Zarita en haar vellies
Die ergste veldbrand in 80 jaar het die middel van Oktober in die Karasberge in die suide van die land gewoed.
Duisende hektaar en infrastruktuur is verwoes, diere het vrekgebrand en mense is beseer.
Tussen dié verwoesting en skade is daar die storie van die 13-jarige Zarita Boshoff en haar vellies.
Zarita se ma, Janine, vertel haar dogter het ’n groot liefde vir diere en wil altyd help.
“Ons plaas by Aroab het nie gebrand nie, maar ons bure se plaas en die berge het wel. Gewoonlik help kinders nie met die brandbestryding nie, maar Zarita is ’n anderste een; sy moet altyd help. Sy is vreesloos en braaf.”
Volgens haar pa, Pieter, het sy skaars vanaf die koshuis op die plaas aangekom toe sy met alle mag wou gaan vuurslaan.
“Sy het vir my gesê: ‘Pappa, ons bid al heelweek vir die boere in die Karasberge, maar ons moet iets meer doen. Dit voel net gebede is leeg sonder optrede. Dit help nie ons vra net en is nie bereid om te help nie’.”
Hulle het die bakkie gereed gekry en nadat sy haar pa om 05:00 met ’n koppie koffie wakker gemaak het, het hulle vertrek om te help om die brand te bestry.
“Zarita het met die vuurvegter agterop die bakkie gespuit en as ons nie verder kon ry nie, het ons die vuur met ’n oorpakbaadjie of ’n emmer water geblus. Waar die graspolletjies nog klein gebrand het, het sy sommer die vuur doodgetrap om te keer dat dit weer vlamvat. Toe ek moeg geword het, het sy oorgeneem en self geslaan. So het ons teen die brand geveg tot 23:00 daardie aand,” het hy gesê.
Sy was die volgende dag ontsteld omdat sy terug Keetmanshoop en koshuis toe moes gaan en nie verder kon help nie.
Die volgende week het die buurplaas weer begin brand en Zarita was skaars op die plaas, toe is sy klaar weer in die span om te gaan help.
VELLIES
Die sole van haar vellies het in die vuurslaanproses gesmelt. ’n Foto van hoe sy die brand bestry, is op ’n WhatsApp-groep geplaas en haar teleurstelling oor haar vellies is gedeel.
Johanna Mattheysey het die plasing gesien.
“Toe ek die foto sien het dit onmiddellik my hartsaak geword. Ek het dit met my twee dogters gedeel. My een dogter werk vir Engen 1 Stop op Mariental en hulle het gesê: 'Gaan koop nuwe vellies in Windhoek. Ons skenk dit.’ Ek het die vellies vir haar na die koshuis op Keetmanshoop gestuur.”
“Ek het laas naweek weer my vellies aangetrek om weer met brandbestryding te help. Toe het ek agtergekom my voete kry baie warm omdat die skoensole gesmelt het. Ek het hulle net natgespuit en aangegaan. Ek was glad nie bewus dat mense besig is om nuwe vellies vir my te kry nie. Ek het skool toe gegaan en die skoene daar gekry. Ek was so bly. Hulle is verskriklik mooi en ek is baie lief vir my vellies. Ek was baie hartseer dat my ou vellies stukkend was, maar nou het ek splinternuwes,” vertel die meisie.
Volgens Zarita was dit vir haar ’n groot eer om met die brandbestryding te kon help.
“Ek kon ’n bydrae lewer en dit was vir my ’n groot voorreg om die boere te kon help. Ek wil eendag ’n boervrou wees en dan hoop ek wanneer dit op my plaas brand, sal die ander boere my kom help. Ons moet mekaar help en ondersteun.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie