Ystervrou van Okahandja
Ouma Lena vier môre 99 jaar
Haar hande en goedhartigheid het nooit vir niks teruggestaan nie.
“Ek is nou al so oud dat ek nie meer kan werk nie. Al werk wat ek nog kan doen, is om met my mond te werk.
“My werk begin soggens vyfuur, dan bid ek vanaf Oshakati en kom so af na Grootfontein, Tsumeb en Otjiwarongo en so bid ek vir almal. Wanneer ek by Okahandja aankom dan gaan sluimer en rus ek weer bietjie. Wanneer ek daar wakker word, spandeer ek ’n halfuur met die Meester om my kinders en familie op te dra en dan vat ek die gebed verder af Windhoek, Rehoboth, Mariental tot na die verre Suide...
“Tussendeur sing ek, wanneer die eensaamheid my vat,” vertel Ouma Carolina Bezuidenhoudt, of Ouma Lena soos sy liefdevol deur haar familie en vriende genoem word.
Ouma Lena vier Saterdag haar 99ste verjaarsdag saam met haar familie op Okahandja.
Sy is op Aroab gebore en sy het op Stampriet, Witkrans en Mariental grootgeword en skoolgegaan.
“My ma kon nie praat of hoor nie. Omdat ek die oudste in die familie was, het my ouma my geleer hoe om met my ma in gebaretaal te kommunikeer.”
Sy het nie skool klaargemaak nie, omdat sy haar ma versorg het.
KINDERJARE
Ouma Lena was 12 jaar oud toe die familie op ’n plaas agter Stampriet gewoon het. Haar pa Paul Paulsen het daar gebou.
“Die man wat saam met my pa gebou het, het toe op ’n dag verdwyn en ek het my pa se handlanger geword.”
Haar pa was ’n klipmesselaar wat met natuurlike klippe gebou het. Hy het die klippe na die bouperseel gebring en hulle daar geslyp sodat hulle in en op mekaar pas.
“Ek het die klippe vir hom aangedra tot waar hy hulle nodig gehad het. Ek het baie swaar gekry. Ek was moeg. Ek was mos maar nog net ’n kind en my arms en bene het gepyn.
“Ek het gehuil en vir my pa gesê ek wil nie meer nie en hy het net gesê: ‘Kom my kind, jy weet ons het nie mense nie; jy moet my help’.”
Klippe aandra was egter nie haar enigste taak nie. Sy het ook die sement in ’n emmer met ’n draadhandvatsel aangedra.
“Dit was baie swaar en ek het later die emmer agter my aangesleep. Ek het ’n baie diep sloot gesleep. Ek het die sement tot by hom gesleep en in die monokopot gegooi sodat hy kon bou.”
Ouma Lena onthou die dag toe haar ma vir haar koffie gee wat sy na haar pa toe moes vat.
“Ek het gesien hoe swaar weer opsteek, maar ek het die koppie gevat en geloop. Toe ek by pa aangekom het, het die reën begin val. Baie reën en water wat so geloop het. Ek het gehuil, want dit was bitterlik groot reën en ek was bang ons kon nie by die huis uit kom nie.
“My pa het sementsakke uitgeskud en oor my kop getrek en gesê ons moet hardloop, maar my bene wou nie beweeg nie. Die water was te veel en ek was te bang om weg te kom. My pa het my toe opgetel en huis toe geabba.”
Ook haar man was ’n bouer wat veral op Okahandja, Hochfeld en omgewing gebou het. Haar seuns is die bekende Bezuidenhoudt-bouers wat bykans die hele Okahandja gebou en ontwikkel het.
“Wanneer jy in Okahandja inry en jy sien die woonstelle en geboue met die blink dakke, dan kan jy weet dis deur my seuns gebou.”
PAULSEN
Haar pa Paul was oorspronklik vanaf Suid-Afrika. Eers ’n paar jaar gelede het Ouma uitgevind dat haar pa eintlik ’n Indiër was.
“Ons het dit nooit geweet nie. Sy mense het ons rondgesoek en in die biblioteek in ou rekords gaan rondkrap en vir ons gekry. Die man het met my kom praat en my van my pa vertel.”
Paul en sy suster het op ’n dag baklei en Paul het ’n skêr gevat en haar daarmee gegooi. Die skêr het in haar been vasgesteek en hy het geskrik en weggehardloop. Hy het langs die pad gestaan toe ’n Duitse man hom ’n saamrygeleentheid gegee het. Toe hy hom kom kry, was hy in Lüderitz. Die man het vir hom klere en komberse gekoop en gevra of hy kan werk.
“My pa was toe 17 jaar oud en hy het gesê hy kan werk. Die man het hom na ’n halfgeboude huis gevat en gesê bou verder.
“Familie van my ma het ook daar begin bou en hulle en my pa het van een bouprojek na die ander gereis en orals gebou. Dis hoe my ma en pa ontmoet het. Hoe hulle mekaar verstaan het, weet hulle allenig. Al wat ek weet, is dat my pa nooit sy hand vir my ma gelig het nie.”
DONKIE
Ouma sê haar wangbeen, waar die donkie haar raakgeskop het toe sy ’n kind was, pyn soms nog bietjie.
“Op ’n dag het ’n man by die plaas aangekom en gesê hy en my pa gaan soek die gemsbok wat deur die boer gekwes is. Hy het sy donkiekar vol brak laat staan en gesê wanneer hy al die brak verkoop het, sal hy vir my baie lekkers gee.”
Die man is weg en dit was nie lank nie toe haar ma vir haar beduie dat die donkie besig is om die brak te vreet.
“Ek het hom met my riempie geslaan en hy het my geskop dat ek doer loop val het. Ek het val-val opgestaan terwyl ek in my bloed smoor. Ek is na my ma toe terwyl sy wasgoed gewas het. Daar het ’n pot met kookwater gestaan en sy het van die water geskep en dit op my kop uitgegooi, toe brand sy nog my kop ook.
“Die bloed het gestroom en my gesig het opgeswel dat dit so staan.”
’n Ouerige Damaraman het by hulle opgedaag en het haar met haar opgeswelde gesig gesien. Hy het haar gevra wat gebeur het, omgedraai en in die veld ingeloop. Hy het teruggekom met ’n wortel wat hy in die kole by haar ma se warm water gedruk het.
“Hy het dit uitgehaal en die swart met ’n mes afgekrap. Toe dit skoon was, het hy die wit van die wortel afgekrap en met ’n klip fyn gemaal. Hy het die poeier in ’n ou sokkie gesit vir my gegee en gesê snuif. Ek het paar keer gesnuif en toe begin my trane loop en ek nies en nies totdat die bloed gespat het.
“Die man het gesê ek moet aanhou snuif totdat die bloed nie meer rooi is nie en dan sal ek gesond wees. Ek het dit gedoen totdat daar net blink water uitgekom het en hier vier ek binnekort my 99ste verjaarsdag.”
OUPA ADRIAN
Sy en wyle Adrian Bezuidenhoudt het in 1945 in Mariental in die huwelik getree.
Op ’n Sondag in 1989 is Oupa Adrian aan ’n hartaanval op die plaas Ahelu in die Gobabis-distrik oorlede.
“Die kinders was almal kerk toe en ek en my oudste suster het agtergebly. Adrian het voor die pakkamer gaan sit en my suster het my geroep dat ek kan gaan kyk wat hy doen. Hy het met sy kop onderstebo gesit en met sy kierie in die sand geteken terwyl hy gesing het. Hy het nie gepraat nie.”
Dieselfde aand het hy gekla van ’n pyn agter sy blad en toe gesê dit was seker maar net ’n wind en hy het gaan slaap.
Die Sondagoggend het hy vroeg opgestaan en na die twee ramme gaan kyk wat sy seun gekoop het. Ouma Lena het nog geslaap. Sy het kort tevore ’n groot operasie gehad en was nog aan die herstel.
Hy het ook na die landerye wat vars geplant was gaan kyk.
“Ek het hom gaan soek en hom gekry waar hy weer besig was om in die sand te skryf en terwyl hy sing. Ek het vir hom tee gegee en is terug kombuis toe, want dit was Sondag en dan maak ons mos baie kos.
“Nadat ons geëet het, het ons gaan lê. Ek het wakker geword met ’n harde steungeluid langs my. Ek het geskrik en was deurmekaar geslaap. Hy het regop gesit en gesteun en agteroor geval.
“Ek het my suster geroep en ’n koue lappie op sy gesig gesit. Hy het flou geval en ek het besluit om na my kinders se plaashuis toe te loop om hulle te bel.”
Ouma Lena het so vinnig geloop soos haar operasiewond haar toegelaat het. Saam met haar was ’n San vrou.
“Ons het voor ’n draad te staan gekom en sy het gesê ek sal jou oor help. Ek het gedink die vrou is heeltemal te klein en sy het ’n kind op haar rug, maar die volgende oomblik het sy haar tjalie afgehaal, haar kind op die vloer neergesit en voor die draad gaan staan. Trap hier vat daar en klim, ek sal jou nie lat val nie. Ek het haar om haar nek vasgegryp en is oor die draad.”
Die twee vroue het skaars oor die draad geklim toe hulle ’n trekker gewaar.
“Die Boesman het die trekker gevat en ons kom haal. Ek weet tot vandag toe nie hoe hy geweet het ek moet by ’n telefoon uitkom nie. Hy het aan die binnekant van die draad geskop en ons was aan die buitekant. Dit het beteken ek moes weer terug oor die draad klim. Ek het gedink jinne, die dood is darem vandag met my besig, en met die help van die Boesmanvrou is ek weer terug oor die draad en op die trekker en ons is weg huis toe.”
By die huis aangekom het hulle agtergekom alles was gesluit. Net die toilet se venster en diefwering was oop. Voor die venster het ’n drom gestaan.
“Nie een van die Boesmans wou deur die venster klim nie en hulle het toe ’n Damaraseun geroep. Dit was egter ’n yslike kind en ek het nie geweet hoe die kind daar sal deurkom nie. Hulle het hom op die drom laat staan en sy kop deur die diefwering gedruk, sy arms deurgedruk en toe vou hulle sy skouers en stoot hom deur dat hy op die toiletpot te lande kom. Hy het toe die voordeur vir ons oopgemaak.”
Teen daai tyd was ouma Lena al so moeg, haar wond het oopgegaan en so gepyn dat sy nie die nommers op die telefoonlys kon vind nie.
“Ek kyk toe by die voordeur uit en sien iemand kom met swaaiende arms aangehardloop. Ek sien toe dit was een van die werkers wat saam met ons my die pos was en hy sê ‘Ou missies, meneer het ons gelos.”
Paul is op die plaas begrawe, maar tien jaar gelede het die familie die oorskot na Okahandja laat verskuif.
“Ons het dit gedoen om hom nader by ons te hè en sodat ek wanneer ek gaan by hom kan lê.”
KINDERS
Ouma Lena is die ma van 13 kinders. Sy het 39 kleinkinders wat nog lewe en volgens haar kan sy nie die agterkleinkinders tel nie, want hulle is te veel.
Volgens Andries en van haar seuns het sy ouers in 1995 in Okahandja aangekom.
“My pa het gehoor daar is werk op Okahandja en dus het hulle hierheen getrek. Met hul aankoms het hulle in ’n sinkhuis gebly voordat hulle na ’n huis in Nau-Aib getrek het. Hier was niks in Okahandja toe hulle aangekom het.
“My pa het in die vroeë 1960’s twee kamers gebou waarin 80 kinders skoolgegaan het. Dit was die eerste skool hier. In die kamers is ook die eerste kerk gestig. My ma het bidure gereël en gehou. Sy het basaars gereël en die kerk aan die gang gehou. Dit was die eerste kerk in ons gemeenskap.”
Eric Bezuidenhoudt, haar jongste seun, het toe hy sewe maande oud was polio gekry.
Hy vertel: “Ek was in en uit die Katutura hospitaal en het baie min van my baba-, kinder- en jeugjare gehad. Eers op tienjarige ouderdom het ek my ouers, broers en susters regtig leer ken.”
Hy beskryf sy ma as ’n godvresende vrou.
“In die aande het ons rondom haar bed gaan sit en gesing, Bybel gelees en gebid. Sy het kerk toe gegaan totdat haar kragte dit nie meer toegelaat het nie.
Volgens dogter Jeanny van Rooyen is Ouma Lena die beste ma in die wêreld.
“Sy is baie saggeaard en liefdevol, nie net teenoor haar kinders nie, maar teenoor almal wat sy ken en teenkom. Uit haar straal net liefde. Ons is 13 kinders en nie net ons nie, maar die hele famille en gemeenskap het deur haar hande gegaan.”
Dogter Anna-Marie Bezuidenhoudt is ewe trots op haar hardwerkende ma wat kruiwa gestoot, monoko gemeng, koeie gemelk en karakoelvelle gespalk het.
“Haar hande en hart was nog altyd oop vir die gemeenskap en familie. Wanneer iemand kom kos vra het, het sy gegee.”
DIE HONDERD
Op die vraag of Ouma 100 jaar oud wil word, het sy die volgende gesê: “Jinne, ek wil nie so oud word nie.
“Die wêreld is ’n onsmaaklike plek. Laat ek maar liewer gaan en nie die onnodige goed sien nie, maar as hy my nog ’n jaar wil gee, dan sal ek maar baie dankie sê, maar hy kan dit nie aan my doen nie.”

Kommentaar
Hannie Liebenberg
Wat n besonderse mylpaal. U wedervaringe en stories vat my baie ver terug. n Omgee lewe :na die tipiese omstandigdhede en versorging van mekaar in siekte en nood in daardie jare waarvan ons ouers ons ook vertel het. Hulle het in Basterland geboer as kinders .God rykste seën word u toegebid.