Aanlyn stelsel vir aansoeke om regshulp word ontwikkel

Kristien Kruger
Die direktoraat vir regshulp is tans besig om ’n aanlyn stelsel vir regshulpaansoeke te ontwikkel met die doel om dié proses te bespoedig.

Dit sal aansoekers in staat stel om hul aansoeke aanlyn in te dien vanaf enige plek in Namibië.

“Die aanlyn proses sal aansoekers in staat stel om die verkorte regshulp-aansoekvorm te voltooi, hul stawende dokumente op die stelsel te skandeer en dit op te laai,” verduidelik die woordvoerder van die ministerie van justisie, Edmund Khoaseb.

Wanneer die aansoekproses voltooi is, sal die aansoek op die regshulpstelsel geregistreer word. Die aansoek sal dan gereed wees vir ’n besluit oor of dit toegestaan of afgekeur sal word.

Aansoekers sal dan die status van hul aansoeke aanlyn kan volg eerder as om die direktoraat te bel of te besoek.

Dit sal ook aan belanghebbendes soos regters en landdroste beperkte kykregte gee om die status van die aansoek te besigtig sonder om enige vertroulike inligting van die aansoeker bekend te maak.

“Die hoofdoel van die aanlyn stelsel is om aansoeke om regshulp te bespoedig aangesien ons baie vertragings met die huidige stelsel ervaar.

“Die vertragings word veroorsaak deur eksterne belanghebbendes wat nie aansoeke binne 'n redelike tyd by die regshulphoofkantoor indien nie.

“Die aanlyn stelsel is nog in die ontwikkelingstadium en daarom is dit nie in hierdie stadium moontlik om ’n tydlyn vas te stel wanneer dit geïmplementeer en beskikbaar sal wees nie,” het Khoaseb gesê.

HUIDIGE STELSEL

Die direktoraat het in November 2022 ’n saakbestuurstelsel ingestel waardeur alle aansoeke om regshulp geoutomatiseer word.

Dit vereis egter steeds dat aansoekers hardekopie-aansoekvorms en aangehegte stawende dokumente moet voltooi wat dan deur personeel op die aanlyn stelsel opgelaai moet word.

“Aansoeke word van verskeie landdroshowe, polisiekantore en korrektiewe fasiliteite oraloor die land ontvang. Die registerbeamptes laai dan die aansoeke saam met die byvoegsels op die stelsel.”

Die stelsel skep dan ’n elektroniese lêer met sy eie verwysingsnommer en van daar af word die hele aansoekproses op die stelsel gedoen, insluitend die besluit oor die aansoek.

“Die stelsel verleen tans nie toegang aan enigiemand behalwe personeellede by ons hoofkantoor wat wagwoorde gebruik om toegang te verkry nie,” het Khoaseb gesê.

Mense met ’n maandelikse inkomste van minder as N$7 000 kan kwalifiseer om vir regshulp aansoek te doen. Dié drempel is vanjaar vanaf N$3 500 verhoog.

Die ministerie van justisie het destyds genoem dat sy begroting van N$35 miljoen vir die finansiële jaar voldoende sal wees om die verwagte toename in regshulpaansoeke te ondersteun.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer