‘Ek wil ’n brug tussen normaal en doof bou’
Henriette Lamprecht - Vir die eerste keer lag haar dogter uit haar keel. ’n Lag wat nie vasgevang is nie, maar wat oopgebreek het.
“Dis soos ’n dop wat oor haar oopgebreek het. Dis amazing om hierdie bevrydende lag uit my kind se keel te kan hoor.”
So vertel Alta Kotze van Otjiwarongo oor haar Chantel wat verlede jaar ná meer as drie dekades van stilte soos die dood en danksy twee suksesvolle kogleêre inplantings ook dit kan hoor wat ander as vanselfsprekend aanvaar.
Die mooi vrou met die sielvolle oë vertel op haar beurt sy het nou meer selfvertroue en is ’n “nuwe ek”.
“Dis ’n wonderwerk van God, Hy het my hart oopgebreek. Dit kom van die Here wat die mense gestuur het,” sê Chantel.
Sy wil getuig wie sy is en dat sy normaal en goed genoeg is.
“Ek wil vir die hele Namibië sê moenie my afskryf nie, moenie as iemand doof is, hom afskryf nie. Ek wil ’n brug tussen normaal en doof bou,” sê Chantel.
Sy het voorheen nie selfvertroue gehad nie, erken sy en ook nie baie vriende nie.
“Mense dink as jy doofstom is, is ek dom. Ek het probeer uitreik, maar het maar net weer onttrek.”
Jare gelede het die prediker Angus Buchan toe sy 16 jaar oud was ná ’n diens na haar toe gekom en vir haar gesê “die Here gáán jou laat hoor!”.
As ma het Alta angstig verwag dit sou dadelik gebeur, maar dit sou jare neem voordat die belofte vervul sou word.
“Ons moes eers die pad stap om dit te kon ontvang. Hy is die God van genesing en Hy wil hê sy moes gesond word, maar op Sy tyd,” sê Alta.
Dit was ’n uiters pynlike en so dikwels eensame pad wat hulle as gesin tot hier moes stap. Wanneer hulle kuiergaste gehad het, het Chantel altyd verlore in geselskap gevoel, omdat sy nie almal se lippe kon lees nie. Dan het Alta altyd gewonder “voel my kind eensaam en alleen in haar eie huis?”
Maar die hand van God loop soos ’n fyn draadjie deur elke sin van ma en dogter wanneer hulle emosioneel getuig vanaf die dag wat N$500 000 in ’n kort tydperk vir een inplanting ingesamel moes word.
Die “koektannie” van Outjo wat naamloos inspring en begin bak en verkoop, ’n buffeljag wat N$130 000 insamel, N$50 000 wat “skielik een nag” inbetaal word, skenkings van so ver as Rusland. En toe dr. Stefan van der Westhuizen, die plaaslike oor-, neus- en keelchirurg, die narkotiseur en die Lady Pohamba Private Hospitaal (LPPH) hul koste vir hul dienste vir die eerste inplanting terug in Chantal se rekening plaas, het dit beteken sy kan ’n tweede inplanting kry.
Van der Westhuizen is tydens die operasie deur ’n Sweedse spesialis bygestaan wat ook net vir daardie tyd in Namibië was. Aangesien Chantel nog te kort op haar ouers se mediese fonds was, is geen van die koste van die inplantings gedek nie en moes Alta en Danie die koste van die MRI-skanderings voor die operasie ook self dek.
“Ons het nie geweet waar die geld vandaan gaan kom nie. Ek het elke oggend vir die Here gevra om dit vir ons oop te breek. Jy voel jy faal jou kind, want jy kan dit nie betaal nie. Jy is bang dit kom nie en jy word teleurgestel. Dis asof jy na ’n toneel kyk en jy sien jouself daarbinne, maar jy is nie, dit voel soos ’n vakuum ,” vertel Alta.
Die reaksie en ondersteuning was egter “fenomenaal” en skielik het “ons nie woorde gehad nie”.
“Mense wat ons kind nie eens ken nie, het net gegee.”
Die oggend wat sy moes gaan dat die apparaat ná twee weke aangeskakel word om uiteindelik te kon sien of die inplantings ’n sukses was, het Chantel gebid dat God haar sal bestuur.
“Ek het gesê ‘ek glo, ek vertrou’. Ek het gevra Hy moet my kalm en positief hou,” vertel sy.
Sy was rustig toe sy aanvanklik niks in die spreekkamer ná die aanskakeling hoor nie. Maar toe kom die “vreemde geluide” – ’n motor, die lugversorger, haar ouers se stemme. En pa Danie wat sy neus blaas!
“Ek sal nooit haar gesig vergeet nie,” vertel Alta.
“Haar dogter hoor haar eerste klank en dit is haar pa wat sy neus blaas! Ek het nogal gedink God het ’n humorsin!”
Sy het nie soos haarself gevoel nie, sê Chantel.
Sy wou huil oor die baie vreemde geluide, het deurmekaar gevoel en kopseer ontwikkel.
“Ek het vreemd gevoel en nie soos ek nie, ek het gesukkel om aan te pas.”
Gewoonlik het sy met die klank af televisie gekyk, maar nou móét sy luister.
“Ek probeer en hou aan en moes aanpas, maar nou dink ek ‘wow, dis amazing’. Ek luister hoe ek tandeborsel en hoe ek eet. Die mooiste klank is die reën wat op die dak val!”
Nadat sy sedert die ouderdom van vier by die De La Bat Skool vir Dowes op Worcester was en hier haar skoolloopbaan voltooi en ’n kwalifikasie as FETA Internasionale Sjef behaal het, is Chantel, pa Danie en ma Alta nou saam onder een dak op Otjiwarongo waar sy ook by ’n plaaslike besigheid werk.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie