’n Outydse toer met ’n verskil

Skenkings aan ouetehuise op die roete
Die klassieke motors waarmee hulle ry bring nostalgie en onthou's van die verlede, asook dikwels 'n broodnodige finansiële inspuiting vir tehuise vir bejaardes.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die motors (en dalk die bestuurders?) is klassiek en saam bring die groep baie spesiale mense buiten vir die tikkie nostalgie en toeka se onthou wanneer hulle ’n ouetehuis op hul jaarlikse roete besoek en saam met die senior burgers kuier, ook ’n baie welkome en broodnodige finansiële skenking.

Die Classic Cars-sloertoer met sy klassieke motors is sedert die toer vir die eerste keer in 2022 aangepak is, nou al ’n bekende gesig op Namibiese paaie.

Vanjaar se toer het verlede Vrydag op Omaruru afgeskop waar die eerste skenking van N$10 000 by die ouetehuis op die dorp gedoen is. Vandaar het die roete gekronkel deur Okahandja, Windhoek, Gobabis, Grootfontein tot in Otjiwarongo waar die reis môre eindig. Op elk van dié dorpe word N$10 000 aan ’n ouetehuis oorhandig en tyd word saam met die bejaarde inwoners deurgebring. Op Otjinene waar daar nie ’n ouetehuis is nie, is mediese toerusting ter waarde van N$10 000 aan die kliniek oorhandig.

Simon van Zyl, wat deel van dié spesiale sloertoer is, het onderweg van Otjinene na Grootfontein per stemboodskap vertel oor die emosionele en persoonlike ervaring van almal wat deel is van die toer.

“Dit beteken vir ons baie as jy die geweldige waardering sien! Hulle is so dankbaar as ons daar aankom met hierdie donasie wat so ’n noodsaaklikheid is om ’n gaatjie toe te stop,” vertel Simon.

Die vreugde was net so groot tydens hul stop by die kliniek op Otjinene waar die sloertoerders toerusting oorhandig het.

“Daardie mense was so verheug oor dit wat ons gegee en gedoen het, hulle was regtig baie dankbaar.”

Dit is daardie vreugde wat elke jaar se Classic Cars-sloertoer oor en oor die moeite werd maak vir elke persoon wat saamry, sê hy.

“Dit bring vreugde as jy ’n verskil in ander mense se lewens kan maak en ook ’n verskil in ons land kan maak.”

Simon vertel die sloertoer met ’n doel het in 2022 vir die eerste keer amptelik afgeskop op inisiatief van sy besigheid op Omaruru, Classic Cars. Dié jaar het ses voertuie deelgeneem en is skenkings aan ouetehuise op hul roete vanaf Keetmanshoop tot op Lüderitz gemaak.

Vir die eerste twee jaar het die skenkings uit hul eie fondse gekom, vertel Simon.

Verlede jaar het nege voertuie die Classic Cars-sloertoer aangepak en het die klassieke karre noordwaarts gedraai deur Outjo, Otjiwarongo, Tsumeb en Grootfontein waar die broodnodige skenkings (uit hul eie sak) oudergewoonte by die tuistes van die silwerjariges gedoen is.

Hierdie jaar, sê Simon het dinge bietjie verander en het die groep borge gekry wat skenkings gemaak het.

“Dit het dit moontlik gemaak om vir elke ouetehuis op die roete N$10 000 te gee.”

Volgens Simon probeer hulle om elke jaar ’n roete te kies wat nie die vorige jaar gery is nie. Die doel is ook om min of meer plekke aan die “buitewyke van ons land te dek waar ons kontak met ouetehuise kan maak”.

“Om deel te wees van die klassieke sloertyd kyk hulle na ouens met ‘classic cars’ voor 1990 om dit nostalgies te hou,” verduidelik Simon.

Die groep van agt voertuie bestaan net uit genooide gaste.

“Ons wil nie die groepie te groot maak nie, want anders raak dit onbeheerbaar. So, ons hou dit maar klein. As daar regtig ouens is wat die reis wil meemaak, kan hulle my persoonlik kontak en ons sal dan vir hulle ’n persoonlike uitnodiging stuur.”

Vanjaar se sloertoer is trots deur Suremix Readymix Concrete, B2Gold-myn,

Ohorongo Cement, Walvisbay Plant & Tool Hire, Van der Walt Logistic, Hentiesbaai Soutwerke, Bachmus Oil, Hamilton & Partners en Omaruru Shell ondersteun.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer