drama vir haar. Elke detail was belangrik en het om aandag, energieke aandag, gevra. Ek het geweet sy is ouer as ek, maar kan skaars glo dat dit met ongeveer sewe jaar was!

Hetty was 'n werker, sy kon werk! Ons het baie dinge professioneel saam gedoen, veral in die akademie (eers die Akademie, die SG, ATO, en toe by UNAM, maar voor dit al by UWK). Sy kon werk, selfs siekte en terugslae kon haar nie keer nie. Met volle krag het sy saam met haar wonderlike kollegas die hele vakgebied van maatskaplike werk in Namibië tot sy reg laat kom, tot reg aan die einde waar sy die dryfkrag was agter 'n gesamentlike en grootse publikasie wat hopelik binnekort afgerond sal word.

Maar sy was ook nie bang om moeilike kwessies in die openbaar, in die burgerlike samelewing aan te pak nie. Sy was vroeg reeds betrokke by die PSVRT, Project for the Study of Violence and Reconciliation, wat sy later saam met Danie Botha uitgebou het tot die PEACE Centre.

Sy was nie bang om teen die stroom te swem nie, en om moeilike politieke besluite op die koop toe te neem nie. Sy was energiek, eerlik, dapper, en sy was vir ons almal 'n voorbeeld van doelgerigte aksie, waar dit ook al nodig was.

Ons eer haar vandag vir al die dinge wat sy met soveel krag en ywer aangepak en deurgevoer het in ons geliefde land. Sy het haar deel gedoen - "Now it is up to us!" Hetty was 'n wonderlike vriend, 'n vriend van vele mense en vele tipes. Sy het 'n sagte plekkie gehad vir die "underdogs", bv. manne (en vroue) wat miskien bietjie grof was, maar ook liefde en vriendskap nodig gehad het.

Oorlede regter Bryan O’Linn het groot waardering vir Hetty se regsinsigte en opinies rondom moeilike hofsake gehad, maar sy kon hom ook reguit aanpak as dit nodig was, Saam met Mielja Magobolelo het sy vir Jean kom kuier ná haar groot operasie. Haar vriendskappe het oor alle grense heen gestrek, en was baie kosbaar.

Ten slotte moet ons dit duidelik stel dat Hetty se wonderlike loopbaan en lewe gedra was deur haar onwrikbare geloof. Sy was 'n diep gelowige mens en sy was baie openlik daaroor, sy het dit ten volle uitgeleef. Ek sal nooit vergeet nie hoe sy tydens 'n kuiertjie by Bryan op die plaas ingegryp het en self eers die tafelgebed gedoen het: “A nee a, ons kan dit mos nie sonder 'n dankgebed doen nie!” Ons dank vandag die liewe Heer vir so 'n liewe mens wie se lewe sovele van ons so diep geraak het. Dankie Hetty, dankie liewe Heer.

(Prof. Christo Lombard)

Grysblokkie:

Dr. Hetty Rose-Junius se verassingsdiens vind Saterdag (27 Januarie) in die Saviours Church in Walvisbaai plaas. Die kerk is in Cremation-straat geleë en die diens begin 08:30.

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!