Voel tuis Op my Stoep

‘Volg jou droom en doen dit voluit’
Fanie Smit se passie was nog altyd spyseniering en gasvryheid en hy het van jongs af 'n liefde vir kosmaak.
Tanja Bause
“Die hoogtepunt in my lewe was toe ek uiteindelik ná vyf jaar se onderhandelinge met Namdeb toestemming gekry het om ’n lodge by die ou perdeklub te kan open,” het Fanie Smit (68), die eienaar van Op my Stoep in Oranjemund, gesê.

Fanie, of Esteban Alberto Smit, is in die Argentynse stad Trelew in die Chubut-provinsie gebore.

“My ouma en oupa het in 1902 na Argentinië geëmigreer. My pa, sy broer en suster is daar gebore. In 1928 het die Suid-Afrikaanse regering aangebied om boere wat wou terugkom te help. My pa werk toe in die Kaap en in 1936, toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, toe word al die jong mans opgeroep om oorlog toe te gaan.

“My ouma en oupa het besluit om terug na Argentinië te gaan, want hulle het nie kans gesien vir ’n derde oorlog in hulle leeftyd nie. My pa het my ma in die Kaap ontmoet. Hulle is getroud en twee dae later het my pa en sy familie teruggekeer na Argentinië. My ma het drie maande later met die volgende skip gevolg. Sy was oorspronklik van Warmbad.”

Fanie se ma het een keer vir die familie in die destydse Transvaal gaan kuier. Sy pa is in 1965 oorlede en sy ma het besluit om terug Suid-Afrika toe te gaan.

“My ma het in 1970 – toe ek 17 jaar oud was – besluit om terug Suid-Afrika toe te gaan en ek het saamgegaan. In die middel van 1971 het my ma by die Keetmanshoop-ouetehuis werk gekry en ons het soontoe getrek.”

Fanie het Windhoek toe getrek om sy ambag as ’n outo-elektrisiën te voltooi. In 1980 het hy in Oranjemund as ’n outo-elektrisiën aansoek gedoen.

“My eintlike passie was spyseniering en gasvryheid. Ek was al van jongs af baie lief vir kosmaak. Ek het in 1988 met spyseniering by die Off-Road Klub begin. Toe het ek die Desert Inn Restaurant gekoop en die naam na die Don Esteban Steakhouse & Bar verander.”

Nadat hy dié restaurant verkoop het, wou hy ’n restaurant open wat ook akkommodasie aanbied.

“’n Plek wat ’n luukse en tog ’n gesinsgeoriënteerde ervaring vir mense bied.”

OP MY STOEP

Die oorspronklike gebou is in 1971 opgerig, maar is as die perdryklub gebruik, waar alle perde- en perdry-entoesiaste bymekaar sou kom.

In 2006 is die Op my Stoep Lodge op die ou gimkana- en skouspringgronde gebou, met die restaurant en kroeg wat vroeër opgerig is.

“My seun, Mauricio, het die naam uitgedink. Hy en sy vrou, Shola, is nou ook aan die stuur van Op my Stoep nadat ek afgetree het en saam met by vrou Hentiesbaai toe getrek het. Mauricio en Shola is beide lief vir kook en trots op goeie diens. Hulle is reeds besig om te woeker en ons kan met ’n geruste hart aftree.”

Die spyskaart van Op my Stoep is deur die Suid-Amerikaanse en Suid-Afrikaanse kookkuns geïnspireer en die Argentynse steak, ofte wel Asado, is beslis ’n probeerslag werd.

“Ek hou die meeste daarvan om ’n lam te spitbraai,” het Fanie gesê.

KEPPE

In die restaurant en kroeg hang 2 370 keppe teen die dak, en in die stoorkamer is nog agt swart vullissakke vol keppe.

“Hulle sal nie nou opgehang word nie omdat ons die restaurant wil vergroot, dan sal dit eers opgehang word. Daar sal dan meer as 4 000 keppe van die dak afhang.”

Toe hy met die restaurant begin het, het Fanie ’n paar keppe opgesit en ’n reël gemaak dat daar ná 19:00 keppe nie in die restaurant of kroeg toegelaat word nie.

“Ek het dit afgevat en opgehang. Baie van die mense het ook hulle keppe afgehaal en op die stoel langs hulle neergesit, dan gaan hulle sonder die kep huis toe. As hulle die volgende keer navraag doen, dan het ek net dak toe gewys.”

Nadat die kamers aangebou is, het menige toeriste gekom en hulle keppe vir Fanie gegee.

“Die idee het so uitgebrei; daar is nou keppe van oraloor die wêreld teen die dak. Baie het ek self gekoop, maar talle het mense gelos. Ek het ook oor die jare menige keppe van oraloor deur die pos ontvang.”

HENTIESBAAI

Fanie het ’n huis op Hentiesbaai gekoop en besluit om daar af te tree.

“Dit is immers lekker by die see. Sedert my aftrede het ons al verskeie kere op toer gegaan. Ek het egter besluit ek kan nie net sit en niksdoen nie.

“Ek het besluit om iets toe doen waarvan ek hou en waarvoor ek baie lief is. Ek het ’n kostrok gekoop en begin. My kleindogter se vriend het dit ‘Beforkte Bites’ genoem en ek is nou besiger as ooit.”

Beforkte Bites bedien onder meer ontbyt, geroosterde toebroodjies (toasties), wraps, slaaie, burgers, hoender en geregte wat deur Namibiese kookkuns geïnspireer is.

“Ek kyk na bo en gaan waar die Here se wil my vat. My raad aan mense is wanneer jy ’n idee het en jy glo dit kan werk, volg jou droom en doen dit voluit.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!