NO WORD: /Kunda //Asa has gone completely mute after giving birth four months ago.
NO WORD: /Kunda //Asa has gone completely mute after giving birth four months ago.

Vrou raak stom ná bevalling

Haar stilte spook by my, sê man
'n Plaaslike sielkundige sê vroue kan stom raak ná bevallings indien die geboorte besonders stresvol was.
Iréne-Mari van der Walt
Limba Mupetami – Sowat 50 kilometer buite Tsumkwe, in ’n klein dorpie Chivekua, sukkel ’n familie om tot verhaal te kom nadat hul dogter, suster, ma en vrou heeltemal stom geraak het ná sy drie en ’n half maande gelede geboorte geskenk het.

/Kunda //Asa (29) is bekend vir haar aansteeklike lag en haar liefde vir dans en sing en om stories om die gemeenskaplike vuur te vertel.

Maar haar kenmerkende sonskynpersoonlikheid word nou deur swaarmoedigheid vertroebel sedert sy op 3 Oktober verlede jaar ná die geboorte van haar derde kind haar stem verloor het.

Die mediese dokumentasie wat haar man /Ui ronddra, bied geen klaarheid oor die oorsaak nie. Intussen word haar man depressief as gevolg van haar toestand.

Hy sê hulle het reeds die Omaruru- en Swakopmund-staatshospitaal besoek om uit te vind hoekom sy nie meer kan praat nie.

Aangesien hulle hiér geen antwoorde gekry het nie, het /Ui besluit om haar terug na Tsumkwe te neem, waar haar ouers woon, met die hoop dat haar toestand sal verbeter.

BESORGD

Terwyl /Kunda se familie besorgd is oor haar, sit sy soos ’n klipfiguur en staar voor haar uit.

“Ons harte voel nie goed nie. Miskien sal ons haar môre kerk toe vat om te kyk of ons kan uitvind wat fout met haar is,” het haar pa, Cwi Di, gesê.

In ’n kultuur wat diep gewortel is in gemeenskaplike ondersteuning, trek /Kunda se man en haar familie om haar saam terwyl haar man melk vir hul baba, wat so lig soos ’n veertjie en so groot soos ’n 750 ml-bottel is, voorberei.

Ten spyte van die bykomende verantwoordelikhede om na sy vrou en drie jong kinders om te sien, is /Ui vol vertroue dat sy vrou weer sal praat.

“Ek wil haar na die kliniek hier op Tsumkwe neem sodat hulle vir haar ’n inspuiting in haar arm kan gee om haar stem terug te bring,” sê hy. Hy glo hierdie is die enigste manier om haar te genees.

/Ui het aan Republikein se susterkoerant Namibian Sun gesê dat hy haar bad en vir hul gesin kosmaak sedert die beproewing begin het, dit terwyl hy probeer om ’n paar woorde uit haar te kry. Hy voeg by dat hy nie hierdie take as ’n las beskou nie.

“Dit is haar stilte wat by my spook, niks anders nie. Sy kyk net vir my dan kyk sy grond toe en dit is hoe sy die hele dag sit. Ek moet haar soms skud om die huilende baba te borsvoed. Ek is nie seker of sy die baba hoor huil nie,” sê hy.

STRESVOL

’n Plaaslike sielkundige dr. Shaun Whittaker sê vroue kan stom raak ná bevallings indien die geboorte besonders stresvol was en dat hoë angsvlakke tot ’n magdom probleme kan lei.

Hy verduidelik dat vroue hul stemme vir ’n dag of twee, of selfs langer, kan verloor. Hulle kan selfs ook blind word of die vermoë verloor om een van hul hande vir ’n paar dae te gebruik.

“In die ou dae is dit histeriese spraakverlies genoem. Deesdae word dit ’n neurologiese versteuring genoem. Dit beteken eenvoudig dat een van die neurologiese funksies in die liggaam nie goed funksioneer nie as gevolg van ’n stresvolle gebeurtenis.”

Hy het bygevoeg hierdie toestand is gewoonlik tydelik en hy hoop dat //Asa binnekort weer sal kan praat.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!