Arbeidsgeskille word uitgerek, sê minister
Vakbonde, werkgewers minag wet
Die arbeidsminister is ontevrede oor regsverteenwoordigers wat die proses vertraag om geskille te besleg.
Die kantoor van die kommissaris van arbeid moet nog verskeie struikelblokke oorkom, veral om die alternatiewe proses van geskilbeslegting te bespoedig.
Dít volgens die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, Utoni Nujoma.
Adjunkminister Hafeni Ndemula het Dinsdag sy toespraak by ’n vergadering met belanghebbendes voorgelees.
Die minister sê die proses is spesifiek met die Arbeidswet no. 7 van 2007 bekend gestel om arbeidsgeskille vinniger, goedkoper en regverdig op te los.
Misverstande rakende die rol wat bemiddelaars en arbiters by die arbitrasietribunale moet speel, het die proses gekniehalter, sê hy.
“Dit het ten doel om geregtigheid meer toeganklik te maak deur ’n onafhanklike tribunaal vir beide werknemers en werkgewers te verseker. Dit is belangrik om te beklemtoon dat die rol van die arbeidskommissaris nie is om kant te kies nie,” brei hy uit.
“Arbiters se toekennings – soortgelyk aan hofuitsprake – is gegrond op feitelike bevindings en regsbeginsels en ’n party wat ontevrede is met die uitkoms, het die reg om aansoek te doen om die beslissing in die arbeidshof te hersien of appèl aan te teken,” voeg hy by.
Die minister sê om prokureurs en konsultante voordurend deel van die alternatiewe proses van geskilbeslegting te maak, vertraag die proses aansienlik.
“Die toenemende teenwoordigheid van regspraktisyns en konsultante het gelei tot litigasie wat sloer, fokus wat op tegniese aspekte geplaas word, gereelde versoeke vir uitstel, en ’n wanopvatting onder klaers dat aansienlike finansiële kostes aan verteenwoordiging nodig is om geregtigheid voor die arbitrasietribunale te bereik,” volgens Nujoma.
Om dié vertragings hok te slaan, probeer die kantoor van die arbeidskommissaris om meer gekwalifiseerde arbiters aan te stel, om skedulering en verhoorprosedures op te skerp, beter toesig te hou en meer interne opleiding aan te bied.
Opleiding sal spesifiek aan administratiewe beamptes vanaf 3 tot 7 Julie aangebied word, het die waarnemende arbeidskommissaris, Kyllikki Sihlahla, by die geleentheid gesê.
Volgens Sihlahla het arbiters, beleidsontleders en toesighouers reeds in November 2021 en November 2022 opleiding ontvang. Dié opleiding is deur die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) geborg en Suid-Afrika se kommissaris van versoening, bemiddeling en arbitrasie het die opleiding aangebied. Haar kantoor het in Maart vanjaar ’n toonaangewende besoek aan Suid-Afrika afgelê, voeg sy by.
Sihlahla het ook klem gelê op vakbonde en werkgewersorganisasies se gebrek aan die nakoming van verpligtinge soos uiteengesit in die arbeidswet.
Sy sê daar is 17 geregistreerde werkgewersorganisasies in Namibië en 44 geregistreerde vakbonde. Tans voldoen net nege uit dié 61, ofte wel 15%, aan die vereistes van die wet.
“Uitstaande jaarverslae moet onmiddellik by die kantoor van die arbeidskommissaris ingedien word,” het sy beklemtoon.
Sy erken ook aansienlike vertragings word in die afhandeling van sake ervaar, veral in die uitreiking van toekennings.
“Een van ons sleutelprestasie-aanwysers vir die 2023-’24-finansiële jaar is om die uitstaande sake van die vorige jare teen 31 Maart 2024 tot nul te verminder,” sê sy.
Volgens die ouditeur-generaal se verslag oor die ministerie se boekjaar tot 31 Maart 2022 – wat vandeesweek in die parlement voorgelê is – moes 72% van arbeidsgeskille besleg word, en die agterstand in uitstaande sake moes met 90% verminder word.
Net 48% van die geskille is opgelos en die agterstand is met net 51% verminder.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie