Vrou met ’n hart vir haar medemens

Reeds 15 jaar by Huis Acacia
Maggie Kotze het vroeër jare skoolgehou en 'n koffiewinkel bestuur, maar sy het uiteindelik haar roeping by CAN se tussentydse tuiste vir kankerpasiënte gevind.
Iréne-Mari van der Walt
“Mense is ingestel daarop – die oomblik as jy ‘kanker’ hoor hoor jy ‘dood’ en dis nie die waarheid nie. Daar is mense wat by ons kom kuier wat 20 of 25 jaar gelede met kanker gediagnoseer is wat nog steeds lewe. Ons probeer die ‘dood’ uit kanker haal,” sê Maggie Kotze wat reeds die afgelope 15 jaar die matrone by die Kankervereniging van Namibië (CAN) se tussentydse tuiste vir kankerpasiënte, Huis Acacia, is.

Maggie was eers ’n onderwyseres voor sy ’n koffiewinkel bestuur het. Hiér het sy vir Reïnette Koeglenberg, die voormalige uitvoerende hoof van CAN, ontmoet.

“Gedurende dieselfde tyd het ek ʼn paar familielede aan die dood afgestaan weens kanker. Ek het toe met Reïnette in verbinding getree en gevra as daar ʼn pos by Huis Acacia oopgaan, moet sy my laat weet, want ek sal graag aansoek wil doen. Ek het ’n begeerte gehad om met kankerpasiënte te werk ná wat ek met my geliefdes deurgemaak het. Ek is passievol oor hierdie siek mense,” sê Maggie.

Kort voor lank het CAN haar gekontak toe die vorige matrone by Huis Acacia afgetree het.

“Ek het daarna nooit weer gewerk nie, want ek lewe my passie uit. Vyftien jaar later, en hier is ek steeds by Acacia,” sê sy.

Maggie sê die algemene vrees onder pasiënte is om dood te gaan.

“Baie kere wanneer die pasiënte hier aankom, vra hulle of hulle gaan doodgaan? Ek sê dan ja, en dan sien jy die geskokte uitdrukking op hulle gesigte. Dan verduidelik ek dat almal van ons gaan doodgaan, maar jy gaan nie noodwendig aan kanker doodgaan nie – jy kan van baie ander dinge doodgaan. Ek wat nie kanker het nie, kan byvoorbeeld oor die pad loop en ’n motor kan my raakry,” sê sy.

“Dit is egter vir my die lekkerste wanneer pasiënte gesond word. Ek kan in Namibië enige plek gaan en iemand sal my erken en hulle arms om my kom sit. Om pasiënte weer raak te loop ná hulle van kanker genees is en hulle vou hulle arms om jou om dankie te sê, dan besef jy dat jy tog iets beteken,” sê sy.

Maggie verduidelik Huis Acacia bied nie net verblyf aan kankerpasiënte wanneer hulle behandeling ontvang nie, dis ook ’n plek waar pasiënte deur mense omring word wat hulle verstaan en ’n plek waar hulle sonder vrees kan praat.

“Talle pasiënte voel hulle kan met ons praat en dan luister ek net. Wanneer hulle klaar gepraat het, sê hulle dankie hulle voel beter, maar jy het eintlik niks gedoen nie. Hulle kan nie altyd oop gesprekke met hulle vriende en familie hê nie, want die geliefdes is bekommerd, maar met jou kan hulle openlik oor hul vrese praat,” sê sy.

Diegene wat reeds in remissie is help ook uit by Huis Acacia om pasiënte moed in te praat.

“Hulle sê altyd hulle het gedink hulle is die siekste mens, maar dan kom hulle hier en besef daar is altyd iemand sieker as hulle,” sê sy.

Sy sê ook dat Huis Acacia hoop aan pasiënte bied.

“Baie kere woon mense wat vir hul opvolgbesoeke kom ook hier. Dié mense is reeds genees en hulle praat dan met die pasiënte en dit gee hulle hoop. Ons kry baie ouer mense wat vrede in hul harte het en sê hulle is nie bang om dood te gaan nie, maar ons hardste vegters is ma’s met jong kinders. Hulle wíl veg en wíl aanhou lewe vir hulle kinders,” sê Maggie.

“Dit is baie rustig hier – die pasiënt kan eet en slaap wanneer hulle wil – daar is nie ’n roetine nie. Dit is nie soos om by familie te kuier waar hulle ’n roetine moet volg nie,” sê sy.

Haar grootste wens is dat pasiënte kankervry is.

“My wens is net kom, word gesond, gaan terug na jou mense toe en kom weer terug – hulle doen dit nie altyd nie. ’n Pasiënt moet in die jare ná die diagnose vir hul opvolgafsprake kom,” sê Maggie.

Sy raai aan dat diegene wat reeds kanker gehad het en hul nabye familie vir gereelde doktersbesoeke gaan.

“Gaan elke jaar dokter toe. Die oomblik as jy vroeg gediagnoseer word, is jou kanse op herstel baie beter – moenie wag dat jy siek word nie,” sê sy.

CAN het onlangs aangekondig dat Huis Acacia nou sewe dae per week oop sal wees, waar dit voorheen van Sondagmiddae tot Vrydagoggende oop was, en Maggie is vasbeslote om dié uitdaging aan te pak.

“Dis ’n groot stap, maar ons pasiënte neem geweldig toe. Die staatspasiënte raak nou so baie dat hulle op Saterdae en Sondae ook moet behandeling gee – so ons moet daarby inval. Dit is nuwe aanpassings en nuwe dinge, maar ek glo ons sal dit regkry,” sê sy.

Maggie moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak waar hulle kan.

“Nou dat ons meer pasiënte het, raak ons kostes ook meer. Jy dink dalk nie so nie, maar selfs ’n pakkie rys gaan help. Wanneer ons geldinsamelings hou, koop die appels, ondersteun ons projekte, koop die kolwyntjies. Tien dollar is dalk nie baie vir jou nie, maar ’n klomp tien dollars bymekaar kan ons help om ’n verskil te maak. As iemand hier verbyry en kom aanklop en sê hulle het vir ons ’n sakkie aartappels, is ons altyd so dankbaar,” sê sy.

Diegene wat selfs net hul tyd kan afstaan om geselskap aan die pasiënte by Huis Acacia te bied, is ook welkom.

“Kom kuier vir ons mense – enigiemand kan kom aanklop en sê hulle het kolwyntjies gebring, kom ons maak koffie – dit is vir hulle so lekker om iemand van buite af te kry,” sê sy.

“Baie pasiënte kom hier aan dan vra hulle wat is die besoektye, want hulle het so baie mense wat vir hulle wil kom kuier. Ons sê dan dat ons nie sulke dinge het nie – hierdie is nie ’n koshuis en ’n hospitaal nie – jou mense kan vir jou kom kuier. Dan gaan die tyd verby en niemand kom kuier nie,” sê Maggie.

“Ek moes al talle kere hierdie mense se geliefdes vra hoekom hulle nie kom kuier nie, dan is hulle woorde: ‘Wat moet ons vir hulle sê?’ Daardie persoon het nie verander nie, dis presies dieselfde mens. Wat sou jy vir hulle sê as hulle nie kanker gehad het nie? Jy kan dit vir hulle sê. Kanker is nie aansteeklik nie – kom kuier vir hulle, kom ondersteun hulle. Al kan jy net een dag hier kom koffie drink en net vars geselskap bring, kom kuier vir hulle.”

Maggie vertel van ’n pasiënt wat op sy 75ste verjaardag geen besoekers gekry het nie.

“Hier was ’n oom wat 75 geword het en ek kon sien die oom was dié dag nie lekker nie. Ek het my man gebel en gesê hy moet onmiddellik ’n koek koop en Acacia toe kom. Hy het toe so gemaak en almal het die oom se verjaardag saam met hom gevier. Hy het ure lank gesels en almal het saam koek geëet en gekuier,” onthou sy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!